Share

Assad keer die gety in Sirië

Die Siriese burgeroorlog gaan nou sy vierde jaar binne en dit is duidelik dat die rebelle besig is om te verloor, berig Patrick McDonnel uit Homs.

Aan die verwoeste buitewyke van Homs se Ou Stad staan hulporganisasies, geestelike leiers en regeringstroepe en wag vir die VN-konvooi wat vroue, kinders en bejaardes uit die antieke stadskern ontruim.

Dis egter ’n ander soort passasier wat uit die busse klim: Tientalle jong mans, uitgeput, met hol oogkaste, komberse oor hul skouers en vrees in hul oë.

Hulle skuifel onseker onder die wakende oog van Siriese troepe en militêre inligtingsoffisiere na ’n tydelike verwerkingsentrum in ’n verwaarloosde banketsaal. Die mans, wat hulself verlede maand oorgegee het, is wat oorgebly het van Homs se rebelle-verdedigers, eens die voorste linie van die rebellie, nou verfomfaai en uitgehonger, met geen ander opsie as om hul lot te plaas in die hande van hul bitterste vyand nie – die magte van pres. Basjar al-Assad.

“Wat dink jy gaan hulle aan ons doen?” vra een na die ander in fluisterstemme.

Terwyl die Siriese konflik sy vierde jaar binnegaan, is een ding duidelik: Die Amerikaans-gesteunde rebelle is besig om die oorlog te verloor.

Assad se weermag, eens afgeskryf as ’n militêre mag sleg toegerus vir ’n guerrilla-oorlog en wie se lojaliteit boonop onder verdenking is, is besig om oorwinning ná oorwinning te behaal.

Onwaarskynlik soos dit eens gelyk het – en so onaptytlik vir Amerikaanse beleidmakers en hul bondgenote – kan Assad heel moontlik die enigste Midde-Oosterse leier wees wat ’n opstand van die Arabiese Lente oorleef.

Assad se oorlewing het hy grotendeels te danke aan wanorde in die rebelle-geledere, die opkoms van Islamistiese militante wat vyandig was teenoor Sirië se tradisie van verdraagsame Islam, militêre en finansiële hulp van Moskou en Teheran en ’n her­rese Siriese weermag, versterk deur plaaslike milisies en Hezbollah-vegters uit Libanon. Laasgenoemde veral het ’n beduidende rol gespeel om rebelle in die omgewing van die poreuse Libanese grens uit te rook terwyl hulle ook ’n gedissiplineerde en goed-opgeleide mag gevorm het wat die druk op die Siriese weermag verlig het.

Assad het ook voordeel getrek uit die oorlogsmoegheid wat baie rebelle oortuig het om hul wapens neer te lê, terwyl burgerlikes ook teen die oorlog begin draai het.

Tensy daar iets beduidends gebeur – soos Assad se dood of direkte internasionale ingryping – is dit dus moeilik om te sien hoe die rebelle kan wen.

Verlede somer het dit gelyk asof Amerikaanse vliegtuie gereed staan om Damaskus te bombardeer, ’n dreigement wat net afgeweer is nadat Assad ingestem het om van sy chemiese wapens afstand te doen.

Nou het Assad soveel selfvertroue dat verwag word dat hy hom vir nóg ’n sewe-jaar-termyn verkiesbaar gaan stel in ’n verkiesing wat middel vanjaar gehou gaan word en wat deur opposisiepartye as ’n klug afgemaak word.

Groot dele van Sirië, veral in die noorde en ooste, bly onder rebelle-beheer. Vir Assad sal dit moeilik wees om dié grondgebied te herower solank wapens en soldate oor die Turkse en Irakse grense bly vloei. Maar baie van dié grondgebied is nou onder beheer van Al Kaïda-geaffilieerde of ander ekstremistiese groepe wat nie die steun van die Verenigde State of sy bondgenote geniet nie. In dié gebiede veg rebelle-brigades teen mekaar – ’n oorlog binne ’n burgeroorlog tussen Westers-gesteunde rebelle-faksies en radikale Islamiste.

In wese is Sirië getransformeer tot ’n geopolitieke bordspel met talle antagoniste: Iranse, Russiese en Sjiitiese Hezbollah-gesteunde vegters teen rebelle wat gehelp word deur Amerika, Israel, Saoedi-Arabië en Soennitiese groepe aan die ander kant. Almal jaag hul eie strategiese belange na terwyl die dodetal styg.

“Sirië het die speelveld geword vir internasionale en ideologiese Islamistiese konflik,” sê Jamil Saloe, ’n opposisie-gesinde media-aktivis in Turkye.

Alhoewel Sirië se Soenni-bevolking, wat die meerderheid in dié land vorm, die ruggraat van die rebellie teen Assad (’n lid van die minderheids-Alawiete-sekte) gevorm het, is baie sekulêre Soenni’s en middelklas Siriërs met afgryse vervul oor die moontlikheid van ’n Islamistiese oorname.

“Ons steun nie vir Assad nie, maar ons verkies hierdie regering teenoor dié van die Islamiste, dit is seker,” sê Bassel, ’n jong Soenni-bankier wat in die Aboe Roemmaneh-distrik van Damaskus woon – ’n gebied wat dikwels die teiken is van rebelle-bombardering. “Hoe kan ons met hulle leef? Dit sal die einde van Sirië wees.”

Assad se goed-toegeruste weermag was onontbeerlik vir sy sukses. Dié mag is goed opgelei vir ’n konvensionele oorlog teen Israel en het toenemend beter geraak in hul stryd teen die rebelle.

Die regering se strategie was om Damaskus en die korridor na Homs in die noorde en weswaarts na die kus van die Middellandse See te beskerm, ’n Assadgesinde vesting. Die eens gevaarlike roete het die afgelope paar maande baie veiliger geword, ’n aanduiding dat die strategie werk. ’n Uitgebreide reeks sekerheidspunte in Damaskus het die aantal motorbomme verminder. Troepe word nie meer deur gevaarlike gebiede vervoer op ongewapende busse nie. Onlangse hinderlae teen opposisie-formasies suggereer ook dat hul inligtingsnetwerk verbeter het.

Intussen het die opposisie, wat steeds volhou dat ’n oorwinning binne bereik is, geen antwoord op die regering se lugmag nie, wat veral vernietigend was in die noordelike stad Aleppo, eens die tuiste van 2 miljoen mense. Siriese bevelvoerders sê die hewige bomaanvalle wat die opmars van infanterie voorafgaan, is ’n ou oorlogstrategie.

“Ons het hulle hard geslaan en toe inbeweeg,” het ’n Siriese offisier wat hom slegs as kol. Samir geïdentifiseer het, aan joernaliste verduidelik voordat hy hulle op ’n toer van die verwoeste Khalidija-woonbuurt aangrensend aan Homs se Ou Stad geneem het.

Opposisiemagte wat Amerika as gematig beskou, se weerstand het so te sê verkrummel in talle sleutelgebiede as gevolg van ’n gebrek aan samewerking en enige vorm van sentrale beheer, sowel as ’n tekort aan swaar wapentuig as teenvoeter vir die lugaanvalle.

Die vrees dat wapentuig in die hande van radikale Islamistiese groepe kan val beteken dat Amerika en sy bondgenote teensinnig is om gesofistikeerde wapens, soos teen-lugafweer-vuurpyle, aan rebelle te verskaf, omdat sulke wapens ook teen burgerlike vliegtuie gebruik kan word. Die optrede van die Islamistiese radikale het selfs diegene vervreem wat jare reeds Assad se verdrukking van politieke opponente teenstaan.

Ten spyte van die feit dat die pogings om van Assad ontslae te raak begin het met vreedsame protes, het die stryd gou verander in ’n geveg om oorlewing vir baie sekulêre Siriërs en verskeie minderhede, insluitende Alawiete en Christene.

“Ek het nog nooit gesien hoe iemand doodgemaak word nie,” sê ’n Soenni-oorlewende van Desember se slagting in Adra, ’n noordelike voorstad van Damaskus, waar Islamistiese rebelle na berigte Alawiete uit hul huise gesleep en in die straat vermoor het. “Dit was iets verskriklik, dit was skandelik om te sien.”

Tydens die afgelope drie jaar is meer as 100 000 Siriërs dood en meer as 2 miljoen het uit die land gevlug terwyl 6 miljoen dakloos gelaat is.

Kenners stry oor of sterker Amerikaanse hulp aan die rebelle die oorlog vroeër tot ’n minder rampspoedige einde kon gebring het en of dit net dinge erger sou maak. Op die grond vertel die slagveld sy eie storie.

Hierdie maand het Siriese magte, gerugsteun deur Hezbollah, deur die westelike bergdorp van Jabroed naby die Libanese grens gestorm en ’n rebelle-bas­tion en logistiese sleutelpunt oorrompel. Die troepe het hul segetog voortgesit en het nou amper hul doel bereik om die kritieke ondersteuningsroete vanuit Libanon in twee te sny. Aan die buitewyke van Damaskus het regeringstroepe verskeie distrikte skoongemaak en herbeset. Ander is in puinhope omgeskep en is nie meer rebelle-skuilplekke nie.

Gebiede naby die hoofstad waar lank reeds geveg word, is nou hoofsaaklik omsingel met burgerlikes wat onderwerp word aan ’n beleg van beide kante. Ander rebelle-voorstede het ingestem tot “skietstilstande” wat baie as de facto-oorgawes beskou. Volgens die regering het duisende voormalige rebelle na die weermag of regeringsgesinde milisies teruggekeer as deel van die skietstilstand-proses.

Rebelle hou steeds sterk punte buite Damaskus, veral in die uitgestrekte Ghoeta-distrik na die noordooste. Maar baie van dié gebiede word deur militante Islamiste beset.

Suid van die hoofstad is Amerika en sy bondgenote volgens berigte besig om druk te plaas op gematigde rebelle om ’n “suidelike strategiese offensief” te begin. Of hiervan enigiets sal kom, is onduidelik.

In die westelike Homs-provinsie, wat eens die hart van die Siriese opstand was, is die opposisie op loop gejaag.

Reg langs Homs se Ou Stad is die Zahra-distrik, ’n ultra-lojalistiese enklawe wat die tuiste is van groot getalle Alawiete. Hier het inwoners baksteenmure gebou, sommige tot 10 m hoog, om beskerming te bied teen rebelle-skerpskutters. Baie is ongelukkig dat honderde voormalige rebelle van die Ou Stad klaarblyklik geen aanklagte in die gesig staar nie as gevolg van, wat die regering ’n “versoeningsproses” noem.

Almal hier het ’n geliefde, ’n buurman of ’n vriend verloor, sê Mohammed (32), ’n staatsamptenaar. “Ek persoonlik het 20 familielede verloor. Dit is nie ’n grap nie. Hoe kan ’n mens so ’n verlies verwerk?”

Eendag sal die Siriese oorlogswind gaan lê en die vernietigde dele van Homs en ander stede en dorpe sal waarskynlik herbou word.

Om vertroue tussen Sirië se laslappie van godsdiens- en etniese groepe te herstel, is egter ’n ander storie. Dit kan baie geslagte neem.

-- Los Angeles Times



We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do airplane mishaps have any effect on which airline you book your flights with?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, these things happen. I pick based on price
49% - 712 votes
Yes, my safety matters. I don't take any chances
51% - 755 votes
Vote
Rand - Dollar
19.14
-0.1%
Rand - Pound
23.80
-0.0%
Rand - Euro
20.46
-0.0%
Rand - Aus dollar
12.45
-0.5%
Rand - Yen
0.12
-0.1%
Platinum
926.50
+0.7%
Palladium
1,029.00
+0.3%
Gold
2,323.26
+0.1%
Silver
27.34
+0.1%
Brent Crude
88.42
+1.6%
Top 40
68,678
+0.9%
All Share
74,638
+0.9%
Resource 10
60,244
+1.1%
Industrial 25
103,939
+1.1%
Financial 15
15,967
+0.4%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE