Share

‘Werk om Afrikaans in howe te hou’

Die gebruik van Afrikaans as hoftaal is aan die kwyn, berig Sonja Carstens.

Omtrent al die getuienis in die Griekwastad-verhoor in die hooggeregshof in Kimberley was in Afrikaans.

Maar toe regter-president Frans Kgomo, wat sy loopbaan as ’n hoftolk begin het, uiteindelik die 18-jarige Don Steenkamp skuldig bevind het aan die moord op sy drie familielede, was sy uitspraak in Engels.

Die rede hiervoor is waarskynlik ’n praktiese oorweging: Hy het sy uitspraak as “rapporteerbaar” gemerk om opgeneem te word in die bundels wat as regsbron vir prokureurs en advokate dien.

Die Griekwastad-uitspraak is ’n goeie voorbeeld van ’n groeiende neiging wat baie Afrikaanse regsgeleerdes erg ontstel: Afrikaans as regstaal is aan’t kwyn.

Die eerste Afrikaanse appèlhofuitspraak is in 1933 geskryf deur regter Frederick Beyers (’n voormalige minister van myne), wat die meeste van sy uitsprake gedurende sy vyf jaar as appèlregter in Afrikaans geskryf het.

Vandag reken regsgeleerdes dat so min as 5% van sake op die land se hofrolle in Afrikaans besleg word.

Sonder dat die departement van justisie ’n vinger verroer het om uitvoering te gee aan wyle dr. Dullah Omar se voorstel in 1999 om Afrikaans as regstaal tot niet te maak, gebeur dit byna vanself.

Hoewel Afrikaans steeds ’n amptelik taal van hofrekord is en alle beskuldigdes ’n grondwetlike reg het om ’n verhoor in die taal van hul keuse te hê, lyk dit in die praktyk minder rooskleurig vir Afrikaans.

Die konstitusionele hof het met sy samestelling al besluit om uitsprake slegs in Engels te lewer. Advokate sê hulle weet van net een Afrikaanse appèlhofuitspraak die afgelope paar jaar.

Rapport verneem aanklaers van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) is aangesê om nie langer betooghoofde in Afrikaans op te stel nie. Dié opdrag het gekom nadat daar drie keer versoek is dat Afrikaanse betooghoofde in Engels vertaal word.

Sover vasgestel kan word, was die laaste Afrikaanse strafsaak in die hooggeregshof in Pretoria dié van die “Modimolle-monster”, Johan Kotzé. Hy is in Julie verlede jaar gevonnis. Die Boeremag-verhoor, die langste verhoor in die land se geskiedenis, is wel ten volle in Afrikaans gehou. Die vonnis was in Oktober verlede jaar.

Dit gaan effens beter in die hooggeregshof in Kaapstad. Die saak van ’n sindikaat van 26 vermeende perlemoensmokkelaars, wat môre in dié hof begin, sou aanvanklik deur ’n regter beslis word wat nie Afrikaans magtig is nie, maar is na die hof van regter Nathan Erasmus verskuif op aandrang van die beskuldigdes (waarvan almal behalwe een Afrikaanssprekend is).

Baie Afrikaanse regslui erken egter dat hulle hul kliënte dikwels aanraai om hofstukke eerder in Engels op te stel om ’n “verleentheid” te voorkom as die saak voor ’n landdros of regter beland wat nie Afrikaans magtig is nie.

Al hoe meer Afrikaanse regstudente wat hul studie in óf Afrikaans óf Engels kan aanpak, kies om in Engels klas te draf omdat dit die taal is waarin hulle sal moet werk.

Terwyl sommige regters glo daar is ’n georkestreerde poging om die gebruik van Afrikaans die nek om te draai, glo ander dit kan eerder toegeskryf word aan die land se demografie en die toenemende transformasie van die regbank.

’n Steekproef deur Rapport dui daarop dat in laer howe in Pretoria en Durban tussen 95% en 99% van die sake in Engels gevoer word. In die streekhof in Bloemfontein is net vier van die 11 streeklanddroste Afrikaans magtig.

’n Afrikaanssprekende landdros sê hy is skaam om dit te sê, maar hy voel gemakliker om sy uitsprake in Engels as in Afrikaans te lewer. “Omdat al die wetgewing en die wetswysigings nou in Engels is, sukkel ek as ek aan die korrekte regsterme in Afrikaans moet dink.”

Weens die verengelsing in die regsberoep het ’n groep Afrikaanssprekende regslui op 8 Junie 2002 die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) gestig juis om te veg vir die behoud van Afrikaans as regstaal.

Die VRA doen moeite om wetgewing soos die Kinderwet, die Kinderwysigingswet, die Wet op Verbruikersbeskerming en die Nasionale Kredietwet vir regslui in Afrikaans te vertaal, maar geen private vertalings word amptelik in die howe erken nie.

Om dié probleem te oorbrug het die taalaktivis Cerneels Lourens, ’n prokureur van Brits in Noordwes, die gelykheidshof in Kaapstad gevra om die regering te dwing om al 11 amptelike tale se amptelikheid te erken deur alle wetgewing wat deur die parlement gevoer word in elkeen van die tale te publiseer. Hy vra die hof ook om te gelas dat alle bestaande wetgewing ook in al 11 amptelike tale vertaal moet word. Die regering staan die aansoek teen.

Hoewel dit enigeen se reg is om op die dienste van ’n hoftolk aan te dring, sê ’n landdros tolke se Afrikaans is dikwels so beroerd dat dit in belang van reg en geregtigheid beter is om die saak in Engels te bereg. In die Oscar Pistorius-moordverhoor is die swak tolkwerk vir die eerste staatsgetuie, Michelle Burger, deur regslui as “skandalig en pateties” beskryf.

Prof. Steve Cornelius, voorsitter van die VRA, sê hy dink nie daar kan al gesê word Afrikaans as regstaal sterf nie. Enige syfers oor die gebruik van Afrikaans is volgens hom ’n raaiskoot omdat dit nog nooit bygehou is nie.

“Ek dink daar word beslis in meer as 5% van die sake Afrikaans gebruik. Daar is egter ’n neiging om nie Afrikaanse sake te rapporteer nie. Dit versterk die persepsie dat daar geen sake in Afrikaans is nie.

“Dit is so dat Afrikaans as regstaal bedreig word, maar ek het vertroue dat die taal sal oorleef. Daar moet egter werk gemaak word daarvan. Dit sal nie vanself gebeur nie.”

Beter in Afrikaans

Daar is heelwat Afrikaanse regs- terme wat dié in Engels oortref, maar besig is om in onbruik te verval, sê ’n afgetrede regter.
Hy noem drie voorbeelde:

* Die Afrikaanse term “toerekeningsvatbaar” is ’n soveel beter beskrywing as die Engelse criminal liability om ’n beskuldigde mee te beskryf wat verstaan wat aangaan en “toerekenbaar” is vir dit wat hy verkeerd gedoen het;

* Die begrip “wederregtelikheidsbewussyn”, wat in die delikte en strafreg gebruik word om die blaamwaardige geestesgesteldheid van ’n persoon mee te beskryf wat met opset handel, is uniek aan Afrikaans. Daar is nie ’n
Engelse ekwivalent nie; en

* Die begrippe “wederregtelikheid” in die strafreg en “onregmatigheid” in die private reg gee ’n verskil weer wat nie opgesluit is in die Engelse ekwivalent unlawfulness nie.

 
Don Steenkamp tydens sy verhoor. | Foto: Mary-Ann Palmer
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
64% - 308 votes
No! It's time to move on ...
36% - 172 votes
Vote
Rand - Dollar
19.05
+0.9%
Rand - Pound
23.76
+0.8%
Rand - Euro
20.36
+0.9%
Rand - Aus dollar
12.38
+0.9%
Rand - Yen
0.12
+1.1%
Platinum
910.30
-0.2%
Palladium
987.00
-1.8%
Gold
2,332.93
+0.7%
Silver
27.53
+1.4%
Brent-ruolie
88.02
-0.5%
Top 40
68,252
-0.5%
All Share
74,187
-0.4%
Resource 10
61,527
+1.8%
Industrial 25
102,472
-1.5%
Financial 15
15,807
-0.2%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE