Share

Kind van die kunstefeeste

Wanneer daar nie werk is nie, máák hy dit, sê Christiaan Olwagen, wat tans as die Afrikaanse teaterwêreld se wunderkind beskou word.

"Teater is maar eintlik soos kerk toe gaan.”

Die bloedjong en bekroonde regisseur en akteur Christiaan Olwagen (26) steek sy tweede Camel-sigaret op.

Die predikantseun teug rustig daaraan waar hy in die kroeg van die Winchester Mansions-hotel in Seepunt sit.

“Dis ook maar ’n samekoms van mense en dan probeer ons ook om nie vir die gehoor te preek nie.”

’n Verlate kerk in Oudtshoorn was juis die stel waarin sy nuutste skepping, Dogma, op die afgelope Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) gedebuteer het.

“Zeelandskerk in Oudtshoorn is ’n dooie kerk. Dis ’n kerk sonder ’n gemeente, maar met Dogma het ons elke dag ’n klein gemeentetjie gekry. Jou gehoor het elke dag die gemeente geword.”

Dogma is breedweg gegrond op die verhaal van Olwagen se ouers, Laurika du Bois en Ollie Olwagen – hoe hulle ontmoet het, die liefdesverhaal, sy pa as dominee, sy pa se veelvuldige sklerose.

Dié stuk is vandeesweek vir ses Kanna-pryse benoem. Olwagen is erken vir regie, beste debuutwerk en vir kopskuiwende werk. Dogma is ook benoem vir beste teater-aanbieding en twee van die akteurs in dié stuk, Rolanda Marais en Albert Pretorius, is benoem vir onderskeidelik beste aktrise en akteur. Die Kanna-paneel het ook spesiale vermelding van die ensemble-spel in die stuk gemaak.

Op 26 is Olwagen Afrikaanse teater se wunderkind.

“My ouers se storie en die Bybel was die oertekste vir die stuk. Ek het baie op die Bybel gesteun. Vir my is my ouers se verhaal bykans ’n verpersoonliking van die Bybelverhaal van Job – wanneer alles van jou weggeneem word. Letterlik elke liewe k*k ding wat met hulle kon gebeur, het met hulle gebeur. En dan begin jy soos Job in die woestyn vra: Hoekom?

“Hoekom bestaan ons? Hoekom is ons hier?”

Sy pa se siekte, sy ouers se egskeiding – dié trauma en die daaropvolgende Job-gegewe vind neerslag in Dogma. Maar die stuk gaan nie oor godsdiens nie, maan Olwagen.

“Ongeag wat jy glo, gaan elke mens deur ’n soortgelyke eksistensiële krisis.

“Ek dink baie mense het verwag die stuk gaan groot vraagstukke oor godsdiens blootlê. Daardie debat is al bykans ouer as die mens self. Ek kan niks byvoeg nie. Ek kan nie nuwe waarhede bring nie. Godsdiens is net die doek waarteen die storie afspeel.”

Olwagen was verbaas dat geen gehoorlede uit dié toneelstuk op die KKNK ge­stap het nie. “Ons het gedog hulle gaan uitstorm by die hordes. Dis maar altyd ’n gamble.”

Dit sal nie die eerste keer wees dat gehoorlede Olwagen se toneelstukke verlaat voordat die gordyn sak nie. Sy toneelstuk Waterpas het vanjaar op die Woordfees opspraak verwek toe lede van die gehoor uitgeloop het en die Jericho Walls-bidgroep glo vir die spelers sou bid.

Altesame 22 mense het in 2012 uit sy eerste toneelstuk op Aardklop, Woza Andries?!, gestap.

“Ek was nogal verras toe die mense uit Waterpas geloop het. Ag, ek weet ook nie meer wat mense skok nie. Party mense is geskok as hul lemoensap suur is. As dit wel gebeur, moet ek dit aanvaar, want nie almal se verwysingsraamwerk is dieselfde nie.”

Hy is nie daarop uit om mense te skok nie.

“Miskien is dit iets wat ek in my eerste paar toneelstukke gedoen het, maar dis nou die laaste ding waaraan ek dink. Ek dink ek is al ’n bietjie groter as dit, of miskien is ek al ’n bietjie meer volwasse.”

Sy ouers, wat in 1994 geskei is, se verhaal het hom van jongs af gefassineer.

“Natuurlik hoor ek in drips en drabs dele van hul storie al vandat ek verstand het. Maar toe het ek onlangs my ma genader en gesê sy moet hul storie vir my neerskryf. Sy kan dit maar net op papier uitkots, ek sal dit ontsyfer.

“En toe ontvang ek ’n e-pos van amper 120 bladsye van my ma – die hele breakdown van hul storie. Sy het ’n klomp goed bevestig wat ek geweet het, maar dit was goed om dit in haar eie woorde te hoor. Ek het heeltemal ’n ander kant van my ouers leer ken.”

Sy ma het die stuk in Oudtshoorn gesien.

“Dit het haar geraak. Ek dink ook sy was gevlei. Sy het ná die tyd vir my gesê: ‘Dis eintlik mooier as ons regte storie.’ ”

Hy is versigtig om die stuk heeltemal outobiografies te noem.

“Dit voel meer soos ’n memoire. Hul verhaal was die wegspringplek, die platform vir die toneelstuk, maar ek het ook weggeskryf van myself af. Hopelik raak dit ander mense se stories ook.

“In my werk is ek al hoe meer besig om te kyk hoe die persoonlikste stories dikwels meer universeel is as om broad statements te maak en die wêreld te probeer oplos. Hoe persoonliker en hoe kleiner die storie, hoe meer verteenwoordig dit groter kwessies.”

Is 26 nie effens jonk vir ’n memoire nie?

“Marthinus Basson het een keer vir my gesê elke mens het een storie en jy vertel hom net elke keer op nuwe maniere.

“Ek het ook een aand die voorreg gehad om met die danser Mamela Nyamza ná een van haar vertonings te praat. Sy het ook vir my gesê: ‘Vertel eers jou eie storie voor jy ander mense se stories probeer vertel.’ Dít is iets wat ek nog altyd graag wou doen.”

Teater was nie altyd die eerste keuse nie. Olwagen se kop het eintlik aanvanklik rolprente toe gestaan.

Maar dit was die bekroonde regisseur Basson wat hom die moontlikhede van teater gewys het.

“Ek het in Pretoria grootgeword. Ek dink ek was een keer op skool KKNK toe vir ’n koortoer. Ons het saam met die kabaretkunstenaar Helena Hettema opgetree en verder niks teater gekyk nie – net spookasem geëet en volstruis gery. Ek dink ook ek was net een keer in die Staatsteater, toe ons Brakenjan 2 gaan kyk het.

“Ek was nie ’n groot teaterganger toe ek jonger was nie. Dit was nie dat ek resensies in ’n plakboek bymekaargemaak het nie. Ek dog sirkus is teater. Ek het meer in film belanggestel.”

Sy eerste werklike ontmoeting met teater was in sy matriekjaar.

“My ma en my stiefpa, Niel du Bois, het De Vette Mossel-seekosrestaurant Oudtshoorn toe geneem vir die KKNK.

“Ek het saamgegaan en toe sê my ma: ‘Hou tog asseblief op om heeldag in die tent rond te lê. Gaan kyk ten minste ’n paar shows!’ ”

En só het hy in 2005 in die gehoor van Basson se Romeo en Julia geland.

“Rolanda (Marais) het nog in daardie stuk gespeel. Ek was smoorverlief op haar,” lag hy skaam.

“Dit het net vir my ’n nuwe wêreld oopgemaak. Ek het nie geweet sulke goed is moontlik in teater nie.”

Skaars ’n jaar daarna het hy drama aan die Universiteit van Stellenbosch begin studeer.

“Ek het gedink Marthinus is ’n genius en ek wou onder hom swot, maar ek het baie vinnig agtergekom juniors het nie eintlik veel met hom te doen nie. In my derde jaar, toe kry ek darem rolle in ’n paar van sy stukke.”

Dit is Basson wat hom aangemoedig het om ’n regisseur te word.

“ ‘Is ek dan so ’n k*k akteur?’ wou ek by Marthinus weet.”

Hy lag, nou besig met die derde sigaret.

“Hy kon sien ek het ’n oog, ’n aanvoeling. My eerste stuk was Woza Andries?! in 2010 en van daar was dit ’n rit op ’n roller coaster waarvan ek nog nie afgeklim het nie.”

Vandat hy in 2010 afgestudeer het, was hy nog nie sonder werk nie.

“Ek het my moer afgewerk om te kom waar ek nou is en ek gaan in die toekoms ook nog baie hard werk. Ek is so ’n bietjie verslaaf aan my werk, want dis so lekker,” sê hy.

Dít was duidelik op vanjaar se KKNK, waar hy betrokke was by agt produksies, hetsy as dramaturg of regisseur. Hy was onder meer ook die regisseur van die twee veteraan-akteurs Ma­rius Weyers en Sandra Prinsloo in die toneelstuk Vir ewig en altyd.

“Ja, ek is in ’n baie bevoorregte posisie, maar ek maak ook vir myself werk.

“As ek sien ’n maand raak nou skielik drie maande sonder werk, dan skep ek iets,” beklemtoon hy.

Akteurs is deesdae entrepreneurs.

Dit is juis vanuit dié behoefte om werk te skep dat die Polony-kollektief gebore is, ’n informele kollektief waarbinne jong akteurs en regisseurs teater pleeg.

“Dit was so eenvoudig soos twee aktrises, Roeline Daneel en Hannah Borthwick, wat ’n teks na my gebring het en gesê het hulle wil graag saam in dié stuk speel. Dit was ’n bestaande teks en ons het baie vinnig agtergekom hoe ongelooflik duur die regte op sulke tekste is.

“Ag, en toe sê ek f*k dit en ek skryf vir ons ’n nuwe teks. Toe ons dit by die Woordfees inskryf, wou hulle weet wie het dit geskep? ­Watter maatskappy? En daar moes ons skielik ’n naam uitdink.

“Ek het altyd hierdie grap gemaak ek wil nog eendag ’n hygroman skryf met die titel ’n Polony vir Joanie,” lag hy.

“En vandaar het die kollektief ’n bietjie van ’n handelsmerk geword. Dis lekker. Dit gee ’n mens nogal die gevoel jy behoort aan ’n span, ’n tribe, dalk selfs ’n bende.”

Soos die streekrade van ouds?

“Ek dink ons is eintlik bevoorreg dat ons nie die streekrade geken het nie, want dit klink heerlik. Vir ons was dit ná universiteit eenvoudig adapt or die. Jy het geen ander keuse nie. Jy wil nie ophou swot en net sit en vergaan nie en dan begin jy werk vir jouself máák.”

Kunstefeeste probeer tot ’n mate die rol van die streekrade vervul. “Dit skep ’n platform,” sê Olwagen.

“Ons is totaal en al feeskinders. Ek ken niks anders nie. En dis hoe ek daarvan hou. Niks in hierdie stadium in my lewe is definitief nie.

“Ek vat dit dag vir dag. Fees vir fees.”­

Hanlie Retief is volgende week weer ­terug op haar pos.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
33% - 138 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
67% - 279 votes
Vote
Rand - Dollar
19.19
-0.1%
Rand - Pound
23.86
-0.1%
Rand - Euro
20.42
-0.1%
Rand - Aus dollar
12.29
+0.1%
Rand - Yen
0.12
-0.3%
Platinum
953.70
+0.4%
Palladium
1,031.00
+0.2%
Gold
2,384.26
+0.2%
Silver
28.38
+0.5%
Brent Crude
87.11
-0.2%
Top 40
67,190
0.0%
All Share
73,271
0.0%
Resource 10
63,297
0.0%
Industrial 25
98,419
0.0%
Financial 15
15,480
0.0%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE