Share

Evolusie: Weg met aapstreke

Uit ’n wetenskaplike oogpunt kan kreasionisme nooit as ’n “alternatief” vir evolusie gestel word nie, skryf Albert Alberts.

Onlangs het dr. Pieter Mulder van die VF+ die mening uitgespreek dat daar ’n balans tussen evolusie- en geloofsonderrig in ons skole moet wees (Beeld, 23 Augustus en Rapport, 24 Augustus).

Hy is nie alleen nie — in 2005 het pres. George W. Bush dieselfde mening in die nuustydskrif Time uitgespreek. Sy idee was blykbaar dat studente aan al die “standpunte” oor evolusie blootgestel moet word sodat hulle kan verstaan waaroor die debat gaan.

Om die hele omvang van die omstredenheid oor evolusie-onderrig in skole te verstaan moet ons teruggaan na die “Scopes Monkey Trial” van 1925 – ’n hofsaak wat Time beskryf het as een van die tien belangrikste hofsake ter wêreld.

In dié hofsaak het die American Civil Liberties Union die sogenaamde “Butler Act” van die deelstaat Tennessee uitgedaag – ’n wet wat dit onwettig gemaak het om evolusie in staatskole in Tennessee te onderrig of om vir kinders te leer dat die mens uit laerorde-diere ontwikkel het.

Sakelui van die dorpie Dayton het gemeen ’n hoëprofiel-saak soos dié sou ’n reuse- ekonomiese inspuiting vir hul dorp wees.

John Scopes, ’n 24-jarige instaan-biologie-onderwyser, het ingestem om die “proefkonyn” te wees. (Hy is blykbaar by ’n tenniswedstryd gedagvaar en nadat hy die dagvaarding ontvang het, het hy terstond voortgegaan met die wedstryd.)

Met sy horingraambrilletjie en seunsgesig het Scopes nie die beeld van ’n ontevrede werknemer uitgestraal nie, wat hom die ideale kandidaat vir die toetssaak gemaak het.

Die saak is gedryf deur twee van die bekendste regs- en politieke figure van destyds: Wil­liam Jennings Bryan, ’n driemalige presidentskandidaat, as die aanklaer, en Clarence Darrow, destyds die beroemdste advokaat, vir die verdediging.

Scopes het uiteindelik die saak verloor, maar is op ’n tegniese punt vrygespreek en het nooit die $100 boete wat hy opgelê is, betaal nie. Die “Butler-wet” is eers in 1967 van Tennessee se wetboek verwyder.

Die gevolg is ook dat die onderrig van evolusie grootliks van skoolleerplanne in Amerika verdwyn het.

Ironies genoeg was dit die Russiese Spoetnik van 1957 wat Amerikaanse skole laat wakker skrik het. Die Russiese vooruitgang op ruimtegebied het die VSA se onderwysowerhede laat besef dat hul leerplanne hopeloos onvoldoende is – veral wat onafhanklike denke en innovasie in wetenskapvakke betref.

Met die aanvaarding van die National Defense Education Act van 1958 het wetenskaponderrig drasties verbeter, waaronder ook die onderrig van evolusie, waarsonder behoorlike biologienavorsing nie moontlik is nie. Die duidelike boodskap was dat Amerikaanse leerlinge aan die beste onderrig blootgestel moet word as Amerika enigsins in die toekoms internasionaal mededingend wil wees.

Die tendens om weer kreasionisme (die idee dat God die aarde in ses dae of lang periodes sonder evolusionêre spesievorming geskape het) en “intelligente ontwerp” as teenvoeter vir evolusie te onderrig, is egter weer met ons.

Time skryf dat Tennessee selfs weer ’n soortgelyke wet as die destydse “Monkey Bill” op die wetboek het. Selfs in state wat nie “monkey bills” het nie, word intelligente ontwerp en kreasionisme as alternatiewe vir evolusie voorgehou. Dit vereis dat skoolrade en skole-administrateurs die “goeie” en “swak” punte van alle teorieë (insluitend biologiese evolusie) en die chemiese oorsprong van lewe aan leerlinge moet voorhou.

Die aapstreke het dus weer kop uitgesteek. Dit is ook betekenisvol om te weet dat Tennessee die staat is wat die minste aan sy skole bestee (luidens 2010-statistieke) en wat ver agter is op prestasievlak in vergelyking met ander state.

In Suid-Afrika het ons leerplanne soortgelyke vordering en voordele ten opsigte van die onderrig van evolusie gebring.

Ná 1994 is besef dat die konserwatiewe benadering van vroeër nie meer voldoende is nie. Die gevolg is dat die lewenswetenskappe-leerplanne vir gr. 10 en gr. 12 radikaal aangepas is. Die wetenskap van evolusie is in uitstekende lesings uiteengesit.

Gelukkig is ons leerplan-ontwikkeling meer gesentraliseer as dié van die Amerikaanse stelsel, waar elke skoolraad sy eie kurrikulum kan bepaal.

Daar is tog enkele punte van kritiek op die huidige kurrikulum. Die gedagte dat leerlinge aan alle kante van die evolusie-argument blootgestel moet word, is lofwaardig, mits dit alle kante van die saak voldoende uiteensit.

In die gr. 12-handboek Ken en verstaan lewenswetenskappe word ’n uitstekende oorsig oor evolusie aangebied wat matrieks goeie insig gee oor die wetenskap van evolusie.

Daar is egter slegs ’n kort afdeling gewy aan alternatiewe vir die evolusieteorie.

Daar word melding gemaak van ou- en nuwe-aarde-kreasionisme, intelligente ontwerp en ook inheemse gelowe, elkeen met hul eie verduideliking van hoe biologiese lewe op aarde ontstaan en geëvolueer het.

Die probleem met dié benadering, soos dit tans uiteengesit word, is dat die indruk gewek word dat hierdie godsdienstige geloofsmodelle direk teenoor die wetenskap van evolusie gestel word – met ander woorde dit is óf evolusie óf geloof.

Daar is egter nog ander geloofsmodelle wat nie in die leerlinge se boek is nie: Teïstiese evolusionisme (’n groot groep wetenskaplikes glo dat die Christelike godsdiens totaal vereenselwigbaar is met die teorie van evolusie) en ateïstiese evolusionisme (idees van wetenskaplikes wat ateïste is en wat glo dat net filosofiese materialisme evolusie verklaar) hoort ook by die gelowe rondom die wetenskap van evolusie. (Daar is nog baie ander benaderings, maar hierdie verteenwoordig die hoofgroepe.)

Die voorbehoud is egter dat die handboeke moet uitstippel dat hierdie geloofsmodelle nie ’n alternatiewe teorie as evolusie is nie, maar ’n poging van mense wat in God glo (of nie glo nie) om die wêreld vir hulle sinvol en verstaanbaar te maak.

Die wetenskap van evolusie soos dit in ons leerplanne onderrig word, gee leerlinge ’n diepgaande insig in hoe ’n teorie gevorm word (van observasie, hipotese-stellings, toetsing en weer verfynde hipotese-stellings tot die formulering van ’n teorie).

Evolusie gee wetenskaplikes insig in onder meer die geologie, genetika, natuurlike seleksie, molekulêre biologie, embriogenese, weerstand van bakterieë en virusse vir antibiotika – kortom, dit is dié belangrikste tema van die biologie. Daar kan geen kompromieë wees in die onderrig daarvan nie.

Dit sal goed wees as die VF+ weer eens al die bewyse nagaan wat evolusie die afgelope 150 jaar ten sterkste ondersteun as die beste teorie wat alle feite verklaar. Uit ’n wetenskaplike oogpunt is die “wetenskaplike teorieë” wat kreasionisme en intelligente ontwerp ondersteun nie net swak teorieë nie, dis eenvoudig verkeerd.

As gelowige dokter en wetenskaplike werk die teïstiese geloofsmodel die beste vir my. Ek kan alle nuwe ontdekkings in die wetenskap van evolusie met ’n oop gemoed aanvaar, terwyl ek as gelowige in verwondering staan oor hoe ons aarde nuut ontwikkel ná die volmaakte nuwe skepping.

Dr. Albert Alberts is ’n onkoloog met ’n spesiale belangstelling in paleontologie.


Die wêreldberoemde Suid-Afrikaanse paleontoloog prof. Phillip Tobias tussen ou vriende.
| Foto: Johann Hattingh


We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do you think corruption-accused National Assembly Speaker Nosiviwe Mapisa-Nqakula will survive a motion of no confidence against her?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, her days are numbered
42% - 397 votes
Yes, the ANC caucus will protect her
58% - 559 votes
Vote
Rand - Dollar
18.94
-0.2%
Rand - Pound
23.91
-0.1%
Rand - Euro
20.43
+0.2%
Rand - Aus dollar
12.34
+0.1%
Rand - Yen
0.13
-0.2%
Platinum
910.50
+1.5%
Palladium
1,011.50
+1.0%
Gold
2,221.35
+1.2%
Silver
24.87
+0.9%
Brent Crude
86.09
-0.2%
Top 40
68,346
+1.0%
All Share
74,536
+0.8%
Resource 10
57,251
+2.8%
Industrial 25
103,936
+0.6%
Financial 15
16,502
-0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE