Share

Kollig: Die broers Viljoen

Dis te danke aan genl. Constand Viljoen en sy tweelingbroer dat Suid-Afrika in die oorgang na ’n demokrasie nie in ’n burgeroorlog gedompel is nie, skryf  Dennis Cruywagen in ’n nuwe boek.

Dit was vroegmiddag. Ons het in die verwaarloosde begraafplaas in Standerton gestaan, ek en Abraham Viljoen. Ek ’n regstreekse afstammeling van Suid-Afrika se eerste mense. Abraham, ’n man wat deur ’n groot deel van die Afrikaner-establishment as ’n linkse rebel beskou is in ’n era toe Suid-Afrika nog deur Afrikaners geregeer is.

Elkeen van ons was vasgevang in ons eie gedagtes en emosies: myne was oor die geweldige omvang van die lewensverlies van die Anglo-Boereoorlog.

Abraham s’n was dieselfde, maar persoonliker. Emosies het hom oorweldig.

Sy onuitgesproke behoefte op daardie oomblik was om alleen te wees.

Hy het familie wat daar begrawe lê in anonieme grafte: sy pa se twee sussies en ’n boetie. Die grootste deel van sy lewe, toe hy in hierdie distrik grootgeword en skoolgegaan het, het hy nie geweet van hul bestaan nie.

Maar nou was hy besig om oor hulle te rou – oor drie kinders wat nie lewend uit die Standerton-konsentrasiekamp op die walle van die Vaalrivier gekom het nie. In die Viljoen-familie is daar nooit oor die persoonlike prys van die Anglo-Boereoorlog gepraat nie.

Abraham se oupa, na wie hy vernoem is, Abraham Carel Viljoen, was een van diegene wat wapens opgeneem het teen die Britse Ryk. Hy was deel van die Standerton-kommando, en is krygsgevange geneem en na Ceylon verban. Sy vrou, Andriesina, en haar vier kinders is weggevat van hul plaas en in haglike omstandighede krygsgevange gehou in die Standerton-konsentrasiekamp. Haar drie kinders was van die 28 000 Afrikaners wat in konsentrasiekampe gesterf het.

Omdat daar geraam word dat daar ongeveer net soveel swart mense gesterf het, verwys sommige hierna as die Suid-Afrikaanse oorlog.

Toe ons in stilte wegry van die begraafplaas af, was nie een van ons lus om by ons oorspronklike plan te hou om vinnig iets in Standerton te gaan eet nie.

Ek en Abraham, tweelingbroer van genl. Constand Viljoen, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag en leier van die Vryheidsfront, was in Standerton as deel van die navorsing vir my boek Brothers in War and Peace: Constand and Abraham Viljoen and the Birth of the New South Africa, wat onlangs verskyn het. Ek het die boek geskryf nadat ’n vriendin, Louise Korentajer, my vertel het van die tweeling en hul merkwaardige bydrae tot die totstandkoming van ’n demokratiese Suid-Afrika.

Oor die jare het Abraham, ’n linksgesinde akademikus, en Constand, ’n voormalige lid van die Broederbond, polities vervreemd geraak. In 1993 was Afrikaners regs van die Nasionale Party totaal gekant teen grondwetlike onderhandelinge. Genl. Viljoen was die leier van hierdie groepering.

Dit was sy tweelingbroer, Abraham, diep bewus van die wesenlike gevaar van ’n burgeroorlog, wat Constand genader het met ’n aanbod om geheime onderhandelinge met die ANC te probeer bewerkstellig. Deur middel van een van Abraham se voormalige studente, Carl Niehaus, is ’n ontmoeting met Abraham in Nelson Mandela se bedrywige skedule ingepas.

Die ontmoeting het plaasgevind by die destydse Jan Smuts-lughawe net voordat Mandela op ’n oorsese reis sou vertrek.
Die man wat die eerste president van ’n demokratiese Suid-Afrika geword het, was diep bekommerd oor die ernstige gevaar wat regse Afrikaners ingehou het.

Hy het aandagtig geluister na Abraham se voorstel van geheime onderhandelinge met hulle, en toe gesê: “Gaan voort.”

Dis grootliks te danke aan hierdie onderhandelinge, waarvan baie min bekend is, dat ons ’n vreedsame verkiesing gehad het waaruit ’n nuwe land gebore is.

“Oorlog is in my bloed,” het genl. Viljoen eenkeer vir my gesê. En juis sy vertroudheid met oorlog het hom baie bewus gemaak van die duur prys daarvan.

Hy het ook ’n erekode gehad oor wie sy teikens was. Toe ’n span van die Suid-Afrikaanse Weermag hom inlig oor ’n beplande sluipmoord op Chris Hani in Maseru, het hy dadelik gevra of Hani se vrou en die egpaar se twee kinders ook in die huis sou wees wat met ’n pypbom opgeblaas sou word.

Die antwoord was: “Ons weet nie.” Die selfversekerde span het reeds die goedkeuring van die Staatsveiligheidsraad gekry, en was onvoorbereid op genl. Viljoen se reaksie. Hulle was so seker van hul saak dat die moordbende met hul wapens reeds Lesotho geïnfiltreer het.

Hulle het selfs die persverklaring gereed gehad wat ná die sluipmoord uitgereik sou word. Maar genl. Viljoen het onmiddellik die sending gekanselleer. Sy rede? Hy maak nie oorlog teen vroue en kinders nie. (’n Mens sou amper kon byvoeg, anders as die Britse magte in die Anglo-Boereoorlog.)

Die pynlike herinneringe van hoe die Boerevolk verarm en verneder is deur die Anglo-Boereoorlog het ’n beslissende rol gespeel in genl. Viljoen se besluit om nie wapens op te neem en die nuwe politieke orde te beveg wat op 27 April 1994 gebore is nie.

Die Afrikanerweerstandsbeweging (AWB) se ondeurdagte besluit om Bophuthatswana in te val, het hom verder gehelp om finaal te besluit. ’n Swart polisieman het drie AWB-mans voor TV-kameras in die strate van Mmabatho doodgeskiet. Genl. Viljoen het gesê hy kon nie toelaat dat dit wat in Bophutha- tswana gebeur het in dorpe soos Ohrigstad, Belfast en Brits herhaal word nie.

Hy het besluit om sy kandidate by die Onafhanklike Verkiesingskommissie te registreer om só ’n burgeroorlog te voorkom, maar nie voor verdere drama nie.

Volgens Princeton Lyman, voormalige Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, was genl. Viljoen die sleutel wat die regsgesindes se dreigement van ’n burgeroorlog kon ontlont.

Hy het die erns van die situasie besef toe Viljoen hom ’n paar dae voor die verkiesing bel en verklaar dat die ANC speletjies speel deurdat hulle nie vorendag kom met ’n beloofde ooreenkoms oor Afrikaner-selfbeskikking nie.

Genl. Viljoen het gedreig “om die honde los te laat”. Ambassadeur Lyman het onmiddellik die ANC-onderhandelaar Thabo Mbeki se kantoor gebel om sy kommer uit te spreek en daarop aangedring dat die ANC so gou moontlik die ooreenkoms afhandel, wat hulle toe wel gedoen het.

Genl. Viljoen het drie dae voor stemdag sy planne vir ’n wapenopstand laat vaar. Dis hoe naby Suid-Afrika aan ’n burgeroorlog was.

‘Manteldraaier’ en Broederbonder

“In ’n groot mate te danke aan ’n stel boerseuns, een aan die linkerkant, die ander aan die regterkant, is ’n bloedige burgeroorlog afgeweer en ’n nuwe Suid-Afrika is gebore,” skryf Dennis Cruywagen in die slotsin van sy boek.

En hoewel Abraham Viljoen en sy identiese tweelingbroer, Constand, in 1951 saam ’n jaar in die leërgimnasium deurgebring het, kon hul lewenspaaie daarna in apartheid-Suid-Afrika kwalik meer uiteenlopend gewees het.

Cruywagen skryf: “Abraham (’n lid van die Christelike Instituut; CI) het ’n toegewyde lid van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SACC) se afdeling vir geregtigheid en versoening geword. Wat Afrikanerdom betref het, was hy vir die saak verlore. Hy was ’n verraaier en manteldraaier wat vermorsel moes word.

“Een dag het die NG Kerk ’n ouderling na Abraham se kleinhoewe in Kameeldrift gestuur. Sy boodskap: Die Ring van Pretoria-Noord het besluit dat gemeentelede wat CI-lede bly, skuldig is aan muitery en betrokke by ’n sekte. Hulle kan dus nie by die Vader se tafel aansit en die heilige Nagmaal gebruik nie.

“Die boodskap was ondubbelsinnig: As ek nie uit die CI bedank nie, is ek téén die Kerk,” het Abraham aan Cruywagen gesê.

Ná ’n lang worsteling het Abraham besluit om nie meer kerk toe te gaan nie.

“My wegbly uit die kerk het my vrou intens seergemaak,” sê Abraham.

“Wanneer sy alleen daar aankom, het mense gevra: “Waar is Abraham?”

Cruywagen skryf: “Hy snik in pyn terwyl hy dit aan my vertel en weer die foltering van destyds onthou.”

* “Constand was ’n ernstige offisier wat mense beïndruk het. ’n Kaptein onthou lt. Viljoen as ’n offisier met selfvertroue wat gesalueer het asof hy ’n generaal was.

“Hy was ’n model van ’n Afrikaner-offisier,” het een van sy voormalige lektore by die militêre akademie gesê. “Hy was afkomstig uit ’n gemeenskap wat sy eie taal, geskiedenis, agtergrond en karaktertrekke gehad het wat hulle anders gemaak het as die ander groepe in Suid-Afrika.

“Daarby was Constand dol oor die opwinding van aksie, die gefluit van koeëls, om helikopters op ’n sending te sien, die loutere kameraderie van soldaat-wees.

“Constand se posisie het hom ’n ideale kandidaat vir die Afrikaner-Broederbond gemaak. En toe hy uiteindelik gewerf is, het hy hom aangesluit by die room van die Afrikaner-gemeenskap.

“Hy was in die binnekring: ’n opregte Afrikaner-kameraad, ’n verdediger van die Christen-geloof soos die Afrikaners dit gedefinieer het, en ’n vyand van die Kommunisme.”
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do airplane mishaps have any effect on which airline you book your flights with?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, these things happen. I pick based on price
49% - 1030 votes
Yes, my safety matters. I don't take any chances
51% - 1093 votes
Vote
Rand - Dollar
19.21
-0.5%
Rand - Pound
23.95
-0.7%
Rand - Euro
20.56
-0.5%
Rand - Aus dollar
12.48
-0.7%
Rand - Yen
0.12
-0.2%
Platinum
912.40
-0.8%
Palladium
1,005.00
-2.1%
Gold
2,314.58
-0.3%
Silver
27.17
-0.5%
Brent Crude
88.42
+1.6%
Top 40
68,574
+0.8%
All Share
74,514
+0.7%
Resource 10
60,444
+1.4%
Industrial 25
104,013
+1.2%
Financial 15
15,837
-0.4%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE