Jy werk al vyf jaar vir Eugene de Kock se vrylating. Is dit ’n obsessie? Nee. Ek is heel nugter, rasioneel en pragmaties oor De Kock se vrylating. Sy saak berus op politieke en regstegniese beginsels. Die morele regverdigheid om hom vry te laat is die komplekse kwessie wat ons hanteer.
Dit vat alles tyd.
Wat sê jou vriende en jou kollegas daarvan? Dit is ’n kontroversiële saak. Mense voel hulle word indirek geraak deur De Kock omdat hy die pyn en lyding van die verlede verteenwoordig. Daarom het hy die bynaam “Prime Evil” gekry. Hy kan nie vir alles verantwoordelik gehou word wat tydens apartheid gebeur het nie.
Hoekom juis hy? Daar is talle mense in die tronk wat glo hulle verdien parool.
De Kock is die enigste persoon van wie ek weet wat nie wegskram oor sy aandeel in die banaliteit van apartheid nie.
Ek sou nooit by sy saak betrokke gewees het as hy nie werklik verantwoordelikheid aanvaar het vir sy dade nie.
Wat van Clive Derby-Lewis? Daar is ’n wesenlike verskil tussen Derby-Lewis en De Kock. Derby-Lewis het nooit gesê “ek is jammer” nie. Hy het ook nie soos De Kock berou getoon, om vergifnis gevra en na die familie van sy slagoffers uitgereik en hulle ontmoet nie.
De Kock doen nou weer aansoek by die hooggeregshof om die besluit te hersien en tersyde te stel om sy parool te weier. Is dit nie tyd dat hy sy lot aanvaar nie? Daar is voorheen bevind dat De Kock langer in die tronk moet sit. In die jongste geval het drie regters bevind hy voldoen aan al die vereistes om vrygelaat te word.
Adv. Michael Masutha (die aangewese minister) het dit om politieke redes verwerp. Sy rede is dat die families van De Kock se slagoffers glo nie geraadpleeg is nie. Dit is verbysterend, want De Kock het alles in sy vermoë gedoen om die slagoffers te ontmoet.
De Kock argumenteer ook dat sy paroolvoorwaardes ingevolge die 1959-wet hanteer word. As die hof hom gelyk gee, wat sal dit beteken vir ander gevangenes soos hy? Daar is sowat 6 500 ander gevangenes wat geraak word. Die probleem is dat daar geen proses in plek is om uitvoering te gee aan die nuwe paroolbepalings waarvolgens slagoffers en hul families moet deelneem aan die paroolproses nie.
De Kock en ander gevangenes word hiervoor verantwoordelik gehou, terwyl dit nie hulle skuld is nie.
Behoort slagoffers in De Kock se geval nie juis groter seggenskap te hê nie?
Ons het geen probleem met die konsep nie. Slagoffers het wel die reg om nie aan die paroolproses deel te neem of te vergewe nie.
Dit kan nie die regsproses beheer nie.
De Kock het dit sy lewensmissie gemaak om die familie van apartheid-slagoffers te help. Wat het hy al reggekry? Hy word gedurig geraadpleeg oor vermiste mense en hy is nog altyd bereid om te help.
Dink jy werklik die regering wil hê hy moet in die tronk doodgaan?
Die staat gebruik onsinnige redes of skuil agter vaaghede om hom in die tronk te hou. Ons verwag dat hulle by regsbeginsels en prosedures hou, maar dit gebeur nie.
Is julle vriende?
Ons is baie goeie vriende. Ons het respek en deernis vir mekaar en ons geniet mekaar se geselskap. Hy het ’n pragtige sin vir humor en hy dink mooi oor goed.
Hy is ’n afgetrede soldaat. Hy het nie meer oorlog in hom nie. Hy sê self apartheid was ’n verkeerde oorlog.