Share

Die kollig is op: Oscar

Die prentjie van Reeva se wonde is vir ewig in die oudpolisieman Hilton Botha se geheue gegraveer, lui ’n uittreksel uit ’n boek deur Ilse Salzwedel.

Ek ontmoet Hilton Botha op ’n koue vroegherfsdag in 2013.

Sedert die Pistorius-borgtogverhoor en sy aankondiging dat hy uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bedank het, het die publiek hom ook nie gespaar nie: Daar is op sosiale media bespiegel dat hy betaal is om inligting oor die toneel te weerhou.

Boonop is die indruk in die media geskep dat hy ’n korrupte polisieman is wat dronk was tydens ’n skietery op onskuldige mense in ’n taxi en dat hy in die eerste plek nie so ’n prominente saak moes ondersoek nie.

Botha praat vinnig, asof daar min tyd en baie werk is. Hy is ’n vriendelike man met ’n groot passie vir sy beroep en veral vir slagoffers.

Is hy bitter oor alles wat gebeur het? “Natuurlik is ek! Dis nie lekker om sulke goed te lees nie, veral nie nadat ek so toegewyd was aan die polisie en die bekamping van misdaad nie.”

Die indruk dat hy nie sy werk gedoen het nie, maak die seerste.

Dit was vir hom vernederend om in koerante te lees dat hy nie eens die afstand kon skat tussen Oscar se huis en die woning van die getuie wat die gille gehoor het nie. “Man, ek is mos nie stupid nie! Natuurlik ken ek die verskil tussen 600 meter en 300 meter, maar ek wou ook nie sê presies waar die persoon woon nie, want ons wil die getuie beskerm. ’n Mens weet nooit watter soort inmenging daar kan wees met getuies voor die hoofverhoor nie. Weet jy hoe ver het mense daardie nag die gille gehoor? Ek kan vandag vir jou sê: Twee van die getuies woon in die sekuriteitskompleks langs Oscar s?. Dís hoe ver klank in die nag trek.”

En ja, dit was vir hom onaangenaam om so vir die mediawolwe gegooi te word oor die saak waarin sewe aanklagte van poging tot moord teen hom en twee kollegas aanhangig gemaak is ná ’n voorval waarin hulle na bewering dronk aan diens was.

“Daardie saak is teruggetrek!

“Ons borgtoggeld is selfs destyds aan ons terugbetaal! En skielik, hier in die middel van Oscar se borgtogverhoor, word die aanklagte weer ingestel en niemand van ons weet daarvan nie. Ek moes dit by lede van die media verneem. Ek glo die inligting is met ’n doel uitgegrawe: om die fokus van Oscar te verskuif na my toe.”

Maar wat presies hét daardie nag gebeur?

“My bevelvoerder, kolonel Schoombé van Rensburg, het my omtrent 04:00 wakker gebel en gesê Oscar het sy meisie geskiet,” sê Botha. Vyftien minute later was hy op die toneel. Kolonel Van Rensburg en kaptein John Maluleke was reeds daar, asook twee ander speurders wat toevallig na ’n huisrooftog elders in Pretoria uitgeroep is toe die polisielede wat die skoftevoertuig dié nag beman het, laat weet het van die skietery.

“Daar was (ook) ’n vriend van Oscar (die landgoedbestuurder, Johan Stander) vir wie Oscar gebel het vir hulp, en die vriend se dogter. Verder was daar ’n paar sekuriteitswagte van die landgoed – seker so vier, as ek reg onthou.

“Ek het die huis deur die voordeur binnegegaan. Oscar en sy vriend was in die motorhuis toe ek daar aankom. Mashisi, een van ons speurders, het regs van die binnedeur na die motorhuis gestaan. Sy opdrag was om die verdagte veilig te hou. Ek het ook Reeva se liggaam sien lê. Dit was met handdoeke bedek.”

Van Rensburg en Botha is saam by die huis se trappe op om na die toneel in die badkamer te gaan kyk.

Sy bevelvoerder het moontlike bewysstukke aan hom uitgewys, onthou Botha.

Hy onthou die baie bloed in die badkamer. “Dit het gelyk asof iemand die bloed probeer opvee het met handdoeke.” Dit het hom opgeval dat daar geen voetspore in die bloed was nie. “Met so baie bloed op ’n toneel verwag ’n mens tog dat daar spore sal wees.”

Nadat hy en sy bevelvoerder die badkamer en kamer gefynkam het, het Botha gaan kyk waar Reeva se liggaam lê.

“Daarna het ek na Oscar gestap en myself voorgestel.

“Toe vra ek hom wat gebeur het.”

Oscar se antwoord was presies dieselfde as aan Van Rensburg: “I thought she was a burglar.”

“Hy het toe weer op ’n bankie gaan sit met sy kop in sy hande, en ek het die motorhuis verlaat.”

Botha het met sy bevelvoerder saamgestem dat Oscar vir moord in hegtenis geneem moet word.

Die prentjie van Reeva se wonde is vir ewig in Botha se geheue ingegraveer, saam met dié van al die ander lyke wat hy al in sy loopbaan gesien het. Sy het nog in die voorportaal van Oscar se huis gelê toe hy vir die eerste keer na haar skietwonde gekyk het. “Die heel eerste wond wat ek gesien het, was die een aan haar regter-elmboog. Daar was ’n klein gaatjie in die voorkant van haar arm, maar die uitgangswond was gróót.”

Haar kop, onthou hy, was so bebloed dat hy nie dadelik die plek kon sien waar die koeël haar skedel binnegedring het nie. “Eers het dit vir my gelyk soos twee gaatjies bokant haar oor, maar later het ek besef dis een koeël wat ontplof het en haar skedel gekraak en laat oopbreek het.”

Die model se bos blonde hare was donker en deurdrenk van die bloed.

Die derde wond was die een aan haar heup. Kaptein Chris Mangena, die polisie se ballistiese deskundige, het in die moordverhoor getuig dat die eerste skoot Reeva se heupbeen heeltemal verbrysel het, wat veroorsaak het dat sy geval het.

Mangena het ook getuig dat sy agter die toiletdeur gestaan het toe sy in die heup getref is en nie op die toilet gesit het nie.

Botha se waarnemings klop met ­Mangena se bevindings. “Die koeël het haar in die omgewing van haar hardloopbroekie se rek getref en daar was ’n gat in haar broek. Dit dui daarop dat haar broek opgetrek was toe sy geskiet is – sy het beslis nie op die toilet gesit om te urineer toe sy geskiet is nie. Die lyk­skouer het dit ook gesê. Die skoot in die heup sou haar verlam het en haar dadelik laat val het.”

Tydens ons gesprek was Botha vasbeslote daaroor dat Reeva in die elmboog geskiet is terwyl sy haar, in ’n sittende posisie op die vloer, teen nog koeëls probeer beskerm het. “Daar was ook ’n wond aan een van haar vingers.”

Dit was Botha se onaangename taak om Reeva se naasbestaandes van haar dood in kennis te stel. Hy het dit reeds baie vroeg die oggend gedoen.

“Ek wou nie hê hulle moes deur die media daarvan hoor nie,” vertel hy.

“Ek het eers haar ma gebel, maar geen antwoord gekry nie. Toe het ek haar pa gebel, maar hy het ook nie geantwoord nie.”

Hy het toe weer vir June Steenkamp gebel. Dié keer het sy geantwoord.

Dit was die een oproep wat elke ouer vrees. “Ek het haar eers gevra of sy ’n dogter met die naam Reeva het. Toe sy ja sê, het ek vir haar gesê iets verskrikliks het gebeur. Oscar het haar dogter doodgeskiet.”

Daaroor is hy spyt. “Ek moes eerder iets gesê het soos ‘daar was ’n skietongeluk by Oscar se huis’. Ek wou keer dat sy iets ergers hoor in die media, maar eintlik is al hierdie goed ewe erg.”

Dit was nie die eerste keer dat hy sulke slegte nuus aan naasbestaandes moes oordra nie, maar hy onthou June se reaksie asof dit gister gebeur het.

“Sy het net histeries begin skree en huil.”

In ’n eksklusiewe onderhoud in Julie 2014 met Hello! vertel June dat Botha haar omstreeks 07:00 gebel het. “Ek het histeries geword. Toe moes ek vir Barry vertel. Sy reaksie... dit was aaklig. Ons albei het in ’n wandelende koma gegaan.

“Dis al manier hoe ’n mens dit kan beskryf.”

Later het hy haar weer gebel, onthou Botha. “Ek wou meegevoel betuig.

“Die eerste keer het ek nie kans gehad nie. En ek wou hoor hoe dit gaan. Maar toe het iemand anders die foon geantwoord. Ek het gevoel dis my plig om hulle op die hoogte van die ondersoek te hou.”

Hy het die Steenkamps nooit besoek nie. “Kolonel van Rensburg en brigadier Denise Beukes het hulle gaan besoek.”

Teen die tyd dat Botha die Steenkamps gebel het, was advokaat Kenny Oldwage reeds by Oscar se huis om met sy kliënt te konsulteer.

By Oscar se huis was die polisiefotograaf steeds besig om die toneel op film vas te lê. Hy het vir Botha die vuurwapen gewys wat wederregtelik beveilig is deur ene luitenant-kolonel Motha. “Niemand mag ’n vuurwapen beveilig voordat die fotograaf dit afgeneem het nie. Jy mag aan absoluut niks ráák op ’n toneel voordat die fotograaf dit afgeneem het nie. Niks mag geskuif word nie – daar word as ’t ware voor- en agternafoto’s geneem van die toneel. Met ander woorde soos die polisie dit aangetref het, en dan nog meer foto’s soos wat die polisie-ondersoek vorder.

“Met Reeva, byvoorbeeld, het Van Staden eers foto’s geneem van haar liggaam soos ons dit aangetref het toe ons daar aangekom het – bedek met handdoeke.

“Eers toe ons tevrede was dat hy alles gedokumenteer het, het ons die handdoeke afgehaal en hy het die wonde individueel afgeneem en alles gedokumenteer.’

Vir Botha was dit, in sy eie woorde, ’n straightforward saak. “Dit was Oscar se vuurwapen en hy het self erken hy het haar geskiet. Daar was geen teken van gedwonge toegang of dat daar ’n ander persoon op die toneel was wat dit moontlik kon gedoen het nie. Die staat moes egter sy bedoeling bewys, en daarom was dit nodig om te kyk na inligting op die fone: Wie is gebel, van wie of aan wie was daar SMS’e, en of daar ’n moontlikheid was dat hulle ’n rusie gehad het wat op die skietery uitgeloop het.”

Botha het elke faset van die saak bedink en ondersoek.

Die twee honde in die agterplaas, vertel hy, het “verskriklik” geblaf elke keer as ’n polisieman deur die badkamervenster gekyk het.

Hoekom was hulle die nag tjoepstil?

“As daar ’n inbreker was, sou hulle mos verskriklik te kere gegaan het.

“Die bure het geen honde gehoor nie, net ’n man wat huil.” Daar was wel drie lere in Oscar se agterplaas, nes hy in sy borgtogverklaring aangedui het.

“Maar dit het plat op die grond gelê, en daar was heelwat stof en goed teen dit wat vir my daarop gedui het dat dit al baie lank daar lê.”

Ons praat oor ander aspekte van die saak wat in die borgtogverhoor onder skoot gekom het. Soos die koeël wat in die toilet gevind is. “Daar was soveel bloed daar dat hulle dit waarskynlik net misgekyk het. Dis in elk geval nie die ondersoekbeampte se taak om vir ’n projektiel te soek nie, maar dié van die Crim­e Scene Management-span. Hulle moet die toneel volledig ondersoek en alle bewysstukke versamel.”

Die koeël in die toilet is in elk geval, wat hom betref, irrelevant in hierdie spesifieke saak.

“Daar is baie daarop gehamer in die borgtogverhoor, maar ons het van die begin af geweet Oscar het vir Reeva geskiet. Hy het dit immers self erken. So, een koeël wat nie raakgesien is nie, maar deur hul ondersoekspan gevind is, gaan glad nie ’n verskil aan die uitslag van die saak maak nie.”

Die bohaai oor die feit dat hy nie skoenbeskermers gedra het op die toneel nie, was wat hom betref niks anders as om die fokus van Oscar af te lei nie.

“Skoenbeskermers is baie belangrik op ’n toneel waar daar vrae is oor wie die daad gepleeg het. Dan móét jy dit dra om te keer dat jy enige DNS op die toneel versteur.

“Maar hier was ’n man wat erken het dat hy sy meisie geskiet het – daar was nie sprake van ’n ander mens op die toneel nie. En laat ek jou vertel presies wat hier gebeur het: Dit was reeds die Sondag terwyl ek sit en wag het dat die mense van CSM die toneel ontruim.

“Alles was reeds klaar ondersoek toe Carl Pistorius daar opdaag met planne van Oscar se huis wat ons aangevra het. Ek het op die onderste verdieping gesit en wag dat almal op die boonste vloer hul laaste goed afhandel, en toe ek hom hoor stilhou, het ek uitgestap.

“Dis toe dat hy vir my sê hy sien ek dra nie skoenbeskermers nie en dat hy sal sorg dat die verdediging dit weet.

“Nadat ons die Sondag klaar was, is die toneel aan die verdediging oorhandig vir hul ondersoek. Hoe lank hulle daarmee besig was, weet ek nie.”

Oor wie na bewering twee horlosies uit Oscar se versameling gesteel het, kan hy ook maar net wonder.

“Daar was te veel toegang op daardie toneel. Toe ek die eerste keer daar aankom, was ’n klomp mense al deur die toneel.

“Maar ek belowe jou, toe ek daardie oggend daar weg is, was die horlosiekas vol.

“Toe ek terugkom by die huis nadat ek Reeva se liggaam na die lykshuis vergesel het, het ek dadelik gesien daar is horlosies uit die kas geneem.”

Kolonel Van Rensburg het tydens die moordverhoor getuig dat hy besef het die versameling van agt horlosies kan baie aanloklik lyk vir iemand met lang vingers en dat Oscar se hele huis trouens vol waardevolle memorabilia was. Sommige van die horlosies was tussen R50 000 en R100 000 werd, en daarom het Van Rensburg streng instruksies gegee dat die fotograaf en forensiese ondersoekers ’n oog daaroor hou. Later die oggend het Van Rensburg gesien daar is nog ’n horlosie weg, en hy het daarop aangedring dat al die forensiese ondersoekers van Crime Scene Management deursoek word.

Al die voertuie en die res van die huis is ook deursoek, maar die horlosie is nooit gevind nie.

Hierdie is ’n geredigeerde uittreksel uit Van sprokie tot tragedie in die kolligdeur Ilse Salzwedel. Dit word gepubliseer deur Penguin en kos R195.

*  Regter Thokozile Masipa het Vrydag vir Oscar Pistorius onskuldig bevind aan moord met voorbedagte rade. Hy is wel skuldig aan manslag.


We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
31% - 476 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
69% - 1045 votes
Vote
Rand - Dollar
19.29
-0.7%
Rand - Pound
23.87
-1.1%
Rand - Euro
20.58
-1.2%
Rand - Aus dollar
12.38
-1.1%
Rand - Yen
0.12
-1.2%
Platinum
943.50
+0.0%
Palladium
1,034.50
-0.1%
Gold
2,391.84
+0.0%
Silver
28.68
+0.0%
Brent Crude
87.29
+0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE