Share

Grondeise: Die plaas se naam was Boomplaats

In 2001 was Yolanda Barnard daar toe die boer sy plaas vr die Dinkwanyane-gemeenskap moes gee. Nou was sy weer daar...

Dit was ’n slag vir Boomplaats. Daardie dag. Iewers in 2001. Dit het gereën. En Lydenburg (of Mashishing soos dit vandag heet) in Mpumalanga was groen.

Weg was die stof wat die dorpenaars na hul sakdoeke laat gryp het. Dit het gereën. Dae aaneen. Die grondpad na Boomplaats, ’n vooruitstrewende bees- en mielieplaas sowat 18 km buite die dorp, was ’n modderpad.

Die aanhoudende gietende reën het die bruin grond rooi verkleur. Amper soos bloed. Amper 20 jaar lank het Willem Pretorius Boomplaats se 1 200 ha met bloedsweet opgebou.

Die destydse minister van landbou, Thoko Msane-Didiza, het op die modderpad aangesukkel om die plaas aan die Dinkwanyane-gemeenskap te oorhandig. Wit Colgate-glimlagte en CNN en die BBC wat agter Didiza en haar falanks aankarring. Heel voor het ek in ’n stok­ou Jetta gery. Toe val die Jetta vas en die minister en haar bebrilde men in black klim uit die ampsmotors en doen behoorlik ’n rieldans in die modder.

“Dit is ’n belangrike dag vir Suid-Afrika,” het Didiza gebrom terwyl ’n paar joernaliste en haar manne in duur baadjies en skoene die motor uit die modder stoot.


Voor die netjiese siersteen-plaashuis het die verteenwoordigers van die sowat 400 Dinkwanyane-gesinne gewag. Iewers het ’n bees gebulk. Op die trappe van die huis het Pretorius gestaan. Sy vingers styf-wit om sy huis se sleutels.

Terwyl die skare dans en Psalms en Gesange uitjubel, het Pretorius se gesig nat geword. Dalk was dit net die reëndruppels...

Die Dinkwanyane-gemeenskap se geskiedenis is kompleks. Die eerste hoofman van Boomplaats het in die vroeë 1900’s met ’n tweede vrou getrou. Ná sy dood in 1929 het dié vrou sy eerste vrou en haar kinders van die plaas afgeskop.

In die 1960’s is die tweede vrou en haar familie deur die voormalige apartheidsregering van die grond verwyder omdat dit nie in ’n swart woongebied was nie.

Pretorius het die plaas in 1982 gekoop. Maar toe kom vra die hoofman se eerste familie, die Dinkwanyane-gemeenskap, die grond terug.
Die grondeisekommissie het Pretorius R848 000 vir die plaas aangebied, maar hy het vasgeskop.

Toe kry hy ’n kennisgewing van die regering: Verkoop vrywillig of ons onteien dit. Hy was die eerste boer in Suid-Afrika wat ’n onteieningskennisgewing gekry het. Dit het die landbougemeenskap geruk.

Daar was hofsake. Die grondeisekommissie het die koopprys met R435 000 verhoog en Pretorius het dit in Junie 2001 teësinnig aanvaar.

“Op die einde het ek gewen, maar steeds verloor,” het hy destyds gesê.

“Oor 20 jaar sal ek steeds kwaad wees oor my plaas, net soos die Dinkwanyanes ná 40 jaar nog kwaad is.”

Destyds het Phineas Molatsi, woordvoerder van die stam, gesê hulle het baie meer verloor as Pretorius. “Hy kry geld. Ons kry net die grond wat aan ons behoort het,” het hy gesê.

Hulle was gereed om te boer. Die hoofman van die Dinkwanyane-gemeenskap het al begin eiers verkoop, ’n skool en ’n kliniek gebou en beeste geslag.

Pretorius het met die nuwe eienaars hand geskud, sy beeste op trokke gelaai (sy kudde was nie by die koopprys ingesluit nie) en nooit weer teruggekyk nie.


Dertien jaar later kry ek Pretorius (nou 63) voor die Wimpy in Mashishing se hoofstraat. Sy 4x4 is so skuins getrek. Sy bakkie lyk net so bemoerd soos die boer wat die trappies een vir een opdraf. Sy snor tril saam met sy boerepens. Goed bemoerd.

“Nou hoekom moet julle nou weer die geskiedenis kom afstof? Dit is verby. Boomplaats is verby. Ek sit nie meer my voet daar nie. Ry net so af en toe daar verby.” Hy bestel ’n Coke Zero en rits die vloekwoorde af...


Op Boomplaats gaan daar deesdae niks aan nie.

Die aarde is vrugbaar, daar is genoeg water en weiding beskikbaar en dit is ’n mooi plaas, so tussen die koppies.

“Maar daar was net nooit geld om ’n volskaalse boerdery op die been te bring nie,” sê Michael Ncongwane, ’n bestuurslid van die Boomplaats-komitee en ook burgemeester van die Thaba Chweu-munisipaliteit (wat Lydenburg insluit).

Pretorius beaam dit. Hy sê hy was destyds ’n ryk man. Die plaas het voorsien. Dit was die land van melk en heuning.

Maar nou is die draadhek met ’n draadjie vasgemaak en dit sug toe ons dit oopmaak.

“Hallo,” roep ons, maar ons stemme eggo teen die koppies.

Die eens spoggerige huis is vervalle. Dit kort werk. Niks beweeg of roer nie. Daar is nie ’n kledingstuk wat op die draad wapper nie. Nie ’n haan wat op die werf kraai of ’n hoender wat skrop nie. Die aarde is dor en bruin. Moedeloos gewag.

So ’n klipgooi van die verlate woonhuis is ’n paar sinkhuise gebou, maar die inwoners werk almal in die dorp.

Mense van die omgewing sê daar is nooit weer sedert 2001 op Boomplaats geboer nie.

“Daar is ’n opsigter, maar die grond word aan boere verhuur vir weiding. Sekere familielede het in die huis ingetrek, maar dis nou alles vernietig. Hulle het selfs die matte verbrand. Hulle wou niks oorhou van die apartheidsverlede nie. Kort nadat die grond na hulle oorgedra is, het hulle die plaas verlaat.”

Ncongwane het bevestig dat daar nog nie volskaals geboer word nie.

“Ons het begin met ’n hersoneringsproses. Die gemeenskap wil ’n informele nedersetting (township) daar begin. Van boerdery is daar nog nie sprake nie,” sê hy.

“Maar die mense wil terug gaan na hul grond toe. Dit behoort aan hulle.”

Ncongwane sê hulle het baie planne met die plaas gehad, maar ná vele vergaderings met die grondeisekommissie kon hulle nie genoeg geld kry om ’n boerdery daar te begin nie. “Nou wil die gemeenskap net daar woon.”


“Ek het julle gesê daar gaan niks op Boomplaats aan nie.” Dit is ’n bedompige wintersdag hier in die hoofstraat van Mashishing. Pretorius vee die sweet van sy voorkop af en vat ’n slukkie van sy Coke Zero.

“Ek was destyds op 17 televisiekanale en in elke koerant in die land. Ek het gehoop die gemeenskap gaan op die plaas boer, maar hul woorde was leeg. Leeg. Twintig jaar het ek op daardie plaas geboer.”

En toe gaan koop hy ’n nuwe plaas met die geld wat hy vir Boomplaats gekry het.

Twaalf dae nadat hy die plaas gekoop en weer begin boer het, is hy met nog ’n grondeis geslaan. “Dit word vanjaar afgehandel, 12 jaar later.”

Pretorius en sy seuns is nou op pad Swaziland toe. Hy en sy beeste en sy oudag-drome.

“Dit is waar ons wit boere nog welkom is. In Swaziland.”

Hy klap die deur toe en sy bakkie brul weg.

* Lees ook: 'Verhuur eerder dan dié plase'


Willem Pretorius op Boomplaats kort voordat hy die grond verlaat het.


Boomplaats: 12 Jaar later. | Foto: Brendan Croft


’n Jubelende Hosea Phala, voorsitter van die Dinkwan­yane-gemeenskapskomitee, hou Boomplaats se sleutels omhoog nadat die plaas in 2001 aan hulle oorhandig is.





We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do airplane mishaps have any effect on which airline you book your flights with?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, these things happen. I pick based on price
49% - 501 votes
Yes, my safety matters. I don't take any chances
51% - 524 votes
Vote
Rand - Dollar
19.11
+0.4%
Rand - Pound
23.80
-0.4%
Rand - Euro
20.46
-0.0%
Rand - Aus dollar
12.40
-0.2%
Rand - Yen
0.12
+0.4%
Platinum
920.40
-1.1%
Palladium
1,026.50
+1.1%
Gold
2,322.61
-0.2%
Silver
27.34
+0.6%
Brent Crude
87.00
-0.3%
Top 40
68,051
+0.8%
All Share
74,011
+0.6%
Resource 10
59,613
-2.2%
Industrial 25
102,806
+1.7%
Financial 15
15,897
+1.8%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE