Hy het as vlootsoldaat in die Viëtnam-oorlog geveg en konflikte in Israel en die ou Rhodesië oorleef, maar in die suide van Angola was Dave Barr oortuig dat hy sy Heiland gaan ontmoet.
Op 29 Augustus 1981, met die destydse Bosoorlog in volle gang, het die aangepaste Toyota Land Cruiser waarin hy en sy kamerade van 32 Bataljon gery het, ’n landmyn afgetrap.
“My bene was onnatuurlik gedraai en om my kop gekoek. My regterstewel was teen my gesig gedruk,” skryf Barr.
Die volgende ding wat hy onthou, was twee groot, growwe hande wat hom uit die wrak pluk – die hande van sy bevelvoerder, kol. Jan Breytenbach.
“Ons kon mekaar nie sien nie; hy het my net gevind,” vertel Barr.
Breytenbach, legendariese soldaat en stigter van 32 Bataljon, was volgens Barr self gewond.
“Ek wonder altyd of ek dit vir hom sou gedoen het. Of ek sou terugduik in daardie voertuig. Dit was so warm soos die hel,” vertel hy van die dag toe sy lewe verander het.
Die voertuig het uiteindelik ontplof.
“Ek onthou dat ek teruggekyk het en gesien het hoe die voertuig in ’n vuurbal verander,” onthou Barr.
Vir nege maande en 18 dae was hy in 1 Militêre Hospitaal in Pretoria waar albei sy bene uiteindelik afgesit is.
Hy is daarna, kunsbene en al, terug “bos” toe om, soos sy webblad dit stel, “sy aktiewe militêre diens te voltooi”.
’n Paar jaar later het hy genoeg gehad van oorlog en is terug Amerika toe, op soek na ’n nuwe avontuur.
Hy wou meer van die wêreld sien en het op sy 1972-model Harley-Davidson geklim en die pad gevat – stoksielalleen.
Toe hy drie-en-’n-half jaar en ses vastelande later stilhou, was hy reeds vir meer as 130 000 km in die saal.
“Ek het geweet dat God net die fokus van my lewe verskuif het,” sê dié oud-soldaat wat deesdae skrywer, motiveringspreker, aktivis vir veteraan-soldate, storieverteller en Guinness-wêreldrekordhouer is (as die enigste mens wat al in die middel van die winter oor Noord-Europa en Siberië heen met ’n motorfiets gery het).
In Mei vanjaar was hy terug in Suid-Afrika waar hy en ’n paar mede-avonturiers meer as 6 500 km afgelê het om geld in te samel vir die Cheshire Home South Africa en die Quad Para-vereniging van Suid-Afrika.
Buite Ladysmith het hy sy reis onderbreek vir ’n belangrike herontmoeting: Met die man wat soveel jaar gelede sy lewe gered het. Dit sou die eerste keer sedert die 1980’s wees dat hy weer vir Breytenbach sien (hoewel die twee nog al die jare gekorrespondeer het).
Breytenbach sê sy skutter is ná al die jare nog presies dieselfde.
“Ek het baie verander, maar hy het nie. En hy het nie bene nie.”
Breytenbach sê Barr het moed soos min mense wat hy ken.
“Hy het nooit gespog oor alles wat hy al vermag het nie.”
Barr sê om Breytenbach – sy ou kameraad en een van die “beste leiers wat ek ooit gehad het” – weer te sien, was ’n hoogtepunt van sy reis.
’n Ander groot hoogtepunt “en voorreg” was om ’n seuntjie wat sonder hande en ’n deel van sy bene gebore is op dié se eerste motorfietsrit te vat.
“Dit is nie iets waaroor jy ooit kom nie,” sê Barr oor wat sy storie vir dié jong seun kan beteken. “Jy lewe elke dag daarmee. Jy sit elke dag die prostese aan. Jy vat dit en jy stap daarmee. Deur net die regte houding te hê, kan jy iemand se lewe verander.”
Hy sê ongeag sy gebrek is hy nie bang vir die reise wat soms gevaarlik en liggaamlik, emosioneel en finansieel uitmergelend kan wees nie.
“Want wat as jy eendag voor die Here staan en hy sê: “Wel, waarvoor was jy bang?”
Die span motorfietsryers van Chutzpah.org vergesel Dave Barr deur die Ladysmith-landskap.
| Foto’s: MARY-ANN PALMER
Uiteindelik kan kol. Jan Breytenbach en Dave Barr mekaar weer in die oë kyk.
Dave Barr, êrens tussen Laingsburg en Beaufort-Wes, bel Amerika toe.
Kol. Jan en Rosalind Breytenbach in Mei vanjaar buite Ladysmith. Oor die jare het Rosalind gereeld vir James Barr rooibostee gestuur.
Die Breytenbachs tydens die Bosoorlog.
Bo trek Dave Barr by Montagu ’n kous oor sy prostese voordat die reën uitsak.