Charles Bukowski? Ken jy die naam?
Het oor die rioolslote van die lewe geskryf, ou Charles: drank, alkoholisme, haweloosheid, die straatlewe, dinge soos daai. In 1986 het Time-tydskrif hom ’n “laureate of American lowlife” genoem.
In Tales of Ordinary Madness, met Ben Gazzara in die hoofrol, word ’n tragiese liefdesverhaal uit Los Angeles se skuimlewe gebore. Goeie akteur gewees, ou Ben, maar onder die radar beweeg.
Só beland hy in Madness. Hier’s die openingstoneel: ’n kamera in ’n kerkgebou. Die eerste skoot skiet in die koepelholte op. Soos die beeld laer en laer sak, hoor mens Ben se stem: “Style. I’ve seen more dogs with style than people with style.”
Ek wonder of dit nog waar is. Vandag is mense so stylbewus dat selfs Toyota al aandag aan die uiterlike skenk. Hulle móét, as mens kyk na die wondere wat goeie stilering vir Kia en Hyundai verrig het.
Of vat nou Mercedes en Volvo, maatskappye wat deur die jare konserwatief ontwerp het. Deesdae teken hulle bakvorme dat die vonke spat.
Benz se nuwe A-klas as voorbeeld: soos die spreekwoordelike miljoen dollars lyk hy, by uitstek vergeleke met sy voorganger, die eerste A-klas van 1997. Rofweg die enigste item wat mens op dáái outjie as Merc herken het, was die driepuntster op die rooster en die stuurwiel.
Nee, ek lieg. Die voorpaneel was ewe vaal, ewe vormloos, ewe vervelig – en met dieselfde harde, koue plastieke en dieselfde groot, karakterlose drukknoppe as die C-klas (van toentertyd) s’n.
Dis iets – die voorpaneel – waarmee Benz iedergeval deur die jare gesukkel het, vandat die sestigerjare se houtpanele in S- en SE-modelle verdwyn het; ’n vaal kol wat veral deur Audi se briljante kajuite van die afgelope 20 jaar ingevryf is.
Nou’t ons die A-klas en sy CLA-sedanbroer en stylgewys skitter Stuttgart se nuwelinge (alhoewel party mense nie van laasgenoemde se piesangvorm hou nie).
Maar o wee, onthou jy nog die sê-ding: “Vorm volg funksie”? Maak eers seker dat jou kar die basiese reg doen voordat jy hom ’n fênsie jas gee.
Sou mens Toyota se benadering van weleer in hierdie terme moes opsom, was dit dalk: Funksie. Dis al. Dis die wiel, dis die wa, daar moet niks wees wat pla, die enjin moet hou, jy moet langpad kan kou, dis al.
Nou’t Mercedes gegaan en hierdie slagspreuk omgedop: Vorm. Dis al. Daar’s g’n niks funksie wat op vorm volg nie.
Ek praat spesifiek van die A250 Sport, ’n teleurstellende klein karretjie; en die CLA 220 CDI met die AMG Line-vertoonpakket plus laer vering, ’n amperse ramp. Vaal kolle kan die Vaaldam vul.
Rit, allereerste. Dis die A-klas se kardinale sonde en iets wat die CLA 220 CDI totaal kelder. Want dis juis oor daai oliebrander in’t neus, sien, dat hierdie spesifieke model se vooras nóg harder geveer moet word om die swaarder dieselenjin te dra.
Nie dat dit ’n watwonderse bron is nie. Die 2.1-liter-4-silinderturbo (125 kW, 350 Nm, 0-100 in 8.2 sek., 230 km/h, 4.5 liter/100 km) is raserig soos ’n ploegtrekker, sy staan-gaan-funksie skakel stadig en met ’n growwe ruk-en-pluk aan, en elke nou en dan sal jy die betreklik trae 7-gang-outokas in die verkeerde rat vang.
Maar terug na die vooras. Hy krêsj deur padhobbels soos Japie Mulder destyds die vonk-idee gekry het om die arms van vyf All Blacks op ’n slag te wil oophardloop. Dit gaan nie gebeur nie. Jy sál ’n hoofpyntjie optel. Brian O’Driscoll kon dalk vier All Blacks rol, maar buiten vir Ierland se supersenter was dit dom om selfs drie aan te vat, behalwe as jy Os du Randt, John Smith en Balie Swart was.
Die CLA-diesel probeer tien All Blacks gelyktydig platbuffel. Maar keer op keer is dit ’n Fergie McCormick – gwhar! – waarin hy vashardloop.
McCormick is die ou wat destyds vir Syd Nomis op Nuweland met ’n stywe arm gefel het.
En as jy McCormick se gevaarlike arm in die Merc se syspieëltjies soek, gaan jy faal. Die drywerspieël het ’n beperkte uitvouhoek, net genoeg vir ’n bestuurder wat links sit (soos in Europa), maar te min vir een wat regs sit, behalwe as jy met helfte van daai spieël in jou eie kar wil vaskyk (wat baie mense iedergeval doen).
Benz het duidelik ook nog niegeleer hoe om die voetholte inte rig sodat jou twee knieë nie weerskante teen harde plastiekof metaal rus nie.
Afhangend van hoe jy agter die stuur sit, kan dit daai knoppe op die buitekant van jou bo-kuite soos mambagif begin mergel.
Die stuur is ook leweloos, die indraai traag. Ten minste sou mens gedink het dat die uiterse lae 40-profiele op 18”-bande plus laer vere waarop Rapport se toetsmotor gery het, die swak rit met skerp hantering kon uitkanselleer.
Maar nee, die CLA-diesel ly – nes die A45 AMG – aan teleurstellende stuurtraagheid.
Die motor bied egter een redding: As jy van al hierdie skaamtes wou ontvlug, is die agterkajuit van die CLA net die plek. Dis alom beknop en jy kan skaars by die kantruite uitsien, so jy moet ook aanneem dat ander sou sukkel om in te sien.
Of hier’s nog iets wat jy tot jou voordeel kan gebruik: Vra Japie Mulder se vyf All Blacks om agter die kar te staan as jy die kattebak met afstandbeheer oopmaak. Daai ligte tindeksel skiet so vinnig die lug in dat hy ’n Fergie McCormick op al vyf sal trek.
Daar’s ’n neiging onder Suid-Afrikaanse motorjoernaliste om feitlik voor die voet die dieselmodel van ’n motorreeks as hul gunsteling te kies.
As dit waar van onse toetsmotor sou moes wees, is die res van die CLA-reeks die vrotste karre (vir hul prys) wat die motorwêreld die afgelope 20 jaar gesien het.
Hierdie bokwa hoort in ’n Bukowski-boek.
Prys: Mercedes-Benz CLA C220 CDI – R414 000 (sonder AMG-pakket)
Die sedanweergawe van Mercedes-Benz se nuwe A-klas, genaamd CLA (hier saam met die opsionele AMG-vertoon-en-veerpakket) is, ten minste wat die dieselweergawe betref, feitlik skokkend teleurstellend.