Share

Egmont Sippel: Ontbyt saam met Alain Prost (én twee blitsige video'tjies)

Nissan was vriendelik genoeg om vir Egmont Sippel na ’n ontbyt saam met die legendariese Alain Prost uit te nooi. Prost was op sy dag natuurlik die nog méér legendariese Ayrton Senna se F1-spanmaat...

Allawêreld nie, my maggies man. Dit kan mos nie!

En ja, ek het laasweek al oor die klank van hierdie nuwe generasie van F1-motors gekla. Maar intussen het ons ook die tweede Grand Prix van die sport se tweede turbo-era beleef en dis skokkend, die feitlik totale afwesigheid van alles waarvoor F1-enjins tot nog toe gestaan het – by uitstek daai hoëfrekwensie-skrou wat soos ’n diamantkoeël deur jou ore boor.

Kyk ’n bietjie na die volgende kortetjies waarin 2013- en 2014-F1-motors verby dieselfde punte in die Australiese GP snel:






Een stukkie raad: Gaan soek dit so gou moontlik, voordat die groot indoenas nogmaals toeslaan en die uitsending daarvan blokkeer, soos hulle op soveel webtuistes al gedoen het. En g’n wonder nie. As jý in beheer van F1 was, sou jy ook vergelykende video’s wou uitwis! Meen te sê dat jy die ore moes spits – en érg moes spits – om énige enjinklanke in laasweek se Maleisiese GP te hoor.

Wat Alain Prost daarvan dink?

Ons het laasweek aangedui dat Alain versigtig geantwoord het by ’n onlangse ontbyt saam met ’n groepie joernaliste in Stellenbosch toe dié viermalige F1-kampioen in Suid-Afrika was vir die Absa Cape Epic-fietsren.

Ook nie dat hy in ’n Ferrari of McLaren daar opgedaag het, of enige ander produk van spanne waarvoor hy in sy F1-dae in die 1980’s en vroeë 1990’s gejaag het nie.

Nee. Via sy noue verbintenis met Renault, en daarom ook met die Renault-Nissan-alliansie, het Alain sommer ’n Nissan Navara Safari-bakkie as wiele ingespan om die Kaap mee plat te ry.

Dis nou as hy nie op fietswiele was nie. Van Alain word vertel dat hy die superfikse Mark Webber sommer onlangs nog teen een van die Tour de France se geliefkoosde steiltes uit kis getrap het.

Laasweek het ons ook reeds genoem dat Prost en die grote Ayrton Senna darem voor die Brasiliaan se ontydige dood die strydbyl begrawe het.

Op hierdie noot het ek die volgende vraag aan Prost gestel: Met ander woorde, jy en ­Ayrton sou darem, op ouderdom 80, ’n glasie konjak saam geniet het?

P: Nee, nee, lank voor dit, láánk voor dit. Dis iets waarna ons uitgesien het om die waarheid te sê.

S: Jy het toentertyd ook ­Ayrton se begrafnis bygewoon. Was dit ’n moeilike besluit?

P: Ja en nee. Ek wou gaan; vanuit my eie oogpunt was dit ’n maklike besluit. Maar oor al die wrywing tussen my en Ayrton in ons tyd as McLaren-spanmaats kon dit ook ’n plofbare situasie in Brasilië geskep het.

Die dag ná Senna se dood was ek in Parys toe die voorsitter van Matra en ’n goeie vriend, Jean-Luc Lagardère, my bel. Sy vrou was ’n voormalige Brasiliaanse model en ek’t gesê: ‘Jean-Luc, ek het klaar my kaartjie na São Paulo bespreek, maar vra ’n bietjie vir Bethy hoe sy dink die Brasiliaanse publiek sal reageer.’

Bethy was sterk van mening dat hulle my teenwoordigheid by die begrafnis sou waardeer. En só was dit toe ook.

S: Senna se dood was net ná jou uittrede. Maar in 1992 het jy ’n jaar afgevat nadat jy en Ferrari vasgesit het, voordat jy in 1993 saam met Williams teruggekeer het. Hoe het jy die lewe sonder F1 ervaar?

P: In 1992 het ek gou-gou agtergekom, ná twee of drie maande op die kantlyn, dat ek nooit iets soortgelyks as F1 in die lewe sou kon vind nie.

In die daaglikse lewe is ek nie ’n groot motor-ou nie. My enigste uitspattige kar ooit was ’n Ford Mustang Convertible, en nie om sy V8 vir stertmanewales in te span nie, maar om rustig met al daai krag rond te suiker.

My enigste Ferrari (wat aan my geskenk is) het ek een keer om die blok gery, en toe mense my letterlik daaroor wou stenig, het ek hom summier teruggegee.

Maar die vraag is oor adrenalien. Uit 199 Grands Prix het ek 51 gewen, wat beteken dat ek 75% van die tyd gefrustreerd was. Maar dis vir daardie 25% van sielsgeluk dat jy as jaer leef. Vir die renne wat jou ekstra motivering gee, soos Monaco, of jou tuisren, of Brasilië waar temperature 40 °C toe mik, net om dinge uiters moeilik te maak.

Omgekeerd het ek feitlik geen gevoel vir Monza gehad nie. Waar’s die uitdaging? In Brasilië het ’n mens dikwels ná tien rondtes al fisiek begin sukkel.

(Brasilië, 1987, was juis een van Prost se grootste renne ooit, toe hy heelwat minder vlerk as die res gebruik het. Die algemene redenasie was dat jaers meer vlerk sou benodig om te keer dat die motors erg in draaie rondskuif, juis om agterbandleeftyd te verleng. Prost het egter met een bande-stop gewen, teenoor die res se twee elk. Prost was ook ’n meester met bande meng – sagter bande voor as agter of selfs ’n wisseling van links na regs – iets wat vandag se jaers nie mag doen nie. En dis ’n fout om dit te verbied, reken Alain.)

S: Daar was ook gerugte dat Ferrari jou gevra het om in 1996 weer vir hulle te jaag, om ­Michael Schumacher te help om die titel te wen. Is dit waar?

P: Inderdaad het ons daaroor gepraat. In 1996 was ek selfs die vinnigste jaer (in ’n McLaren) tydens ’n F1-toets op Silver­stone. Die vraag was egter of die publiek sou verstaan wat aan die gang is, dat ek bloot daar is om vir Schumacher te help om die titel te wen.

S: Laastens, ’n vinnige vergelyking tussen toe en nou?

P: Fisiek was dit veel moeiliker in ons tyd. Ek het selfs ’n knop hier agter op my regterskouer soos dit oor jare teen die kar gestamp het tydens ratwisselings.

Ná ’n vakansie van net drie weke kon mens toentertyd nie meer as 15 of 20 rondtes in ’n F1-motor doen nie. Dit was te veeleisend, en nie net op jou nek nie.

In sulke omstandighede is daar altyd ouens wat langer vat om aan te pas as ander. Vandag spring die outjies in ’n F1-motor en almal is van meet af aan vinnig. En in ons tyd was daar veel meer goeie jaers in die veld as nou.

So’t die onderhoud met Alain Marie Pascal Prost, OBE en ­Chevalier de la Légion d’honneur, dan verloop. Hy’s ’n bitter klein mannetjie van postuur. Maar hy’s ’n grote in die annale van Formule Een.


Ayrton Senna en Alain Prost in 1988.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do you think Minister Blade Nzimande made the right call to dissolve the NSFAS board?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, NSFAS mismanagement is costing students
34% - 460 votes
No, it's suspicious given that he's implicated
66% - 878 votes
Vote
Rand - Dollar
19.02
-0.2%
Rand - Pound
23.65
-0.2%
Rand - Euro
20.22
-0.3%
Rand - Aus dollar
12.20
+0.1%
Rand - Yen
0.12
+0.0%
Platinum
975.30
-0.1%
Palladium
1,024.50
+0.2%
Gold
2,391.89
+0.4%
Silver
28.32
-1.9%
Brent Crude
90.10
-0.4%
Top 40
66,902
-2.2%
All Share
73,000
-2.1%
Resource 10
61,638
-3.6%
Industrial 25
98,321
-1.9%
Financial 15
15,650
-1.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE