– Etimologiewoordeboek van Afrikaans (G.J. van Wyk et al)
Wat is dit met mense wat in die astrologie en sterrewiggelary glo?
’n Stapelgekke vrou wat ek ken wat vir ’n Engelse publikasie die sterrevoorspellings skryf, het een aand toe sy getrek was, gebieg sy lê en dink die bog in die bad uit.
Dis mos pure voedoe, nes die lees van palms. Ek het een dag langs ’n vrou gesit met ’n gesig soos ’n smiley (die townshipwoord vir ’n gebakte skaapkop, want die lippe trek mos soos ’n glimlag), haar dobberende oë soos gestolde, deursigtige aftreksel in haar kop.
Dit was ’n vreeslik spoggerige noenmaal in Clifton, skatryk mense. Ek vermoed ek en sy is genooi vir liefdadigheid. Niemand wou met ons praat nie. Later het sy, ene Baby Taljaard, so bekaf gelyk haar hele gesig het ingeduik. Dronkverdriet.
Ek moes haar uit dié donker gat kry, het ek gedink, en gryp haar hand, ’n krom hoenderpootjie of ’n walkie-talkie, soos hulle ook in die townships sê, die droë kloutjies geel van jare se rook. “Hiert, jy,” sê ek dramaties, rek my oë, “jy sit al lank te lank by die huis. Jy gaan hierdie jaar nog reis.”
“Ja,” skree sy. Almal kyk om.
Sien, dis maklik, probeer dit sommer vanaand. Begin die twak eers met ’n hartseer- storie, dan lig jy die gemoed met hoop en hiperbool einde toe.
Hier is die resep: Iemand is weg, maar daai persoon het jou steeds lief. Hulle kom terug. ’n Oumens is iewers siek, was olik, maar dinge gaan vinnig verbeter. Daar is geld verloor, maar groot geld lê op die horison.
Daardie dag was ek op ’n roll en ek het lekker aangedik. Alles is soos soetkoek vol giggelgras opgevreet, want nou het die hele tafel hul palms mildelik na my toe uitgesteek. Kan jy nou meer, soos bedelaars, die klomp rykes, wat wil vrek oor wat die toekoms inhou.
Vir die maer ou vrou wat soos ’n langasemsprinkaan van Oranjezicht lyk, vertel ek: “ ’n Man wat vreeslik spiritueel is en ook ’n akademikus (’n oksimoron vanselfsprekend) sal in die sielkunde-afdeling van Exclusive Books in die Waterfront staan.
“Hy is jonger as jy, maar onthou net, al is jy ouer, ’n ou brood maak die lekkerste frikkadelle. Daai man,” sê ek met my beste, bulderende Nic de Jager-stem (in Vers en klank), “daai teelperd wil jóú hê.”
“Oe,” gil sy soos ’n ingénue wat haar eerste groot rol by die Moulin Rouge losgeslaan het. “Hoe wulps maak jy my nou!”
En ek kyk lank na die vrou... en dink met droefheid hoe wreed die wiggelaars van die wêreld eintlik maar is.