Share

Kyalami: Die glorie en die pyn

In 1966, as seremoniemeester vir die Oscar-toekennings, maak Bob Hope ’n grappie oor Hollywood se nuutste prikkelpopsensasie: ­“Earlier tonight, I bumped into ­Raquel Welch. Slooowly.”

Veertig jaar later is dit my beurt, toe Linda Vaughn tydens Barrett-Jackson, die wêreld se grootste motorveiling (in Scottsdale, Arizona) my omhels toe sy hoor dat ek van Suid-Afrika kom.

Linda was die legendariese eertydse Miss Hurst Golden Shifter. Die Hurst-ratkaskierie-en-skuifmeganisme het ratverwisselings oneindig verbeter. As welbedeelde langbeen-blondekop het Vaughn dus by renbyeenkomste regoor Amerika saam met ’n enorme replika van die Hurst-kierie agter op die kattebak van pasaangee-motors gepronk.

Die falliese simboliek was ooglopend. Die rensport berg meer testosteroon in ’n enkele vonkprop as rock-en-roll op volle vaart.

Nou’s dit Linda wat stááádig teen my vasbons. Sy mág maar druk en omhels, ek gee nie om nie.

Maar haar trane vang my onverhoeds.

“Peter was the love of my life,” seg sy. “I will never forget that awful day at ­Kyalami.”

Elke renbaan het sy hoogte- en laagtepunte, sy helde en slagoffers.

Imola het Senna geëis, Hockenheim vir Clark, Zolder vir Villeneuve, Monza vir Rindt. Én Ronnie Peterson. Én Von Trips, laasgenoemde in 1961 – dieselfde jaar as wat Kyalami gebore is.

Dít nou die ou Kyalami, die legendariese baan wat so geliefd onder renlui van overal was; Clark, Lauda, Prost, Stewart, Mansell en Reutemann het almal hier gewen, asook onse eie Jody Scheckter, met John Love se oorwinningstog wat in 1967 tydens die eerste Suid-Afrikaanse Grand Prix (SA GP) te Kyalami ’n wieldraai van die wenstreep af gefnuik is.

Daarbenewens het die 9-uur-uithouren, sedert 1961 elke jaar vir feitlik twee dekades lank, asook die SA motorfiets-GP in die middel-1980’s die geskiedenis met name soos David Piper, Jacky Ickx, Eddie Lawson, Kevin Schwantz, Randy Mamola en dies meer verryk.

In 1992 is die oorspronklike baan finaal tot die nuwe Kyalami herbou, met die intense nasionale toermotorkampioenskappe wat merendeels tussen Nissan, Opel en BMW uitgewoed is.

In die vroeë 1990’s het Senna en ­Schumacher selfs hier gejaag en onse eie Super Sarel het tallose baangevegte teen Terry Moss en die manne gevoer.

Maar dit bly die ou Kyalami wat tuiste was van alles wat groot en goed en grotesk in die motorsport is: ’n arena vir, en teater van, lewe en dood.

Peter Revson was een van die erfgename van die Revlon-miljarde. Ná twee jaar by McLaren F1 skuif hy in 1974 na Shadow. Vóór die SA GP toets die span op Kyalami.

Die Shadow-Ford DN3 is ’n goeie motor vol spitsmateriale, soos titanium. Maar ’n rollaer, einste uit titanium, faal en wat aan die buitekant van die super-vinnige afdraande swiep genaamd ­Barbeque volg, is effe meer gewelddadig as “bumping slowly into the Armco ­barrier”.

Die Shadow boor soos ’n missiel deur die reling en bars in vlamme uit. Linda Vaughn se drome en Revson sterf op slag.

Sy plek in die span word deur Tom Pryce geneem.

Die glorie en die pyn.

Wie dan beter om te vra, as ’n man wat feitlik op Kyalami grootgeword het en teenwoordig was op die dag dat Frederik Jansen van Vuuren sy lewe sou verloor?

As motorjoernalis is Stuart Johnston ’n heelal op sy eie. Op 10-jarige ouderdom het die donderende klank van Bobby Olthoff se 7.0-liter-V8-Willment Ford Galaxie hom klaar oorrompel, met Koos Swanepoel en Basil van Rooyen se Lotus Cortinas nie ver agter nie.

Vir die Suid-Afrikaanse GP van 1977 sit Johnston aan’t einde van die hoofpylvak, op die ou Kyalami se eerste draai, Crowthorne. Vandaar verberg die Dunlopbrug sy sig, sodat hy onbewus daarvan is dat Tom Pryce se Shadow-spanmaat, Renzo Zorzi, sy motor weens ’n petrollekkasie voor die hoofpaviljoen parkeer het.

Jansen van Vuuren en nog ’n beampte snel oor die baan om die enjinvuur op Zorzi se Shadow te blus. En teen 270 km/h verflenter Pryce se Shadow die jonge Van Vuuren. Die 19-jarige slinger soos ’n lappop deur die lug. Sy brandblusser tref Pryce teen die kop.

“Pryce het die remmerkers aan die binnekant van die baan begin platjaag,” vertel Johnston, sonder dat hy op daai oomblik geweet het hoekom. “Die Shadow is voet-in-die-hoek dwarsoor die draai tot teen Crowthorne se keerwal, reg onder ons.

“Dit was soos ’n bom wat ontplof het.”

Vir die lengte van Kyalami se ellelange pylvak het die ­Shadow dus in ’n skadu-ren van sy eie bly voortsnel.

Met ’n dooie man agter die stuur.

Die Pryce- en Revson-tragedies het Kyalami weerskante van ’n skitterende hoogtepunt geruk: Jody Scheckter se oorwinning in die SA GP van 1975. In dieselfde ren maak Lella Lombardi geskiedenis as die eerste vrou in ’n F1-ren sedert 1959.

Lella spring laaste weg. In 1992 is dit die mooie Italianer Giovanna Amati se beurt. Sy ry die afsnypunt vir kwalifikasie mis. ’n Dosyn jare vantevore het Suid-Afrika se eie Desiré Wilson ’n veel groter indruk op F1 gemaak.

Maar die meisie wat Kyalami oorrompel, daag in 1983 op.

“Hardloop, pappie, hardloop! Pit straight toe!” hyg ’n vriend. “Jy’t in jou lewe nog nooit so iets gesien nie.”

In my haas hardloop ek amper deur die Armco-reling. ’n Fotograafvriend is besig om ’n 17-jarige met ’n waterval van blonde hare te fotografeer.

Uit haar miniatuur-sjoebroekie strek die twee allerfantastiese mooi bene tot vlak bo Kyalami se teer.

Met ’n koors begin ek saamkiek. Daai dae het ’n rol film van 36 gewoonlik so twee, drie ekstra foto’s gelewer. Onraad steek kop uit toe ek vir die 40ste keer mik en druk. Teen die 45ste kiek was dit duidelik: geen film in die kamera nie.

’n Paar weke later blaai ek deur ’n Italiaanse F1-tydskrif en daar pronk sy in haar sjoebroekie en hoëhakskoene, op die middag voor haar matriekdans: ­Patricia Lewis.

Mens kan die testosteroon nie uit ­Kyalami haal nie.

Aan’t einde van einste Grand Prix verseker Nelson Piquet sy tweede wêreldtitel met ’n derde plek. Ek sit op Leeukop, presies waar Mansell in 1985 die muur tydens sy troonposisierondte met die Williams se linkeragterwiel raakgery het dat die vonke spat.

Il Leoni, het die Italianers hom genoem. Die Leeu. Deur Leeukop.

In die ren self word Nigel deur spanmaat Keke Rosberg gejaag. Teen die heuwel af, deur Barbeque – waar Revson gesterf het – hardloop Keke per geleentheid met sy linkerwiele deur Kyalami se rooi stof sonder om te lig.

’n Paar jaar vóór dit volg Scheckter sy Kyalami-oorwinning met ’n tweede plek in die SA GP van 1977 op. En in 1979, toe hy wêreldkampioen word, onthou ek die woorde van ’n wyse ou rengees, toe ek, as tjokkertjie, oopmond staan en kyk het hoe Jody, as 18-jarige, sy Renault Gordini so skeef soos ’n krap op kokaïen deur draaie katools, net veel blitsiger.

“Daar jaag ’n toekomstige wêreldkampioen,” was die oordeel.

Ek het nooit vir ’n oomblik daaraan getwyfel nie.

Nog ’n tjokkertjie wat op sy dag die renwêreld oopmond gadegeslaan het, was Toby Venter. Nes Stuart Johnston is Toby (in 1955, in Johannesburg) in ’n Ford-familie in gebore, in tye toe jy óf ’n Ford- óf ’n Chev-man was.

Twee jaar later trek die Venters Potchefstroom toe. Toby se pa, O.T. (oftewel Otee), was geoktrooieerde rekenmeester en ’n motorentoesias, genoeg om sy 10-jarige seun op plaaspaaie te laat bestuur. As 12-jarige word Toby per geleentheid op ’n familievriend se plaas uitgedaag om 90 m.p.u. op ’n vliegveld se aanloopbaan te haal, in een van die land se eerste Ford Fairmont GT’s.

“Teen 70 m.p.u.,” onthou Toby, “het ek ’n nat kol getref, ’n nare oomblik. Maar 90 m.p.u. het ek gehaal.”

In dieselfde era het die jonge Venter diep onder die indruk van Juan Manuel Fangio se My Twenty Years of Racing ­gekom.

“Net daar het ek besluit om eendag renjaer te word – en sommer F1-kam­pioen ook,” lag Toby.

In 1967 was hy juis, via vriend-en-familie-verbintenisse, in John Love se Kyalami-kuip toe Love die voortou in die SA GP sou neem, net om sewe rondtes voor die einde kuipe toe te duik vir ekstra brandstof – maar eintlik was dit net die petrolpomp wat gelol het.

Dít, seg Toby, was vir hom een van die hoogtepunte van sy Kyalami-ervarings, om die ren van binne John Love se kuip te ervaar.

Met die wyse leiding van sy vader het Venter homself van jongs af goed geposisioneer.

Om sy studies in die regte en ekonomie aan Potch te finansier, het die jonge Toby Jaguars reggemaak en verkoop. Nie lank nie, en hy’t met ’n helderheid geweet dat motors sy roeping was.

Van spoed en motorfietse het hy iedergeval gehou. Op 22-jarige ouderdom jaag hy Shell-geborgde Suzuki’s, en vroeg in die 1980’s begin hy met ’n Suzuki-handelaarskap in Westonaria, gevolg deur die General Motors-handelaarskap.

Boere koop Isuzu-bakkies dat dit klap en Toby skep die unieke Venter Delta Cheetah-logo vir sy spesiale eenmalige Opel Kadett Superboss Turbo, waarna hy op omgeboude Corsa en Kadett Cheetahs begin konsentreer om die destydse motorprysgaping tussen R40 000 en R60 000 te vul.

Sy suksesse tel. Die Saficon-groep vra Venter om woema aan die sukkelende Porsche- en Jaguar-handelsmerke te gee en in 1996 koop Toby die Porsche-besigheid vir R10 miljoen.

Hy bedryf sy sake uit ’n pakhuis tot ’n verdere R5 miljoen ’n gebou van sy eie, in Randburg, verseker.

Intussen het die Boxster lyf aan die Porsche-portefeulje begin gee en van 2003 af maak Cayenne die pap so dik aan dat Porsche SA in 2008 in ’n spoggerige alles-in-een-fasiliteit in Johannesburg intrek.

Intussen is soortgelyke sentra – wat nuwe en tweedehandse Porsches verkoop, asook werkswinkels, paneelkloppers, ’n pakhuis vir onderdele en ’n ouditorium plus opleidingsentrum huisves – in Umhlanga, Kaapstad en Pretoria gebou.

Die altyd netjiese, altyd vriendelike, altyd goed gemanierde Toby Venter is nie net ’n man wat twee of vier wiele vinnig kan bestuur nie.

Hy kan duidelik ook sake bestuur.

Hoe gaan hy dus sy nuwe baba ­posisioneer, nou dat Porsche SA se grootbaas die Kyalami-renbaan laasweek vir R205 miljoen op ’n veiling gekoop het?

Die uitleg bly, uiteraard. Deon Joubert, een van die 1990’s se elite-toermotor­jaers saam met Mike Briggs, Grant McCleery, Shaun van der Linde en daai snare, sê dis ’n besonderse uitdaging om die volmaakte rondte op só ’n tegniese baan te voltooi.

Maar dis die toeskouerprobleem wat Stuart Johnston bekommer. “Weens al die korporatiewe bomas om die baan, kan die gewone ou nie meer die beste draaie sien nie. En daar die bomas na die verkeerde kant wys, kyk die korporatiewe gaste eerder rugby op TV, as die renne self.”

Vir jare lank was Kyalami dus in dieselfde bootjie as renjaers: dit was ’n kwessie van lewe en dood.

Nou’s die hofsake en geldvrae rondom die baan genadiglik iets van die verlede. Dis Venter en die uitvoerende bestuurder van sy Kyalami-projek se doel om die renbaan vir die rensport te herstel en te bewaar; baie van die huidige bomas sal vernietig word om Kyalami weer toeskouervriendelik te maak. Maar as sakebedryf sal die baan steeds vir allerlei aktiwiteite, van motorbekendstellings tot bestuursopleiding, te huur wees.

“Die hernuwing van ’n F1-kontrak is egter nie op die agenda nie; dis eenvoudig te duur,” seg Venter. “Maar motorsport sal weer ’n fokuspunt word.”

Onse wêreldbekende stuk teer met sy ryke geskiedenis wat tot in Amerika se Barrett-Jackson-veiling weerklank sou vind, het nou ’n hupstoot gekry nes Amerikaanse motors dit in die 1960’s en 1970’s via ’n Hurst Shifter in’t plek van vervaardigers se tengerige ratkas-skuifmeganismes kon vermag.

Die pyn. En die glorie.

Met Toby Venter aan’t stuur van sake is daar goeie rede om te glo dat die eerste nou vir Kyalami sal wegval, om die tweede te herstel.
Die testosteroon is daar. En die wys­heid ook.


Jody Scheckter het sy tuis-Grand Prix in 1975 op Kyalami gewen.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
36% - 9 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
64% - 16 votes
Vote
Rand - Dollar
19.22
-0.3%
Rand - Pound
23.87
-0.2%
Rand - Euro
20.45
-0.3%
Rand - Aus dollar
12.29
+0.1%
Rand - Yen
0.12
-0.5%
Platinum
953.50
+0.3%
Palladium
1,029.50
0.0%
Gold
2,388.87
+0.4%
Silver
28.35
+0.4%
Brent Crude
87.11
-0.2%
Top 40
67,190
+0.4%
All Share
73,271
+0.4%
Resource 10
63,297
-0.1%
Industrial 25
98,419
+0.6%
Financial 15
15,479
+0.6%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE