Share

Motors: Waar's die knal?

Daar’s konsternasie in die F1-kamp. Mens kan nie die enjins hoor nie. Dis so ’n laefrekwensie-gedreun soos hommelbye in die begraafplaas. Egmont Sippel gee sy mening, en het sommer vir Alain Prost ook gevra.

Daar het ons dit nou: Formule Een in sy moderne, nuwe jas.

En hoe lyk hierdie jas?

Wel, nie alte mooi geoordeel aan die uiterlike nie. Maar daarmee kan mens vrede maak.

Dis wat binne daardie jas aangaan wat pla. Nie soseer die kleiner enjins nie; 1.6-liters versus laasjaar se 2.4-liters. Nie soseer die verlies aan twee silinders nie; ses nou, versus laasjaar se agt, natuurlik in ’n V oopgevou. Nie oor die turbo’s op daai V6’e nie; per slot van sake het die 1.5-liter-V6’e van die 1980’s ook uit turbokrag gevuur, en daar was geen probleme tóé nie.

Turbo’s, per se, is dus oukei.

Maar dis die sóórt turbo wat deesdae ingespan word wat probleme skep, naamlik dat dit die enjin-en-uitlaatklanke wurg en tot stilswye smoor – baie meer as destyds.

So, is dit jou maat, hierdie nuwe F1-formaat?

Te oordeel aan die Australiese Grand Prix twee weke gelede sou mens nee moet sê. Die ren was redelik vervelig en, wel... grafstil. Of dan so stil soos 24 lôn-mouertjies kan wees.

Soos Sebastian Vettel oor die klank van die nuwe motors verklaar het: “Dis (drieletterwoord)! Daar’s meer geraas in ’n kroeg!”

Dis ’n sentiment wat wêreldwyd ge-eggo word, en nie net deur ontevrede wedrengangers nie. Selfs die manne in hogere stoele het aan hul hoë-oktaan-konjak gestik.

Die sport se groot-indoena, Bernie ­Ecclestone, het drie jaar gelede al gesê 2014 se enjinklank gaan ’n tragedie wees. En grootbaas van die Australiese GP, Ron Walker, was so woedend dat hy summier uit sy pos bedank het.

“Ons kan nie hierdie gemors as ’n skouspel aan mense bied nie,” het ­Walker tydens die GP gedawer – en jaers wat in daardie stadium op die kuipepylvak afgesuiker het, kon hom glo hoor.

Net ’n grappie. Maar Ron het geloop. Met ’n F1 soos dié wil hy niks verder te doene hê nie.

T.S. Eliot het eenkeer gedig: “This is the way the world ends, not with a bang but a whimper.”

Vanjaar se F1-seisoen het met ’n “whimper” weggetrek.

Hier’s egter die ergste van alles: Baie mense konsentreer nou op die volume van die klank. Renmotors moet bulder, hulle moet ’n geraas maak.

En ja, sulke mense is (gedeeltelik) reg. Want kyk, aan die ander kant ís daar renmotors wat mens skaars kan hoor – en ek bedoel letterlik skaars kan hoor – soos Audi se Le Mans-dieselturbo’s. Fluister, fluister hulle sag, daai Audi’s wat soos geeste verby jou skiet sonder om ’n geluid te maak. Dis eintlik ’n bietjie ontstellend; dit jaag so ’n koue rillingtjie teen jou ruggraat af, die spookagtige gebrek aan klank.

Maar pla dit?

Nie werklik nie. Daar’s baie ander Le Mans-motors wat geraas maak. En Le Mans is ’n uithouren. Dis soos Guy ­Fawkes-dag; dit duur 24 uur lank. Die manne jaag, maar hulle’s selde flêt-out.

F1, daarenteen, is nie ’n veldslag nie. Dis ’n ontploffing. Dis soos ’n klapper op Guy Fawkes-dag.

En wat is ’n klapper sonder klank?

So, ja, volume – of die gebrek daaraan – is ’n probleem in F1.

Maar hier’s iets nog ergers: die tóón, die tímbre, die tekstúúr van hierdie nuwe klank.

Dis dood. Dis soos ’n nát klapper.

En mense wat duisende betaal om ’n Grand Prix by te woon, soek iets anders, iets spesiaals, iets unieks – nie ’n enjin wat swyg nie, maar een wat swets en skrou en skel en loei en klief en gil. Miskien nie soos Oscar as hy soos ’n vrou gil nie, maar gil.

Want dís die teken van tegnologie wat op ’n spits gedryf is: ’n klank waaruit jy instinktief kan aflei dat jy in die nabyheid van die wetenskap en ingenieurs­wese se grootste en wydste greep is: ’n klank wat deur jou boor, deur jou vlym, deur jou weerlig.

Jy kan staal daarmee sny. Met deesdae se klank kan jy ten beste met so ’n linkerskouertjie teen staal gaan skrum.

Iedergeval kon jy destyds se klank voel ook: deur jou voete, teen jou bors, tussen jou ribbes tot in die diepste pynpit van die gehoorapparaat.

Bloot uit die primordiale priemende vesel van hierdie klank wéét jy dat Van Wyk Louw se beiteltjie nie so vergesog is nie; daar ís dinge wat onse planeet in twee kan kloof.

Of daar was.

Maar nie meer nie. Want op die dag sien ek die nag, daar anderkant gaan oop, met ’n stilte wat van my enjin af, dwarsdeur die sterre loop.

Dis met hierdie as agtergrond dat ­Motor-Rapport nou die dag vir Alain Prost tydens ontbyt oor sy siening gevra het. Prost is ’n viermalige F1-wêreldkampioen, maar sy roem is nie net aan grootse suksesse te danke nie.

O nee. Prost is veel eerder as Ayrton Senna se grootste renteenstander bekend. In 1988 en 1989 het die twee as spanmaats vir McLaren gejaag. In twee jaar tesame het Prost 13 wedrenne uit 32 gewen; Senna 16.

Maar dis in kwalifisering dat Senna vir Prost verpletter het: 28 keer was hy vinniger, in 1988 met ’n gemiddeld van 0.4 sek. per wedren, en in 1989 met 0.85 sek. per wedren.

In 1988 het die manne hoeka met turbo’s gejaag. Hoe het dáái klank met vandag s’n vergelyk?

Alain het sy antwoord gereed, nes hy in sy rendae sy motor so presies kon voorberei. Húlle turbo’s is deur uitlaatgasse gespoel; vandag se F1-turbo’s dryf via ’n elektriese motor, wat beteken dat die turbo voltyds spoel, al lig die jaer sy spoedvoet tydens die remfase of in draaie.

Die afvalklep speel deesdae ’n veel kleiner rol en F1-turbo’s wurg dus die uitlaatklank veel meer as toentertyd.

Maar die seisoen is nog lank, en daar sal moontlik maniere wees om enjinklank te verbeter, reken Prost. So kom ons wag en kyk.

Ons sal volgende week ’n volledige verslag oor die onderhoud met Prost lewer, maar intussen is dit goed om te weet dat hy en Senna ná Prost se uittrede in 1993 ’n noue vriendskap ontwikkel het.

In laat ’93/vroeg ’94 – tot en met Senna se ontydige dood op 1 Mei 1994 – was hulle feitlik in daaglikse telefoniese kontak.

Dis duidelik dat die twee grootste ­vyande wat die renbaan nog gelewer het genoeg respek vir mekaar had om uiteindelik die strydbyl te begrawe en vriende te word.

Maar meer hieroor volgende week.


Sebastian Vettel aan’t oefen vir die Maleisiese Grand Prix.| Foto: Getty Images

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
31% - 487 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
69% - 1080 votes
Vote
Rand - Dollar
19.29
-0.7%
Rand - Pound
23.87
-1.1%
Rand - Euro
20.58
-1.2%
Rand - Aus dollar
12.38
-1.1%
Rand - Yen
0.12
-1.2%
Platinum
943.50
+0.0%
Palladium
1,034.50
-0.1%
Gold
2,391.84
+0.0%
Silver
28.68
+0.0%
Brent Crude
87.29
+0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE