Share

Biedie biedie biedie Audi

 Audi se hersiene A8 is pas in Suid-Afrika bekend gestel. Dis ’n wonderlike motor. Maar herinner sy aangesig jou nie ’n bietjie te veel aan die kille onper­soon­likheid van rekenaars en robotte nie? EGMONT SIPPEL waag ’n mening.

I,Robot. Dis die rigting waarin jy moet dink as jy moderne Audi-stilering wil verstaan.

Nie dat die gekuurde A8 soos kruisbestuiwing tussen ’n gesmelte skilpaddop en ’n futuristiese weergawe van die R8 lyk nie, gelukkig nie.

Dáái fliekwa, wat homself in die jaartal 2035 tuis vind, lyk dan glad asof sy ­wiele toegemessel is. Dis aaklig. Dis soos Cindy Crawford met ’n balie om haar ­bene gebind. Mooi wiele is een van ’n kar se kardinale fokuspunte.

En die nuwe A8 het mooi wiele – as jy op ’n tawwe, sportiewe manier dink of kyk – al lewer die plaaslike reeks (aanvanklik) net twee TDI-dieselmodelle: ’n 3.0-liter-V6-quattro en ’n 4.2-liter-V8-quattro, beide in langbak- en kortbakweergawes.

Die langbak is 133 mm langer as die kortbak en, model vir model, in die orde van 160 kg swaarder – alhoewel daar natuurlik niks kort aan die standaardmodel is nie; hy meet klaar 5.135 m lank.

Dis ook nie sommerso oliebranders, hierdie twee dieselbronne, die V6 en die V8, nie. En dis darem nie dat die A8 nou die visuele sondes van I, Robot se sogenaamde Audi RSQ wiel vir wiel en paneel vir paneel gedupliseer het nie.

Wat egter wel waar is, is dat die RSQ tien jaar gelede al ’n riglyn sou lewer vir die idioom waarin Audi-stilering oor die afgelope dekade ontwikkel het.

Nes 1998 se Audi TT, setel die RSQ se fondamente eerstens in Bauhaus, ’n ontwerpsrigting in Duitsland wat (veral onder argitekte) in die jare ná die Eerste Wêreldoorlog die emotiewe asook eksperimentele vermy het, in ruil vir ’n denkstruktuur wat Nuwe Objektiwiteit genoem is – denke, dus, wat streng op die rasionele berus het en gevolglik op die funksionele sou fokus, almaardeur via ’n gestroopte estetika.

En kyk nou mooi na die A8 se nuwe gesig wat deur swaar horisontale lyne oorheers word, selfs oorweldig word. Daar’s nie ’n oormaat aan dit wat normaalweg “vorm” genoem word nie. A nee a, hierdie is funksie en nogmaals funksie: die hoofligte moet skyn, en die res moet asemhaal om die enjin te voed.

Die emotiewe skitter eenvoudig in die afwesigheid daarvan. Vir tierlantyntjies het hierdie ontwerp nie tyd nie. Elke lyn en vorm is aan die funksionele onderworpe, tot so ’n mate dat mens die A8 se gesig as kil of koud of onpersoonlik, of dan tegnokraties, kan beskryf.

Dis bloot ’n harnas met ’n hoë, wye vierkantbek vol lugslierte, plus twee oogskrewe vol ligdiodes, plus nóg ’n lugreep onder die neus om nóg funksie te verrig, nóg lug in te laat. Dis so ’n starre, barre, anonieme fasade dat dit amper nie eens aggressief is nie.

Dis wel intimiderend, soos ’n monstermasker wat snou: “Wat is jy? Net ’n mens? Pasop! Ek’s ’n masjien, ek’s robot wat insluk en opvreet en uitspoeg. Ek’s Hannibal Lecter. Bly uit my pad!”

’n Tegnokratiese, onpersoonlike voorkoms, dan. Lyk alle kastele, alle gepantserde huide, nie iedergeval maar dieselfde van buite af nie?

Dis egter van binne dat die A8 homself toetentaal onderskei. Die huid mag alles aluminium wees; die kajuit is leer en hout en chroom wat nie net op die sinvolste manier aangebied word nie, maar op die smaakvolste; vorm en funksie kombineer om superweelde te skep.

Vergeleke met die Mercedes-Benz S-klas, BMW 7-reeks, Lexus LS460 en selfs Jaguar XJ is die A8 soos Marie-Antoinette se mooiste onthaalsaal in Versailles, terwyl die res nader aan die slawekwartiere geposisioneer is.

Oukei, nie heeltemal so erg nie. Die A8-kajuit ly aan geen oordadige opulensie en vertonerigheid nie. Alles is stemmig en onder beheer, indien net ’n effe besig. Maar jy kry die idee: die A8 se binneruim troon uit met ’n kombinasie van ontwerp, materiale, bouwerk, pas-en-presisie, funksionaliteit en ’n unieke vermoë om alles lig te laat lyk, in beide sinne van die woord. Die MMI-infovermaakstelsel bly ook die beste in die besigheid.

Verskuif nou jou fokus tot ander “onder die vel”-elemente, en dis veral die enjins wat aandag trek. Sowel die 3.0-liter-V6-TDI (190 kW, 580 Nm) as die 4.2-liter-V8-TDI (283 kW, 850 Nm – ja, lees weer: 850 Nm) is stil en super-verfynde bronne, soos dit ’n weeldewa betaam.

En glo my: as jy nie op die gewone weggee-tekens let nie – soos ’n rooi lyn wat veel vroeër as ’n petrolbron s’n begin – sal jy wragtag by die verkeerde vulstasiepomp gaan stop as jy terselfdertyd ook die tenkafstand van meer as 1 000 km miskyk.

En dis sommer net hier waar mens Audi se langtermyn-visie moet bysleep. Die Vier Ringe se dieselaanslag kom nie van gister af nie. Diesel het sy nadele, maar daar’s ook voordele, soos hope wring laag in die toerstrek en, jip, baie kilo’s uit elke enkele liter.

Die Europeërs het hierdie punt al lank, lank gelede gesnap; die Yanks nie. Audi het die gaping toentertyd al geïdentifiseer en geredeneer dat hulle net die krag van diesel, die voordele daarvan, aan Amerika moes demonstreer om ’n splinternuwe mark vir hulself te skep.

En daar’s hy: die Audi R8-renmotor wat – met die uitsondering van 2003 – elke jaar die Le Mans 24-uur-uithouren van 2000 af tot en met 2005 gewen het.

En ja, hy was ’n petrolsuipertjie, die R8. Maar hy’t ook as goeie voorbereiding gedien vir Audi se dieselrenwa, R10 TDI, en dié se opvolgers (die R15 TDI en R18 TDI), wat Le Mans elke jaar sedert 2006 tot nou gewen het (die laaste twee deur ’n hibriede dieselweergawe genaamd die R18 e-tron quattro). Dit nou met die uitsondering van 2009, toe Peugeot se 908 HDi baas was.

Die belang hiervan? Wel, diesel as ’n uithouren-wenner – maar ook veel meer. Einste Audi-renwaens het aan Amerika se Le Mans-renreeks (ALMS) deelgeneem en ewe groot suksesse aldaar behaal.

Dis een verklaring vir Audi se leidende rol op die dieselfront; dis een rede vir die puik oliebranders wat in die hersiene A8 pronk. Krag en wring word hoeka deur ’n wonderlike 8-spoed-ZF-outokas na al vier wiele gestuur.

Die quattro-stelsel se ekstra hardeware sorg dat die A8 nogal ’n gewigtige outjie is, maar die kortbak-A8 hanteer verbasend goed. Die langbak-A8 se ekstra gewig is egter heel opvallend op die indraai; die motor neig om reguit aan te stoot, teenoor die kortbak wat waarlik rats vir ’n ou grote van omtrent twee ton is. Rit op groot wiele met lae, sportiewe bandprofiele is ook heel aanvaarbaar, maar die dinamiese stuurstelsel (waar drywers tussen drie vlakke van kragondersteuning kan kies) toon nog oorblyfsels van die onverbloemde ramp wat die stelsel voorheen was.

Buiten stylverbeteringe behels die midlewekuur tegniese veiligheid- en doeltreffendheidsverfynings, insluitend Audi se nuwe Matrix LED-kopligtegnologie, asook ’n opgedateerde nagvisie-stelsel wat ook diere identifiseer, terwyl kopers terselfdertyd na die S8 en W12 6.3 kan begin uitsien.

Wat alles goed en wel is, maar Audi sal hul konsep van aanbieding moet hersien. Toekomsstilering in flieks soos I, Robot is goed en wel.

Maar die mens het genoeg kontak met robotte en rekenaars op ander vlakke van die lewe.

Wanneer dit by karre kom, wil die meeste van ons nie aan die koue dood van ’n lewelose stuk metaal herinner word nie. Ons soek die warm lewe van karakter en persoonlikheid, ook in ons motors – en nie net as die enjin vuur en wiele rol nie, ook as die kar stilstaan en slaap.

Pryse: Audi A8 TDI quattro – van R1.1 miljoen tot R1.55 miljoen

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
What is a non-negotiable when considering the election manifestos from various parties?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
A solid plan for load shedding
15% - 438 votes
Bold climate change objectives
1% - 30 votes
Roadmap for economic recovery
51% - 1505 votes
Solutions to SA's crime crisis
33% - 970 votes
Vote
Rand - Dollar
18.99
-0.5%
Rand - Pound
23.95
-0.2%
Rand - Euro
20.50
-0.1%
Rand - Aus dollar
12.35
+0.0%
Rand - Yen
0.13
-0.4%
Platinum
896.95
-1.0%
Palladium
1,000.11
-0.2%
Gold
2,192.73
-0.1%
Silver
24.45
-0.8%
Brent Crude
86.09
-0.2%
Top 40
67,991
+0.5%
All Share
74,199
+0.4%
Resource 10
56,296
+1.1%
Industrial 25
103,587
+0.3%
Financial 15
16,547
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE