Sy rustiger lewensgehalte, sowel as die rollende heuwels en groot watermassas wat Hirosjima omring, skep die illusie van ’n Japannese Kaapstad. Maar onder sy idilliese oppervlak klop ’n hart van staal, getemper in die vuur van konflik en nood. Uit ’n kernbom-verbrande murasie het hierdie moderne, vooruitstrewende stad weer opgestaan op die rug van sy mense se veggees.
So vasbeslote as wat Hirosjima se mense in 1945 was om hul stad te herbou, so gedrewe is Mazda om sy gloriedae te laat herleef. Aangesien hul pad onlangs van Ford s’n afgedraai het, kan Mazda nou die geskiedenisboeke gaan afstof om weer hul eie rigting te kry.
By die hoofkwartier in Hirosjima word ’n hele afdeling in die museum gewy aan Wankel-enjins en die sportmotors wat hulle gebruik het, en die media-materiaal verwys gereeld na Mazda se vervloë motorsport-sukses.
Maar daar is nog nie genoeg geld in die bank vir sulke lekkernye nie. Die rekeninge moet betaal word, en dit beteken dat ons eers ’n nuwe reeks gesinsmotors (en ’n nuwe Miata) gaan sien. Eerder as eksotiese koepees, val die klem nou op unieke stilering en verbeterde doeltreffendheid.
Die bakontwerpe gebruik Mazda se huidige Kodo-styl, met lang neuse en skerp voue in die bakpanele. Die idee is om die motors te laat lyk asof hulle beweeg – terwyl hulle stilstaan. Die resultaat is ’n reeks motors wat ’n indruk van gespanne spiere onder die metaal skep, maar steeds die oog streel met grasieuse stileringslyne.
Mazda se Skyactiv-ingenieurswese fokus op die vermindering van meganiese verliese in die ratkaste, verbeterde ontbranding in die enjins en liggewig bakkonstruksie om doeltreffendheid na te jaag. Hierdie holistiese benadering verdien eervolle vermelding, maar daar kort nog een hedendaagse tegniek om verbruik saam met verrigting te verbeter: kleiner, drukaangejaagde petrolenjins.
Die petrolenjins dra ’n Skyactiv-G-naamplaatjie en spog met ’n drukverhouding van 14:1, die hoogste ter wêreld, wat tot 15% meer wringkrag as die ou MZR-reeks enjins lewer. Dit beteken teoreties dat daar meer kilometers uit minder brandstof gehaal kan word, maar net ’n behoorlike padtoets sal dit kan bevestig. Daar is ook ’n energieherwinningstelsel wat die batterye laai wanneer die rem getrap word, en die enjin skakel homself af by verkeersligte.
Die grootste onderskeid tussen die nuwe Mazdas en hul teenstanders lê egter in die bestuurderservaring.
Die ingenieurs se ontwerpsfilosofie heet “Jinba ittai”, en dit beteken “mens en perd saam as een liggaam.” Die nuwe motors probeer dus om die bestuurder genot te gee deur oombliklik en voorspelbaar op alle insette te reageer.
Dit was moeilik om ’n besliste opinie tydens ’n paar rondtes van die Mijosji-toetsbaan te vorm, maar dit wil tóg voorkom asof die nuwe Mazdas die atlete in hul marksegmente mag wees. Hulle verander gretig van rigting, ’n gevoel wat versterk word deur hul liggewig-bakkonstruksie, met lineêre stuuraksie en goeie terugvoering (vir elektriese stelsels).
Maar met al hierdie ooreenkomste het elke model in die reeks ook sy eie geur.
Mazda 2 1.5 Skyactiv-D (1.5-liter-turbodiesel, 77 kW, 250 Nm)
Hierdie enjintjie is ’n meesterstuk. Hy trek soos ’n gladde, stil stoomlokomotief in die nuwe Mazda 2 se mooi luikrug-doppie. Sy hantering is prettig: Hy klou verbete aan die pad vas en voel vlugvoetig deur die draaie. Sy rygerief is gangbaar, maar skerp knikke in die pad raak stamperig as gevolg van ’n kort asafstand en ferm vering. Die nuwe Mazda 2 se kajuit lyk so modern soos sy bakwerk. Sy enjinopsies sal eers bekend gemaak word wanneer hy Suid-Afrika vroeg in 2015 bereik, maar 1.3- en 1.5-liter-Skyactiv-G-petrolenjins is ook beskikbaar.
Mazda 3 2.0 Skyactiv-G (2.0-liter-petrol, 88 kW, 210 Nm)
Die lae-uitset-tweeliter (die hoë-uitset-weergawe gee 118 kW) vergoed vir sy luierige verrigting met ’n baie goeie onderstel. Hope padgreep en beheerste bakwerkbeweging het gesorg dat die Mazda 3 rats deur die toetsbaan gesny het. Sy ritgehalte oor skerp riffels is weer eens benadeel deur ferm vering, maar hy was nooit stamperig nie. Die kajuit is mooi uitgelê en goed gebou, en is moontlik die sterkste kompetisie nóg vir die Golf 7. Buite sorg sy breë skouerlyne en geronde agterent vir ’n aantreklike profiel. Die Mazda 3 land September in Suid Afrika.
Mazda 6 2.5 Skyactiv-G (2.5-liter-petrol, 141 kW, 256 Nm)
Mazda se teenvoeter vir die Honda Accord en VW Passat bied ruimte, gemak en aanloklike stilering. Hy is dalk die mooiste van al die Kodo-karre, en sy kajuit vertoon ewe aantreklik. Sy padgedrag is egter, anders as sy stalmaats, meer ontspanne as sportief, en hy behoort ’n gawe gesinsmotor te wees. Daar is effense bakrol, maar met sy padhouvermoë skort daar niks. Die 2.5-liter-enjin kan sy man staan teen sy mededingers, en die outomatiese sesgangratkas wissel gladweg ratte.
Mazda CX-5 2.2 Skyactiv-D (2.2-liter-turbodiesel, 110 kW, 380 Nm)
Nie ’n nuwe model nie, maar ’n nuwe enjin. Die 2.2-liter is, nes die 1.5-liter-kleinboetie, ’n juweel. Hy verskaf verfynde werkverrigting, het lywige wringkrag oor ’n wye toerestrek, en behoort baie suinig met brandstof te werk. Die CX-5 bly verder grootliks onveranderd.
Hierdie produkreeks moet, nes Hirosjima se mense hul tuiste herbou het, vir Mazda herbou as ’n vervaardiger wat sy eie rigting inslaan.
Die treffende stilering en bestuurspret van die nuwe reeks sal modebewustes en entoesiastiese bestuurders se beursies laat oopgaan, wat Mazda sal toelaat om die motors te bou waarvan hulle regtig droom.
Wie weet, dalk herleef die Wankel-enjin ook. Niks is onmoontlik in Hirosjima nie.