Maansie is soos ’n kleinboet met liefde grootgemaak totdat sy stoutigheid onbeheerbaar geraak het. Vrylaat kon hulle hom nie, want daar was geen maatjies in die omgewing nie.
Hy is toe aan ’n paal met ’n houthuisie bo-op vasgeketting. Toentertyd was dit nie ’n ongewone gesig nie; vandag is dit ’n strafbare wreedheid.
Eendag gee hulle hom ’n streepsak met ’n dooie slang daarin. Agie soos hy was, vroetel hy die ding uit, slaan histeries agteroor en slinger die slang skreeuend van hom weg. ’n Slang het hy nog nooit gesien nie, sy vrees moes dus geneties in sy brein vasgevang gewees het.
Neem nou mensbabas. Stel hulle vanaf geboorte bloot aan die ouers se geloofslewe en verhale saam met moedersmelk.
Dit vind neerslag in hul onderbewussyn, van waar dit in hul latere lewe dieselfde onbewustelike effek op hul gedrag en geloofsoortuigings het as Maansie se geneties geprogrammeerde vrees vir slange.
As volwassenes het ons gevolglik oortuigde Moslems of Hindoes of Christene met stemmetjies wat diep uit hul onderbewussyn ewe oortuigend tot hulle almal “spreek”, in die “taal” van die geloof waarin hulle gebore is.