Die WEF-ranglys is betekenisloos omdat dit gegrond is op ’n “Executive Opinion Survey”, ’n peiling onder sakeleiers wat anoniem bly.
Die sakeleiers (47 verlede jaar en 58 vanjaar) moes op die volgende vraag reageer: Op ’n skaal van 1 tot 7, hoe sou jy die gehalte van wiskunde- en wetenskaponderrig in jou land beoordeel?
Die gemiddelde punt van die peilings is gebruik om aan Suid-Afrika ’n punt van 1,9 te gee, dieselfde as dié in die Global Information Technology Report van vroeër vanjaar.
In laasgenoemde verslag is Suid-Afrika 146ste geplaas, gemeet aan die gehalte van sy onderwys.
Daar is twee probleme met dié navorsingsmetodologie.
Eerstens is geen gestandaardiseerde toetse gebruik om die gehalte van onderrig in dié lande te meet nie. Tweedens word die ranglys opgestel gegrond op ’n meningspeiling onder ongeïdentifiseerde “sakeleiers”.
Martin Gustafsson, ’n navorser in die departement van ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, sê die verslag bied geen waardevolle insig oor die gehalte van onderrig nie.
“Daar is waardevolle data in die verslag. Vir dinge soos sakevertroue is dit bruikbaar,” sê Gustafsson.
Die beste data oor opvoeding in Afrikalande kom van die Southern and Eastern Africa Consortium for Monitoring Educational Quality (SACMEQ). Dis gegrond op toetse wat in 2007 deur sowat 61 000 kinders in 15 Afrikalande geskryf is. Daarvolgens lê Suid-Afrika agtste onder dié 15 lande.
Mosambiek, Uganda, Lesotho, Namibië, Malawi en Zambië lê almal laer. Tog is hulle almal hoër op die WEF-ranglys.
Gevolgtrekking: Hoewel dit waar is dat die Suid-Afrikaanse skoolstelsel probleme het, is die WEF-verslag nie akkuraat genoeg om enige gevolgtrekking te kan maak nie.
– AfricaCheck.org