Guardians of the Galaxy
Met Chris Pratt, Vin Diesel en Bradley Cooper.
Regisseur: James Gunn
’n Bleeksiel verander in 'n koel koos in die joligste ruimtekaperjolle sedert Star Wars-episode IV.
Dus, vir almal wat ruimteflieks gewoonlik vermy, is hier goeie nuus: Dié rolprent is retro-ruimtevermaak wat ouer kykers nostalgies sal maak terwyl dit jonges se tatoeëermerke sal laat bewe. Dit geld almal wat van wetenskapfiksie hou en nie altyd 'n ordentlike fix kry nie.
Min mense sal ooit die dag vergeet toe hulle Star Wars vir die eerste keer gesien het. Daardie sorgvrye koshuisstorie tussen die sterre het 'n byderwetse gemaklikheid gehad wat min ander rolprente kon naboots. Dit het 'n status aan die moderne fantasie- en ruimtefliek gegee wat nog nie geëwenaar is nie. Dis is so lekker soos 'n eerste liefde – daardie oomblik wat jy op 'n genre verlief raak. En jy wil daardie heerlikheid voortdurend herleef, maar kry dit nooit reg nie. Guardians of the Galaxy neem jou terug na jou warmword-dae.
James Gunn, die regisseur, het besluit om die half-mens-halfalien Peter Quill, ook bekend as Star-Lord, vrye teuels te gee om met sy Walkman tussen die planete te sokkie en heldemoed se grense te skuif. Quill skrik vir geen grieselgees nie. Met toonkrul-lekker popmusiek het hy net soveel ritme as Jak de Priester op sy beste.
Quill is die mees toeganklike held wat die ruimte vanjaar opgelewer het. Veral in Chris Pratt se vertolking is die ruimteseun sy eie mens, 'n enkeling wat hom aan g’n konvensie steur nie met 'n ruimtewys houding wat hom komkommerkoel maak.
Die lekkerste toneel speel af wanneer Quill met sy Walkman in die plek van ’n blink ruimteswaard loslyf begin dans. Pratt, die gewildste nuwe held sedert Ansel Elgort sy kuiltjies gepoleer het in The Fault in Our Stars, skitter. Met sy nonchalante houding en knipoog aan die gehoor gee hy nuwe status aan moderne helde. Hier is 'n bakgat-held vir die nuwe millennium wat enige toekomstige skoonma saam met haar dogter op Mars sal vertrou!
Guardians of the Galaxy dateer van 1969, vandaar die popmusiek uit die ’70’s, en het sy buiging in Marvel se Super-Heroes-strokiesboek gemaak. Hier is mens en ruimtewese saamgevoeg om 'n nuwe ras te skep wat die ruimte as speelplek gebruik en keer dat diktators planete opblaas. Maar die trefkrag lê ook in die humoristiese newekarakters. Nie sedert die ouens in Star Wars 'n ruimtekroeg besoek het, was daar so 'n jolige kombinasie van eksentrieke skeppings wat selfvoldaan rondwals om aandag te trek nie.
Die interessantste karakter is Groot, 'n melankoliese boom (Vin Diesel), en die skeermesbek-wasbeer (Bradley Cooper), wat Quill se argelose houding balanseer met 'n verantwoordelikheidsin. Maar dit is Zoe Saldana as Gamora wat die skaal finaal laat terugswaai na erns wanneer die helde 'n sfeer moet terugsteel om die mag uit bose kloue te hou. Die sterre spat wanneer Gamora en Quill mekaar se oog vang.
Vergeet Avatar se fantasiewêreld. Hierdie klein weermag, met Quill en Gamora aan die spits, tref die ruimte met die krag van 'n sonstorm.
Veral in Imax en 3-D is The Guardians of the Galaxy die grootste pret wat jy buite 'n speelpark kan hê. Gunn verbreek talle rolprentreëls, maar dit is juis hierin wat die rolprent se sukses geleë is: in die koel drentelstappie waarmee die karakters hul avonture beleef, die koel-koos-dialoog van die eksentriekes en die gesag waarmee Quill optree wanneer sy vriende se lewe bedreig word. Hulle kerjakker en baklei dalk lekker, maar beland aan die verkeerde kant, en jy sien jou alie.
Die verbreking van reëls lei egter ook soms tot 'n wispelturige styl waarin nie alle karakters tot hul reg kom nie. Soms maak 'n mens kennis met interessante wesens wat net so vinnig weer verdwyn, terwyl nie al die stories ordentlik geknoop word nie. Maar as 'n mens so lekker en sorgvry fliek, wie gee om as die driebedryfstruktuur deurmekaargeklits word?
Die rolprent laat jou weer kind word en smokkel met jou jeugdige herinneringe, veral vanweë sy vermetelheid en domastrante houding.
Jy beland hier in 'n sterrereën wat jou breinselle herhaaldelik laat verskiet.
Nuwe flieks
Mr. Pip ,,,
Hierdie is een van die aangrypendste ware verhale nog.
In die 1990’s woed 'n burgeroorlog in die koperstreek van Bougainville in Papoea-Nieu- Guinee. Die enigste wit man (Hugh Laurie) lees Charles Dickens se Great Expectations aan die eilandkinders voor. 'n Meisie raak betower daardeur. Dit lei tot 'n tragedie.
Met 'n soepel styl en 'n uitgesproke eerlikheid vertel die regisseur 'n dramatiese ware verhaal sonder om te pronk. Die beelde en stiltes spreek boekdele. Dit is die week se beste rolprent.
Wish I Was Here ,,,,
Kunsaanhangers sal verkwik hier uitstap.
Zach Braff se eksentrieke rolprent gaan oor ? werklose akteur-pa wat sy kinders tuis onderrig, maar eintlik het hý lesse in die lewe nodig.
Die rolprent is slim, anders, bekoorlik en vermaaklik. Die swart humor sal jou laat skaterlag. Maar dit is veral die lewensvreugde en lewensfilosofie wat aanklank sal vind.