Share

As die see opdroog


Dit gaan vrek sleg met die vissersgemeenskappe aan die ­Weskus, skryf JB Roux.


Laaiplek, ’n vissersdorpie aan die monding van die Bergrivier, is alles wat die Weskus idillies en spesiaal maak.

Houtjetties hurk halflyf die water in en met die aandskemering kies swerms seevoëls koers na hul slaapplekke toe.

Maar die Weskus se grootste rykdom is sy mense wat geslagte lank reeds van die see afhanklik is en, God weet, nêrens anders sal aard nie. Die meeste inwoners voer ’n bestaan uit die ryk pelagiese visbronne. Daarvan getuig die swaar hout- en staalskuite wat gereeld uitvaar om van die see se rykdom te skep.

Maar dié skuite lê deesdae in die Bergriviermond vasgemeer: Laaiplek is die versinnebeelding van die wanhoop wat vissersdorpe teen die hele Weskus ervaar. Daar is nie vis nie. Sonder vis is daar nie geld nie. En sonder geld kan ’n mens nie lewe nie.

Teen ’n sementmuur in Laaiplek se bruin buurt het iemand sy frustrasie probeer verwoord: “STAAT SKENK KOS” en “BOERE IS KORRUP”.

Op ’n sypaadjie vol onkruid daar naby staan Eva Charlie (47). Sy werk een week per maand by die distriksmunisipaliteit. Die R700 wat sy só verdien, is nie genoeg om van te ­lewe nie.

Eva se dogter en seun is stukwerkers by die inmaakfabriek op Laaiplek. Sy het ook vier kleinkinders.

“Ons het nie kos of geld nie.Soos ek hier staan, weet ek niewat ek vanaand vir die kindersgaan gee om te eet nie.”

Maria (’n skuilnaam) werk ook as vispakker by die inmaakfabriek. “Fabrieke op ander plekke laat hul tydelike werkers skoonmaak- en instandhoudingswerk doen om ’n geldjie te verdien, maar nie hier nie. Die mense voel die fabriek gee nie om nie.

“Tydelike werkers kan iets op hul jaareindbonus leen, maar dan kry hulle aan die einde van die jaar swaar. Baie gesinne leef van kindertoelaes. Misdaad en dwelmmisbruik is baie erger as voorheen.”

René Zamudio was voor sy aftrede jare lank ’n skipper. “As die vis aan die Weskus min geraak het, het ons ons skuite Walvisbaai en selfs Las Palmas (in die Kanariese Eilande) toe geneem of tjokka in Port Elizabeth gevang. Deesdae is daar nie sulke geleenthede nie. Die visbedryf is onvoorspelbaar. In ’n goeie jaar moet jy voorsiening maak vir ’n slegte jaar, maar nie almal doen dit nie.”

Zamudio administreer sedert sy aftrede die plaaslike vissers se pensioenfondse. “Meer as 200 vissermanne het vanjaar hulle pensioene kom aanvra. Dit beteken hulle gaan met hul aftrede eendag swaarkry. Daar is darem onlangs ’n agterskot (vir vroeëre vangste) uit­betaal.”

Maar hoe gebeur dit dat daar een jaar volop vis is en die volgende jaar veel minder?

Mense wat sal weet, is Boetie Thiart (47) en Michael Segal (54). Thiart is 16 jaar lank al ’n skipper en vang tans op Vegkop, terwyl Segal 18 jaar lank skipper van Aranos is. Hulle sê die vis was gedurende die 1960’s laas so skaars. Die bron het later vanself “opgetel” en rekordvangste is aangeteken.

“Die probleem met die 2013-seisoen is nie dat daar nie vis is nie,” sê Segal. “Daar is genoeg biomassa en die kwotas is onlangs verhoog, maar die vis lê op die bodem en kan nie gevang word nie. Verder kom die vis in groepies voor. Tensy die vis nie bymekaarkom en skole vorm nie, bly hulle buite die visskuite se bereik,” sê hy.

“Dis maar hoe die natuur werk,” stem Thiart saam. “Dit het heelwat met die seestrome te doen. Soms gebeur dinge nie soos dit moet nie en niemand kan iets daaromtrent doen nie.”

“Al gaan dit vanjaar sleg, is die visbedryf se dae nie getel nie,” glo Segal. “Die 2013-seisoen was die eerste in vier of vyf jaar wat die visskuite nie hul kwotas vol gevang het nie. ’n Mens moet ook onthou die visbedryf is seisoensgebonde: vis migreer. Selfs tydens ’n goeie jaar kom daar tye dat die vis skaars is.”

Marine Products is verreweg die grootste werkverskaffer op Laaiplek en vervaardig jaarliks tonne vismeel en ingemaakte vis.

Die fabriek besit sy eie visskuite en is onlangs deur die Oceana-groep oorgeneem. Die vorige eienaar het nie ’n goeie rekord vir swart bemagtiging gehad nie en die regering wou aanvanklik nie ’n permit uitreik vir die skuite om see toe te gaan nie. Dit was ’n bitter voorsmakie van wat die jaar sou inhou.

Daar is al lank klagtes dat die fabriek nie doeltreffend met sy werkers kommunikeer nie. Daar is veral verwarring oor dividende, ’n nalatenskap van ’n vorige aandeelhouer, wat aan sommige werknemers en voormalige werknemers uitbetaal is. Daar is steeds nie duidelikheid oor hoekom baie werknemers nie by die uitbetalings baat gevind het nie – geld wat vir baie gesinne ’n groot verskil sou maak. Die bemanningslede van die visskuite is ook nie by die uitbetalings betrek nie.

Marine Products wou geen kommentaar lewer nie, ook nie oor hoe die fabriek seisoenswerkers kan bystaan totdat toestande verbeter nie. Ook die Food and Allie Workers Union, wat werkers in die visbedryf verteenwoordig, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Oranjevis Visserye, ’n filiaal van Pioneer Fishing, is een van drie inmakerye in St. Helenabaai naby Vredenburg. Volgens Hannes du Preez, uitvoerende hoof van Pioneer Fishing, is die visbedryf siklies van aard.

“Ons steun swaar op die wetenskap om volhoubare ontginning te verseker. Volgens die nuutste navorsing is die ansjovisbron gesond, maar weersomstandighede speel ’n besliste rol in die beskikbaarheid van vis.

“Ons het laas jaar ’n baie goeie jaar gehad, maar sommige vissers en werknemers het nie voorsiening gemaak vir ’n minder goeie jaar nie.”

Du Preez sê daar is vanjaar 65?000 ton ansjovis ingebring in vergelyking met 264?000 ton verlede jaar. “Wat sardyn betref, lyk dinge baie beter, ons het reeds 90% van ons kwota volgevang.”

Pieter Rabe, menshulpbronbestuurder by Pioneer ­Fishing, sê dié maatskappy doen voortdurend stappe om werkers te bemagtig en vaardighede te leer waarmee hulle tydens die afseisoen geld kan verdien. Pioneer Fishing beplan om sy werknemers in finansiële vaardighede op te lei. Hulle kry ook ’n toelae tydens die afseisoen.

“Ons is positief oor die toekoms en glo ons het ’n groot rol om te speel om voedselsekerheid te verseker,” sê Du Preez. “Ons doen deurlopend navorsing om ander visspesies soos lanternvis ook te ontgin en oor visvangtegnieke wat nie so baie van die weer afhanklik is nie.”

Vissermanne wat ’n bestaan voer deur “netvis” soos harders en st. joseph-haaie in die vlakker water nader aan die kus te vang, trek ook swaar. Daar was vanjaar tye dat hy nie kos op die tafel kon sit nie, sê Chrisjan “Kiewiet” Basson (58).

“Laas jaar het ons dwarsdeur die jaar vis gevang. Dié jaar was daar ses maande lank nie vis nie. Omdat die bemanningslede van die groter visskuite ’n slegte jaar het, vang baie van hulle ook nou netvis. Ek neem hulle nie kwalik nie, maar daar is nie genoeg netvis om almal aan die lewe te hou nie.”

Die rivier, ’n ryk bron van harders waarvan hoofsaaklik bokkoms gemaak word, is sedert 2005/2006 vir netvissers gesluit, al is dié bepaling nooit in die Staatskoerant gepubliseer nie.

“Party manne het geen keuse as om vis in die rivier te ‘steel’ nie,” sê Basson.

“Toeriste is gou om die visinspekteurs te bel wanneer hulle ’n bakkie op die rivier sien of hoor. Jou bakkie en toerusting word afgeneem en jy moet hof toe om dit terug te kry. Die regering is strenger oor hardervis as oor kreef of perlemoen!”

“Boetie” Tredoux (74) vang al harders vandat hy 12 is. Hy het lank op die groter visskuite gewerk en was in 1960 die jongste skipper aan die Weskus. Sedert sy aftrede vang hy weer netvis om sy pensioen aan te vul.

“Vandat die rivier gesluit is, moet ons so ver as Draaihoek toe ‘loop’ om vis te kry. Dis honderde rande se petrol en soms vang jy niks.”

Tredoux vang veral st. joseph-haaie, waarvan die meeste uitgevoer word. “Ons het vanjaar redelik st. joseph’s gevang. Ons kry R3,50 tot R5 per kilogram. Daar is net een aankoper en jy moet vat wat jy kry.”

Ook vir Tredoux is die sluiting van die rivier ’n bitter pil. “Ek stem nie saam met die siening dat harders in die rivier broei nie. Die bron beskerm homself: Die harders gaan elke jaar ’n paar maande lank see toe om te broei, buite die vissermanne se bereik. Die regering máák netvissers skelm. Daar word gereeld snags in die rivier net gesteek, die donker het nie oë nie. Party vissers gooi klappers in die water om die vis byeen te jaag. As die rivier oopgestel word, sal sulke dinge nie gebeur nie.”

Die gevolge van die visskaarste kring wyd. Vir ’n huiswinkeltjie in Laaiplek se bruin gebied is dit amper nie meer die moeite werd om te probeer sake doen nie. Dit geld ook baie van die groter ondernemings.

By ’n sopkombuis in die woonbuurt drom kinders en grootmense elke dag saam, margarienbakkies in die hand. Vir baie is die sop wat hier uitgedeel word die enigste maaltyd van die dag.

“Baie meer mense as voorheen klop vanjaar hier aan,” sê Bettie Van der Merwe-Bonnet, woordvoerder van die sopkombuis wat deur FDSA-Velddrif bedryf word.
“68% van die kinders word deur enkelouers of ander familielede grootgemaak. Baie van die enkelouers werk as stukwerkers by die fabriek.”

Die sopkombuis is van skenkings deur veral sakeondernemings afhanklik. Maar ook die skenkings het afgeneem. Nietemin volhard die FDSA. Daar is baie ander probleme in die gemeenskap, soos dwelm- en alkoholmisbruik, stokkiesdraai en tienerswangerskappe.

Die eerste stap om dié kringloop te breek, sê Van der Merwe-Bonnet, is om iets in die kinders se magies te kry. En totdat die see weer begin gee, sal dié magies van aalmoese afhanklik bly.

JB Roux is ’n vryskutjoernalis en gebore Weskusser.


We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
32% - 421 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
68% - 894 votes
Vote
Rand - Dollar
19.07
+0.5%
Rand - Pound
23.60
+1.0%
Rand - Euro
20.32
+0.3%
Rand - Aus dollar
12.24
+0.5%
Rand - Yen
0.12
+0.4%
Platinum
943.20
-0.8%
Palladium
1,035.50
+0.6%
Gold
2,388.72
+0.4%
Silver
28.63
+1.4%
Brent Crude
87.11
-0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE