Toe dit ’n week gelede duidelik word dat Rusland die Krim-skiereiland binnegeval en beset het, was die vrees groot dat dit tot ’n oorlog kon eskaleer. Intussen het geblyk dat die vrees – in elk geval op die kort termyn – oordrewe was, maar die vraag bly: Welke historiese voorbeeld reflekteer die huidige gebeure die beste?
In die afgelope dae is drie historiese modelle deur allerlei geleerdes geartikuleer. Dit is die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog en die Koue Oorlog.
So, watter van dié drie scenario’s kom die meeste ooreen met wat ons op die oomblik in Oekraïne sien gebeur?
Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, só lui ’n groeiende konsensus onder historici, was ’n ongeluk; niemand het dit voorsien nie. Dit was te wyte aan ’n rits militêre verdrae en die bestaan van twee magsblokke.
Toe die Oostenrykse troonopvolger, aartshertog Franz Ferdinand, dus op 28?Junie 1914 op ’n besoek aan Sarajewo vermoor word, het dit ’n domino-effek aan die gang gesit wat uiteindelik op ’n verwoestende, vier jaar lange storm van vuur uitgeloop het.
Dié omstandighede bestaan nie nou nie. Daar is net een blok, Navo, wat geen formele ooreenkoms met Oekraïne het nie en nie verplig is om hom te hulp te snel nie.
Bowendien was alle groot moondhede in 1914 tot die tande bewapen. Daarteenoor is sowel Amerika as Europa as gevolg van groot besnoeiings aan hul verdedigingsbegroting eerder besig om te óntwapen.
Poetin se tamboerslanery kan beteken dat hulle dié besnoeiings in heroorweging neem, wat ons bring by die tweede historiese presedent.
Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitbreek, het Hermann Göring effens benoud aan Adolf Hitler gesê: “Wat nou?”
Hitler se antwoord het sy kern as internasionale staatsman blootgelê: “In my lewe het ek altyd va banquegespeel.” (Va banque is ’n kaartspel wat dalk die beste as “alles of niks” vertaal kan word.)
Hitler was ’n roekelose dobbelaar.
Waar hy tot 1939 deur sy brutale optrede steeds sy opponente onkant betrap het, het hy met sy inval van Pole ’n stap te ver gegaan, die wêreld in ’n nog erger oorlog as in 1914 gedompel en sy eie land in die proses geruïneer.
Wladimir Poetin is geen Hitler nie.
Hy is nie ’n dobbelaar nie, maar ’n yskoue skaakspeler wat sy skuiwe goed beplan en nie te ver gaan nie.
Die analogie met die Tweede Wêreldoorlog kan in een opsig geldig wees. Toe dit teen 1938 duidelik word dat Hitler nie vertrou kan word nie, het die Weste begin herbewapen. Wat nou in die Krim gebeur, kan sommige streekmoondhede noop om dieselfde te doen.
Die derde model is dié van die Koue Oorlog.
Dié konflik, wat van die laat 1940’s tot die val van die Berlynse Muur in 1989 geduur het, is gekenmerk deur – soos in 1914 – twee groot magsblokke met onderlinge militêre verdrae teenoor mekaar: Navo en die Warschau-verdrag. Maar daar was twee gróót verskille.
Ten eerste was die wêreld oorlogsmoeg. In die Westerse hoofstede was wel die politieke wil aanwesig om die Sowjetunie militêr af te skrik, maar nie om werklik oorlog te maak nie.
Die tweede, wat daarmee gepaardgaan, is die aanwesigheid van voldoende kernwapens aan albei kante om alle lewe op aarde (met die moontlike uitsondering van ’n paar kakkerlakke) teoreties 20 keer oor uit te wis.
Dit was die dae van “mutual assured destruction” (MAD). Albei kante het geweet as hy eerste aanval, slaan die ander terug, wat beteken dat die aanvaller outomaties selfmoord pleeg. En daartoe was niemand bereid nie.
Daar was wel enkele oorloë aan die periferie soos in Viëtnam en Angola, terwyl ook dié in die Midde-Ooste elemente van die Koue Oorlog bevat het. Maar in die sentrum – die Noord-Europese laagvlakte en die Noord-Atlantiese Oseaan – is nooit ’n enkele skoot in woede afgevuur nie.
Dit is dié historiese model wat die naaste aan die huidige situasie kom.
Poetin is ’n klipharde magspolitikus wat sonder emosie kyk na wat hy as sy land se belange beskou en in die proses ’n 19de-eeuse mentaliteit ten toon stel.
Maar die grense van die moontlike in die 21ste eeu is anders as dié van destyds, wat die ongemaklike magsewewig van die 20ste eeu as die waarskynlikste moontlikheid oproep.
Natuurlik is dinge nie identies nie.
Die ou Sowjetunie se tenks het diep in Duitsland gestaan en die grootste deel van Sentraal- en Oos-Europa in hul greep gehad. Poetin se Rusland is teruggedring tot aan die oosgrens van Oekraïne en Belarus, duisende kilometer ver van destyds.
Vergeleke met die tyd tot 1989 is Rusland se geopolitieke posisie drasties swakker.
Nog ’n verskil is die feit dat Rusland en die res van Europa ekonomies veel meer verstrengel is as die Sowjetunie en die destydse Wes-Europa. Soos in 1914, toe Europa deur ’n eerste fase van ekonomiese globalisering gegaan het, verhoog dit die prys van ’n oorlog dramaties.
Maar ook in 1914 was dié ekonomiese prys geen voldoende rem om die afgly na ’n oorlog te keer nie. Of dit nou voldoende is, is ’n vraag wat eers mettertyd beantwoord sal kan word.
Hoe ook, al drie voorbeelde, 1914, 1939 en veral die Koue Oorlog, het ’n bepaalde waarde as die huidige situasie ontleed word. ’n Mens moet net die korrekte elemente in elkeen identifiseer.
Maar is die mensdom in staat om van die geskiedenis te leer? Die geskiedenis leer dat dit meestal nié die geval is nie.
Dr. Leopold Scholtz is ’n historikus en politieke ontleder.