’n Donker limousine knars tot stilstand buite ’n klereboetiek in een van Johannesburg se mees boheme speelplekke – Sewende Straat, Melville.
Die man wat uit die kar klim, lyk groter as Khulubuse Zuma, maar sy mosterdgeel pak pas hom eintlik nogal. Wie ook al hierdie reuse-ego is, aan sy flanke is vier fris, uitdrukkinglose mans in swart pakke met bypassende sonbrille en outomatiese gewere.
Terwyl grootmeneer oorslenter na die enigste luukse klerewinkel in Melville, bars ’n ge-boe en ’n koor van spotlag los van mense op plastiekstoele op die sypaadjie buite die Xai Xai Lounge.
“Hei! Hou op om ons pad te blokkeer met jou lelike kar en lyf!” skreeu ’n vrou. ’n Man met ’n ruie bos hare – in sy een hand klou hy ’n Black Label vas en in sy ander ’n karamel- vodka-shooter – skreeu: “Wie de fok is jy? Ons ken jou nie!”’
Xai Xai is gewoonlik vol, met ’n eklektiese mengsel van ontaardes, uitvaagsels en deugniete – andersins bekend as “kreatiewes” of “eksentriekes”.
“Baie joernaliste, akteurs en musikante drink hier. Hulle’s vriendelik, maar veroorsaak soms chaos – afhangende van hoeveel Jägermeisters hulle klap,” sê Leonie Mazibuko, die beeldskone 30-iets- Xhosa van Cradock in die Oos-Kaap wat Xai Xai bestuur met ’n ysterhand, maar darem ’n vriendelike een.
Een van die kroeg se regulars, Charles, vandag in so ’n uitgerafelde strooi-fedora, leun oor vir kommentaar: “Leonie is die bestuurder met die mooiste agterstewe in Jozi.” Hy knipoog en glimlag sarkasties.
Mazibuko giggel. Sy dra ’n stywe roomkleurige kleefbroek, bruin tenktoppie en knielengte- taan leerstewels. Haar oë dans ondeund, en sy flits gereeld ’n verblindende wit glimlag, só hittig dit sal ’n ystydperk smelt.
Omdat Mazibuko so aantreklik is, gooi mans heeltyd flikkers vir haar – iets wat sy aanvaar as deel van die jop. “Kyk, ek flankeer; ek moet in dié besigheid. Solank hulle net nie vrypostig met hul hande raak of aanstootlike goed sê nie, is dit reg,” sê sy, en voeg blitsig by: “Ek meng nie sake met plesier nie.”
Mazibuko is oortuig die beste deel van haar werk is die interessante mense wat sy ontmoet, al is die lang werktye moordend en raak sy geïrriteerd met studente wat soms “nie weet hoe om fatsoenlik te suip nie, nooit fooitjies gee nie en dan bo-oor alles opgooi”. Sy voeg by: “Maar ek kan nie kla oor my base nie, die eienaars – hulle’s wonderlik; hulle behandel my met respek en gee my hope verantwoordelikheid.
Ek sien om na die plek as hulle met vakansie gaan. Die musiek wat ons hier speel, is ook puik.”
Boston se 1970’s-treffer More Than a Feeling dawer oor die oorhoofse luidspreker. ’n Dronk ou wat sitlê op ’n nagemaakte leerbank sing sleeptong saam, vang nie die hoë note nie. Langs hom sit ’n oorgewig omie, in sy kakie kortbroek en two-tone hemp sal hy nogal inpas op ’n mielieplaas in Bothaville, en hou hande vas met ’n jong vrou, sy dik bene vervleg met haar glansende ledemate wat lyk soos stokkies gelekte drop.
“Dinge kan nogal freaky raak hier,” lag Mazibuko. “Ek’s so bly ek het nooit ja gesê vir daai toplose-kelnerin-werk by die Dorchester Hotel nie. Al daardie belustige bikers; sies!”