Share

Joga gee ‘vryheid’ in hul tronksel

Joga word al jare lank suksesvol aangebied in tronke in die VSA, Brittanje en Indië. Kan joga ook ’n praktiese dissipline wees vir rehabilitasie in Suid-Afrika se oorvol tronke, of is dit hippie-wensdenkery? vra Surita Joubert.

In die hartjie van die Pollsmoor-gevangenis, tussen koue, hoë betonmure, is daar Woensdae vir ’n uur of wat ’n oase van kalmte.

“Dit is ’n aaklige, aaklige plek. Daar is geen natuurlike lig nie en geen plante nie. Weens die hoë plafonne en kaal betonmure is daar aanhoudend weergalmende klanke en nooit ’n oomblik van stilte nie. Daar is ook ’n oorweldigende reuk van die een of ander ontsmettingsmiddel,” sê Leela Codron.

Sy en Brian Bergman van Kaapstad het in 2010 die vrywilligersorganisasie SevaUnite begin wat onder meer jogaklasse aan gemeenskappe en groepe bied wat nie andersins daartoe toegang het nie. Albei het in Indië joga gestudeer.

Danksy die reuse-sukses van jogaprogramme in tronke in ander lande het hulle besluit om ook in gevangenisse in Suid-Afrika joga-onderrig te gee.

Tot nou het SevaUnite slegs toegang tot die Pollsmoor-gevangenis gehad, en van einde vandeesmaand af sal hulle ook in die Malmesbury-gevangenis kan klasgee.

Wat merkwaardig is van hul program is dat gevangenes wat joga-onderrig in Pollsmoor ontvang het en ná vonnisoplegging oorgeplaas is na ander tronke in die Wes-Kaap, uit vrye wil voortgegaan het met hul jogaklas, op hul eie of deur korrespondensie met Codron en Bergman.

Sommiges het selfs jogagroepe in die nuwe tronk begin.

Codron vertel: “Dit is ongelooflik hoe joga in ander tronke in die Wes-Kaap posgevat het sonder dat ons fisiek self daar kan wees.
Byvoorbeeld, een van ons toegewydste studente, Patrick*, het in Pollsmoor net een klas by ons gehad waarna hy na die Brandvlei-gevangenis in Worcester oorgeplaas is. Daar het hy op eie inisiatief ’n jogagroep begin.

“Ons modules is so uitgewerk dat enigeen self sonder ’n instrukteur kan leer joga doen en selfs vir ander jogalesse kan gee. Ons het ook ’n korrespondensiekursus ontwikkel waardeur gevangenes met handleidings, wat ons vir hulle pos, hulself kan leer.”

SevaUnite bied weekliks op ’n Woensdag klasse in Pollsmoor aan vir groepe van tussen 15 en 50 verhoorafwagtendes, reeds gevonniste gevangenes en diegene wat wag op vrylating. Verder bied hulle korrespondensie-kursusse aan vir gevangenes van die Brandvlei-, Worcester-, Malmesbury- en Helderstroom-gevangenis. Hulle wil uiteindelik joga in elke tronk in die land aanbied.

“Die reaksie van die bewaarders is dat die gevangenes ná ’n jogaklas heelwat kalmer is en dat hul optrede stabieler is.

“Die ontspanningseffek wat joga het, is byna onmiddellik. Ek en Brian kan ná ’n een-uur-jogales sien dat die mans aansienlik rustiger is.

Sommige van hulle raak selfs aan die slaap wanneer ons die klas afsluit met ’n ontspanningsoefening waar hulle op hul rug lê,” vertel Codron.

Uiteraard kan daar nie in ’n tronk, soos in jogasentrums, ’n kalmerende ruimte ingerig word met rustige agtergrondmusiek en geurige olie of wierook wat gebrand word nie.

“Daar is by ons geen illusie dat die gevangenis ’n lekker en aangename plek is nie. Ons klasse word in die hartjie van die tronk aangebied en is geensins verwyderd van die gevangenes se daaglikse bestaan nie.

“Die vertrekke waartoe ons toegang het vir ons lesse is kaal betonruimtes met hekke, en al wat ons inneem is die jogamatte.

“Wanneer dit reën, lek dit vreeslik in die tronk. Daar is selfs stalaktiete teen die plafonne. Die vloer van een van die vertrekke waarin ons lesse aanbied, word soms heeltemal nat wanneer dit reën.

“Dit is ’n plek met geweldige stres vir gevangenes en vir bewaarders. Die spanning is duidelik sigbaar in die stywe skouers en die fronsende gesigte.”

Codron sê daar is werklik bitter min wat gevangenes aanspoor om gerehabiliteer te raak. Dit is vir haar onbegryplik dat iemand kan dink dat so ’n verskriklike plek iemand sal motiveer om te verander.

Kan joga dan werklik ’n bydrae maak in so ’n miserabele omgewing?

“Joga is ’n uiters praktiese dissipline en ons lesse is juis daarop gefokus om gevangenes prakties te help om die spesifieke uitdagings en spanning waarmee hulle daagliks te doen het, te hanteer. Ons moedig hulle byvoorbeeld aan om ’n kalmerende asemhalingsoefening te doen wanneer daar konflik in hul sel is, wanneer hulle in lang rye moet staan of wanneer hulle om watter rede ook al ontsteld is.

“Ons leer hulle ook dat joga in die eerste plek ’n bewegingsdissipline is. Met liggaamlike oefeninge kalmeer jy jou liggaam en sodoende ook jou verstand en emosies, wat help dat jy helderder dink voordat jy reageer.”

Volgens Codron is ’n baie belangrike aspek van joga die aanvaarding van jou omstandighede en om daarmee te werk en die beste daarvan te maak. Dit bring vrede vir enige mens in enige stadium van sy lewe. ’n Gevangene sal nie vrede vind in die verwyt en getob oor die verlede of in die hunkering na ’n vry bestaan in die toekoms nie, maar in die aanvaarding dat hy nou opgesluit is en sy tyd in die tronk so produktief moontlik moet gebruik.

“ ’n Mens se gedagtes en begeertes kan ook ’n ‘tronk’ wees, al is jy nie opgesluit nie en ek dink dit is so vir baie mense. Heelwat van die gevangenes sê vir ons dat hulle met joga vir die eerste keer werklik vry voel. Patrick, wat ’n 20-jaar-vonnis vir dwelmsmokkelary uitdien, het onlangs gesê hy het nog nooit so vry gevoel soos nou nie.”

Die instrukteurs probeer met elke les ’n warm, aangename ervaring aan die mans te bied. Daar word dikwels gelag. “Wanneer ons ’n nuwe posisie demonstreer, maak hulle grappe oor hoe onmoontlik dit is om dit reg te kry, en lag dan ook wanneer hulle dit self moet probeer. Ons doen met elke klas die nar-posisie, waar jy gedeeltelik op jou kop staan en jou knieë op jou elmboë rus. Dié posisie laat hulle keer op keer lag!” sê Codron geamuseerd.

In ’n jogaklas kom die mans se oortredings nooit ter sprake nie en die instrukteurs voel nooit bedreig nie, selfs nie Codron nie, al is ’n vrou ’n buitengewone verskynsel in ’n gevangenis vir mans.

“Ek vra nooit uit oor die mans se oortredings nie. Ek voel dit is nie relevant vir wat ek hulle graag wil leer nie.

“Ons gee nie les vir die maksimum-sekuriteitsgevangenes nie, maar daar is nietemin altyd ’n wag teenwoordig met elke klas. Ek voel nooit bang nie. Ons word altyd met respek en nuuskierigheid behandel. Ek sou dit nie gedoen het as ek enigsins ongemaklik gevoel het nie.

Trouens, dit is ek en Brian se gunstelingwerk elke week. Ons is altyd meer opgeruimd wanneer ons daar uitstap as voor die tyd.”

SevaUnite en die gevangenes wat toegewyd is aan joga, kry natuurlik ook teenkanting. Codron sê van die godsdienstige groepe in die tronke voel joga druis teen hul beginsels in en dat joga die aanbidding van iets vreemds is.

“Dit is maar onkunde en wanindrukke. Joga is nie ’n bedreiging vir enige godsdiens nie en jy hoef nie te kies tussen die een of die ander nie.”

En dan is daar diegene wat gevangenes net die slegste toewens en dink jogaklasse is ’n luukse wat nie in ’n tronk hoort nie.

Codron frons diep: “So ’n ingesteldheid maak my baie hartseer. Hoe moet ’n gevangene dan ooit aanbeweeg? Ons almal het al verkeerde besluite geneem en was spyt daaroor. Dink net hoe aaklig dit sou wees as jy vir altyd vasgekluister is aan jou verkeerde besluit en nooit weer kan aangaan met jou lewe nie. Daar is altyd ruimte vir verandering vir enigeen.”

‘Die mans is rustiger; het ’n soort vrede’

June Loff is ’n bewaarder in die maksimum-veiligheidseenheid van die Brandvlei-gevangenis in Worcester.

Sy is al 28 jaar ’n bewaarder en sê sy het nog nooit ’n program gesien wat so ’n positiewe invloed het soos die jogaprogram nie. “Dit het alles begin toe Patrick* ná een jogaklas in Pollsmoor oorgeplaas is na Brandvlei,” sê Loff.

“Patrick het voortgegaan met joga en ander gevangenes ook geleer. Ek het opgemerk dat die gevangenes wat joga doen meer gedissiplineerd raak en meer gefokus geword het om hulle op alle terreine te ontwikkel.”

Loff het te hore gekom van William*, wat in ’n stadium in die Brandvlei-gevangenis was en intussen oorgeplaas is na die Worcester-gevangenis. Toe hy in Brandvlei was, het hy ook joga begin studeer. Sy het hom besoek en hy het haar vertel dat hy ophou rook het en selfs nie meer vleis eet nie.

“Ek kon dit nie glo nie. Dit was toe al die tweede gevangene wat my vertel het hy eet nie meer vleis nie omdat hy die beste wil maak van sy jogastudie. Waar het jy nou al van so iets gehoor?”

Loff het ook begin joga doen en bied die klasse nou saam met Patrick aan.

SevaUnite het intussen heelwat boeke oor joga aan Brandvlei geskenk wat Loff as ’n biblioteek vir die jogagroep bestuur. “Die mans is rustiger en het ’n soort vrede. Party ontdek selfs versteekte talente. Patrick het so kreatief geraak en maak die mooiste tekeninge. Maar boonop leer hulle met joga ’n vaardigheid wat hulle ander kan leer die dag as hulle hier uitstap. Hulle kan joga-instrukteurs word. Wat ook wonderlik is, is dat hulle mekaar leiding en berading gee.

“Wanneer ek op nagskof is, gaan kyk ek altyd of almal orraait is. As ek sien dat iemand terneergedruk is, roep ek een van my joga-tjommies en vra hom om ’n bietjie met die ou te gesels,” sê Loff.

Toe sy betrokke geraak het by die jogaklasse was haar kollegas aanvanklik daarteen gekant. Hulle het gevoel dit pas nie by hul geloof nie.

“Ek het vir hulle gesê: ‘Ag nee, kom nou, laat elkeen vir homself besluit wat goed is vir hom.’

“Daar was ook van die spirituele groepe onder die gevangenes wat daarteen was, maar van hulle doen nou al saam met ons joga.”

‘Ek wil met waardigheid loop’

William* dien ’n vonnis van 20 jaar in die Worcester-gevangenis uit weens onder meer gewapende roof.

Hy skryf gereeld aan Brian Bergman en Leela Codron van SevaUnite oor wat joga vir hom beteken. Hy sê joga het hom bevry van verskeie slegte en vernietigende gewoontes, onder meer die gebruik van dwelms. Hy skryf ook: “In die verlede het ek my oorlede pa, wat ’n berugte bendelid was, verafgod. Ek wou soos hy wees en dit het my gedagtes verander sodat ek net op die bendelewe gefokus het. Ek het gekies om die voorbeeld van my pa te volg en dit het gemaak dat ek soveel pyn en lyding ervaar het terwyl ek terselfdertyd ander (mense) pyn aangedoen het.

“Ek het tot die besef gekom dat my tronkervaring deur my geskep is. Dit is die resultaat van my foutiewe houding en geloof. Ek is geskep as ’n wese met vrye wil. Ek kan kies of ek gelukkig of ongelukkig wil wees, suksesvol of onsuksesvol, vry of opgesluit. Ek sien nou dat die lewe ’n reis van oneindige keuses is en ons kreatiewe vermoëns in die krag van keuses is.

“Ek het besluit om verantwoordelikheid vir my gedagtes, gevoelens, woorde en dade te neem. Dit is my wens om ’n verantwoordeliker, liefdevoller en sagter mens te word, iemand wat met waardigheid, integriteit en respek loop en mense wat in nood is help.

“Ek wil graag ’n goeie metgesel, man, vriend en minnaar wees vir die lelie wat eendag my vrou gaan word. Ek wil ’n wyse en versorgende pa vir ons kinders wees, iemand wat ’n goeie voorbeeld vir kinders is. Dit is my wens om ’n sukses te maak van my lewe – spiritueel en materieel.

“Teen die tyd dat ek op parool vrygelaat word, wil ek iemand van eerlike morele waardes en beginsels wees. Ek wil graag tot my volle potensiaal ontwikkel.

“Deur vreugde en geluk vir ander te bring, skep jy dit in jou eie lewe. Deur ander te dien, dien jy jouself.”

* Patrick en William is skuilname om die gevangenes se identiteit te beskerm.
 Besoek www.sevaunite.org vir meer­­ ­inligting.



Brian Bergman en Leela Codron besig met ’n jogales in die Pollsmoor-gevangenis.
| Foto’s: FREE INSIDE, SENTRUM VIR FILM- EN MEDIASTUDIES, UK


Wat’s so snaaks? Pollsmoor-gevangenes in die nar-posisie. Dié posisie veroorsaak altyd lagbuie.


Boom van Goed en Kwaad: Gevangenes in die boom-posisie.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
32% - 419 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
68% - 886 votes
Vote
Rand - Dollar
19.07
+0.5%
Rand - Pound
23.60
+1.0%
Rand - Euro
20.32
+0.3%
Rand - Aus dollar
12.24
+0.5%
Rand - Yen
0.12
+0.4%
Platinum
943.20
-0.8%
Palladium
1,035.50
+0.6%
Gold
2,388.72
+0.4%
Silver
28.63
+1.4%
Brent-ruolie
87.11
-0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE