Cosatu het onlangs die Springbok-vleuel Bryan Habana, wat gister in sy 102de toets gespeel het, as voorbeeld voorgehou van hoe die kwotastelsel sou werk. “Cosatu sal Habana daaraan herinner dat hy sonder politieke druk nie die span sou gemaak het en ook nie sy reusetalent sou kon ten toon stel nie.”
Maar is dit waar?
Sedert die kwotastelsel etlike jare gelede afgeskaf is, is min vordering gemaak om swart rugbyspelers gelyke geleenthede te gee. Soos die mens se geneigdheid maar is, omring die meeste rugby-afrigters hulle met diegene tussen wie hulle die gemaklikste is. Dis dié dat daar weer kwota-vereistes gestel gaan word.
Habana het, uit ’n ryk ouerhuis, aan KES gematrikuleer en is toe na die destydse Rand Afrikaanse Universiteit. Toe ek hom iewers teen 2003 vir die Goue Leeus se o.21-span sien senter speel, het ek my nog sit en indink hoe opgedreun opskrifskrywers oor hom gaan wees.
’n Blinde man kon met ’n stok voel dat hier moontlik ’n grote op pad was. Die volgende jaar het hy so in die Curriebeker-kompetisie gepresteer dat hy as Suid-Afrika se belowendste speler gekies is. Nog voordat hy Superrugby kon speel, is Habana vir die Springbokke se November-toerspan gekies. Jake White het hom van senter af vleuel toe geskuif van waar Habana drie drieë in sy eerste twee toetse gedruk het. Jy kon hom nie ignoreer nie.
Gevolgtrekking: Hoewel daar beslis heelparty spelers is wat waarskynlik nie sonder die stok van ’n kwotastelsel hul regmatige plekkie in die son sou kry nie, laat Cosatu se rugbykennis hom hier in die steek. Habana was eenvoudig altyd te goed vir rassisme - Louis de Villiers