Share

Kaap se skadu’s kan nóg swarter

Deon Lotz het weer ’n rol wat sy talent waardig is, maar dié rolprent kon meer gewaag het. skryf Leon van Nierop.

COLD HARBOUR

Met Tony Kgoroge en Deon Lotz. Regisseur: Scott Coffey

Kaapstad stal sy onderwêreld hier onbeskaamd uit, pienk binneboud en al.

Die regisseur Scott Coffey skram nie weg van die stad se skurwe hakskene en ingegroeide toonnaels nie. Vergeet van die prentjiemooie Moederstad en toeristeparadys.

Hierdie Kaap is troebel en bevlek deur skaduwees. Dit is somber en selfs vaal. En teen dié grouheid speel 'n tipiese Suid-Afrikaanse verhaal af, gekenmerk deur polisiekorrupsie, omkopery, dwelms, perlemoensmokkelary en moord.

Die rolprent snuffel soos 'n geduldige brak in die voetspore van 'n polisiesersant, gespeel deur Tony Kgoroge, wat oor die Kaapse Vlakte drentel. Dit heraktiveer temas wat al so Suid-Afrikaans is soos onluste en e-tol-padversperrings. Die regie is vry van die straatslim Amerikaanse aanslag van die geslaagde iNumber Number en wys die storie is net so wispelturig soos die berugte Kaapse weer.

Sers. Sizwe Miya (Kgoroge) wil graag 'n volwaardige speurder word, maar sy korrupte bevelvoerder, Deon Lotz as Venske, het ander planne met hom.

Wanneer Miya 'n saak van perlemoensmokkelary waarby Chinese betrokke is, moet ondersoek, word hy in die versoeking gestel. 'n Vinnige stel omkoop-note in die hand is meer as drie maande se bittere salaris. Sal hy toegee aan die versoeking?

Cold Harbour is 'n goeie, maar oorversigtige rolprent. Soms wil-wil dit prekerig raak en karakters as blote mondstukke gebruik om morele stellings te maak: Dus, wees eerlik, bly getrou aan jou beginsels, wees trots op jou land en wie jy is en maak die Kaap skoon. Goeie raad, inspirerende aanslag, maar hier en daar trap dit net te suutjies tussen die duwweltjies sodat 'n mens voel jy het die storie al in kragtiger gedaantes gesien.

Wat nie beteken dit moet vermy word nie. Dit hanteer vandag se probleme en bring 'n mens opnuut onder die indruk van hoe chaoties Suid-Afrika is.

Die demokratiese geboorteproses se kop het pas verskyn en die skouers moet nog uitglip.

Hef aan lê dus nog voor, waarsku die rolprent.

Dit sou egter interessant wees om dit vir misdadigers (die gangsters wat die Kaapse Vlakte so mildelik beset) te vertoon en te hoor wat hul reaksie is. Dalk sal hulle voel dat dit hul ware probleme versigtig omkring, maar nie regstreeks hanteer nie, iets wat The Four Corners so brutaal reggekry het. Laasgenoemde is so pynlik soos kneukels wat in 'n kaasrasper gekneus word waar meer as die vel afgeskraap word.

Cold Harbour lyk dus na 'n gesaniteerde televisieweergawe van dieselfde soort storie.

Suid-Afrikaanse akteurs bewys egter weer dat hulle topgehalte spel kan lewer. Tony Kgoroge is gesaghebbend en beginselvas as Miya, ? eerlike polisieman wat geteister word deur al die korrupsie en verleiding om hom.

Maar daardie ferm trek om sy mond en die strak maar wakker-slim oë weerspieël sy innerlike landskap: 'n Ontnugterde pa wie se seun pa-loos grootword omdat hy en sy vrou geskei het, 'n siel wat gefolter word deur die alledaagse katastrofes wat deel is van Suid-Afrikaner-wees.

Dit is ook verblydend om Deon Lotz weer 'n uitdagende rol te sien speel. Hy lewer vreeslose spel van dieselfde gehalte wat sy vertolking in Skoonheid gekenmerk het. So dikwels wil dit lyk of Lotz se talent vermors word op rolle wat hy in sy slaap kan speel. Venske sit sy broek vol in Lotz se professionele vertolking. Knap gedaan!

Xenofobie word ook aangeraak wanneer 'n politieke aktivis, nou sonder 'n oorlog, in 'n demokratiese Suid-Afrika beland wat nie sy beloftes gestand doen nie. Miya is maar net te bewus daarvan dat demokrasie misdadigers te veel vryheid bied en te min mag in die polisie se hande sit – temas wat Carey McKenzie met 'n beweeglike kamera en strak kleure ondersoek.

Selfs die sonskyn is bleek wanneer die son deur die grys wolke breek en verskaf nooit hitte nie. Die rolprent se atmosfeer bly dus so koud soos die kouefronte wat die Kaap tref.

Tog wonder 'n mens of hierdie tema nie volgende keer met meer waagmoed en realisme aangepak moet word nie. Hierdie goeie boodskap moet so kragtig ingeklee word dat dit 'n sterker impak het en nie bloot 'n magtelose situasie hervertel wat ons almal goed ken nie.



Nuwe flieks

STEP UP: ALL IN (3D) *

Vergeet van jou plaaslike sokkiejol. Hier verander ? dol dansery in akrobatiese toertjies wat energie soos verskietende vonke laat spat.
'n Groep straatwys-dansers, ook Ryan Guzman met sy loslit-houding, dans al die nukke uit Las Vegas (en dit nogal in 3D) wanneer voormalige vriende dans-teenstanders word.
As jy 90 minute lank na wikkelboudjies en mense mooier as in karadvertensies wil staar, sal hierdie een jou kitaarsnare styf laat span. Vir die res, kies iets met meer om die lyf as 'n sexy sespak.

THINK LIKE A MAN TOO**

Dié aanstellerige vervolg het min met die oorspronklike rolprent te doen. Nes in Step Up beland 'n klomp mooi mense in Las Vegas, maar met meer dialoog en minder gimnastiek.
'n Paar kwinkslae en geykte storieslenters kan dit egter nie van voorspelbaarheid red nie.
Dis aan te bevele as jy net wil tjil en die breinselle afskakel, maar onuitstaanbaar as jy na pitkos soek.

Lokettreffers

Die topverdieners by die ­loket die afgelope week (met Leon se ster-gradering daarby) was:

1. Neigbors * R1 770 013
2. Dawn of the Planet of the Apes **** R1 665 651
3. Transformers: Age of Extinction * R1 542 894
4. How to Train Your Dragon 2 **** R1 343 352
5. Blended * R1 171 111
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
67% - 951 votes
No! It's time to move on ...
33% - 465 votes
Vote
Rand - Dollar
18.80
+1.1%
Rand - Pound
23.49
+1.3%
Rand - Euro
20.10
+1.5%
Rand - Aus dollar
12.28
+1.0%
Rand - Yen
0.12
+2.8%
Platinum
923.40
-0.2%
Palladium
957.50
-3.3%
Gold
2,336.75
+0.2%
Silver
27.20
-0.9%
Brent Crude
89.01
+1.1%
Top 40
69,358
+1.3%
All Share
75,371
+1.4%
Resource 10
62,363
+0.4%
Industrial 25
103,903
+1.3%
Financial 15
16,161
+2.2%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE