Share

VIDEO: Ou Suid-Afrika: PW se bom

Net wes van Pretoria is ’n vreemde gebou van gewapende beton wat eens die sentrum van Suid-Afrika se kernprogram was. Erika Gibson het in dié koue gange gaan rondloop.



Net meer as 30 jaar ná die beëindiging van Suid-Afrika se kernprogram staan die kernwapengebou leeg neffens ’n koppie verskuil agter digte bome wes van Pretoria.

Bitter min Suid-Afrikaners het toe geweet van die “Sirkel-fasiliteit” skuins oorkant Pelindaba. Ewe min onthou vandag die baanbrekerswerk wat hier – in absolute geheimhouding – gedoen is toe Suid-Afrika begin het om sy eerste kernwapens te ontwikkel.

Pelindaba, die plek wat sinoniem geword het met Suid-Afrika se kernnavorsingsentrum en waar die Safari-kernreaktor geleë is, is op die gelyknamige plaas wat ’n eeu gelede behoort het aan Gustav Preller, koerantredakteur en staatshistorikus. Sy adjunk was die legendariese skrywer Eugène Marais. Dit was hier, in die skadu van ’n kareeboom, waar ’n terneergedrukte Marais, hopeloos verslaaf aan morfien, in 1936 met ’n haelgeweer ’n einde aan sy lewe gemaak het.

Die Sirkelgebou is vandag ewe onindrukwekkend as wat dit in die middel- 1980’s was – ’n grou betonblok sonder vensters en ’n enkele ingang. Dit smelt letterlik saam met die ruie plantegroei en koppie langsaan op die Gerotek-toetsterrein. Die gebou se naam is ontleen aan die sirkelvormige baan langsaan waarop Krygkor destyds sy militêre voertuie getoets het.

Die afdraaipaadjie na die gebou het ’n naambordjie gehad met net die woord “werkswinkel”, ’n opsigtelike poging om enige verbyganger te flous oor die ware aard van die goedere wat hier vervaardig is. Die sekuriteit was trouens destyds só streng dat sommige mense wat daar gewerk het soggens met wit bussies met geverfde ruite aangery is sodat hulle nie kon sien presies waar hul werkplek is nie. Die bussies het dan tot binne-in die gebou gery, waar elke werker koers gekry het na sy werkstasie, vertel Tim Smit, uitvoerende bestuurder van Gerotek wat al 41 jaar by Krygkor werk.

Familie en vriende het nie eens geweet wat hul geliefdes daar doen nie, behalwe dat hulle met geklassifiseerde navorsingswerk besig was.
Werknemers van die Atoomenergiekorporasie en Krygkor is verbied om ná werk saam sosiaal te verkeer en sou hulle mekaar raakloop, moes hulle gemaak het of hulle mekaar glad nie ken nie. Die sekuriteitshoof van die gebou het ’n Uzi-handmasjiengeweer onder sy lessenaar gemonteer vir vinnige gebruik sou dit nodig word.

Vandag is dit waarskynlik die land se duurste pakhuis. Van toentertyd se gloriejare, toe Suid-Afrika op ’n galop vordering gemaak het met die ontwikkeling en toets van kernwapens, het daar nou net ’n verwaarloosde gebou van gewapende beton oorgebly.

Op ons besoek stap Smit voor met ’n flits, want daar is nie eens meer elektrisiteit oral in die gebou nie. Die mure is 18 duim (45 cm) dik met swaar kluisdeure wat elektronies vanuit ’n beheerkamer beheer is.

Dit is onheilspellend stil binne en nêrens is ’n venstertjie waardeur ’n stukkie daglig kan dring nie. Hier het spesialiste destyds verrykte uraan van die Pelindaba-aanleg gebruik om plofkoppe vir missiele en sweefbomme te bou.

Smit vertel dat die een kluis toegesluit was toe sy mense destyds, ná die opskorting van die program, gestuur is om uit te vind wat in die gebou oor was. “Ons het vir ’n dag en ’n half aan ’n gat geboor om in die kluis te kon kom!”

Die dubbelverdiepinggebou se grondvloer is vir die vervaardiging van kernplofkoppe en verwante stelsels gebruik. Agt ontploffingselle het elk ’n koepelvormige dekseldak gehad wat sou uitskiet as iets met ’n toets sou skeefloop.

Daar was min tyd vir enige ander tydverdryf. Die kombuisie is klein, met vermoedelik ’n eetkamer waar die werknemers hul toebroodjies binne die gebou moes eet. Rook was verbode en dit is oral in groot letters beklemtoon. ’n Vlammetjie sou hier ’n katastrofiese ontploffing tot gevolg gehad het.

Die vertrekke, wat nou net ’n gehawende mynbestande Casspir-voertuig en ’n paar afgeskryfde Oerlikon-lugafweerkanonne bevat, is koud van al die beton, met nou kronkelgangetjies om die plofkamers verder af te sper.

’n Noodstort in die een gang is ’n stille getuie van die radioaktiewe stof waarmee daar gewerk is. Elke paar vertrekke is afgesper met nog ’n kluisdeur: As werknemers eers binne was, het hulle eers laatmiddag weer die buitelug aanskou nadat hulle met dieselfde bussies weggeneem is.

Geen kommunikasietorings is op die gebou aangebring nie juis om die sluier van geheimhouding vir nuuskierige satelliet-oë dig te hou.

Die Sirkel is in 1981 deur PW Botha – toe eerste minister – in tipiese Botha-styl geopen. Hy het verwys na die land se ploegskaar wat daar tot ’n swaard gesmee sou word om die VSA en Rusland na die onderhandelingstafel te dwing. Dit sou Suid-Afrika die vermoë gee om die bedreigings aan sy grense van ’n magsbasis van kernstrategie af pleks van ’n magsbasis van swart politiek te hanteer.

Dit sou vir die land die sleutel tot ’n vreedsame oplossing uit sy jare van internasionale isolasie bied.

Suid-Afrika was in dié tyd hard besig om ’n oorlog aan sy grense te voer, terwyl die lugmag se verouderde vliegtuie bloed gesweet het teen die destydse Sowjetunie se beste vegvliegtuie en lugafweerstelsels.

Vir hulp met die bou van die kernwapens het Suid-Afrika ’n bondgenoot in Israel gevind. Die samewerking het reeds in die middel-1970’s versigtig begin en het later gehelp dat Suid-Afrika ’n langafstandmissiel soortgelyk aan die Israelse Jericho-reeks in 1985 kon toets – tot groot konsternasie van die internasionale gemeenskap. Israel moes later onder geweldige druk uit die VSA hierdie samewerking staak.

Uiteindelik is ses kernplofkoppe hier gebou, maar namate die bedreiging vir Suid-Afrika al hoe groter geraak het, is 14 in totaal beoog. Die eerste volwaardige kernwapen is in Desember 1982 – as Kersgeskenk vir PW Botha – voltooi.

Al wat vandag oor is in die kluise waarin die plofkoppe geberg is, is twee eksterne brandstoftenks vir ’n Mirage.

Die sameloop van verskeie gebeure het uiteindelik tot die einde van die program gelei. Die Sowjetunie het gewankel, die Angolese Grensoorlog is beëindig en Botha het ’n beroerte gekry. FW de Klerk het boonop vinnig ’n paar dramatiese besluite as nuwe staatspresident geneem.

Dit was by die Sirkel waar die sowat 100 werknemers in 1989 gehoor het dat FW de Klerk besluit het om die land se kernwapenprogram te skrap en te ontwapen – die enigste kernmoondheid wat ooit vrywillig van sy wapens afstand gedoen het.

Dekades se harde werk is met ’n enkele pennestreep beëindig – so eensklaps dat party se toebroodjies net so agtergebly het. Gedurende die volgende vyf jaar is ses voltooide en een halfvoltooide bom onskadelik gestel en uitmekaar gehaal. (Die Internasionale Atoomenergieagentskap... het in Augustus 1994 bevestig dat alle wapens finaal vernietig is.)

Die laaste vreemde hoofstuk in die program het in dié tyd afgespeel toe die lugmag, wat in dié stadium die “gebruiker” van die program was, rondom 1992 besluit het om die kernwapens vanuit die Sirkel na ’n ammunisiedepot naby Roedtan in Limpopo te verskuif.

Presies hoekom dié besluit enigsins oorweeg is (dis nooit uitgevoer nie), is steeds ’n ope vraag. Dalk was dit tog deel van die voorspel tot ’n moontlike regse staatsgreep...

Die A tot Z van ou SA se kernvermoë

Dr. Nic von Wielligh, afgetrede kernfisikus wat destyds nou by die kernprogram betrokke was, se boek Die Bom is pas uitgereik. Dit word beskou as die volledigste opgaaf van Suid-Afrika se kernvermoë wat nog gepubliseer is.

Dié lywige boek, wat deur Litera Publikasies uitgegee word, is boonop selfs vir die oningeligte verstaanbaar danksy Lydia von Wielligh-Steyn, die skrywer se dogter, wat dit help skryf het.

“Daar is deur die jare ’n klomp wolhaar- en bangmaakstories oor die Suid-Afrikaanse kernprogram geskryf. Ek het waar moontlik probeer om met die nodige dokumentasie as bewyse die ware weergawe te skryf. Waar ek nie antwoorde het nie, sê ek dit,” vertel Von Wielligh.






Leë wapenkluise in die Kentron-sirkelfasiliteit.


Dik betonmure en waarskuwings in die gange (onder).



Afgeskryfde 35 mm-Oerlikon-lugafweerkanonne.




We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do airplane mishaps have any effect on which airline you book your flights with?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, these things happen. I pick based on price
49% - 1026 votes
Yes, my safety matters. I don't take any chances
51% - 1089 votes
Vote
Rand - Dollar
19.21
-0.5%
Rand - Pound
23.95
-0.7%
Rand - Euro
20.56
-0.5%
Rand - Aus dollar
12.48
-0.7%
Rand - Yen
0.12
-0.2%
Platinum
912.40
-0.8%
Palladium
1,005.00
-2.1%
Gold
2,314.58
-0.3%
Silver
27.17
-0.5%
Brent-ruolie
88.42
+1.6%
Top 40
68,574
+0.8%
All Share
74,514
+0.7%
Resource 10
60,444
+1.4%
Industrial 25
104,013
+1.2%
Financial 15
15,837
-0.4%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE