Hoekom? Wel, al haar bewonderaarspos het my eie e-pos byna laat oppak... En só is babsemmerskoplys@gmail.com gebore.
Babs het ook baie uitnodigings gekry om haar emmerskoplysie verder aan te vul en sy het nou ’n weeklikse afspraak by die haarkapper “om my bolla te klits”, soos sy dit noem. Haar blou pilletjies is ook nou permanent in haar handsak gepak. Sy verduidelik: “Ek wil niks mis nie, my kind, en is nou altyd gereed as jy bel.”
Só het ons die pad gevat om by Anthonij Rupert Wyne in Franschhoek te gaan kuier.
“Nou wat gaan ons vandag aanvang?” wou sy opgewonde weet.
Ek stop toe die program in haar hand en ná ’n lang stilte oorval ’n erge hoesbui haar (’n hoesie wat sy nou al maande het) en sy wil met ’n lang gesig en sonder enige geesdrif weet: “Nou wat gaan ons twee vroumense by ’n motormuseum maak?”
“Te veel vrae, Babs,” het ek maar stilletjies vir myself gesê sonder dat sy kon hoor. “Wag en sien.”
Daar aangekom, het ons eers by die statige herehuis ’n draai gaan maak om haar uit haar onhebbelike bui te kry. Ons is getrakteer met yskoue L’Ormarins Brut Classique NV met ’n elegante perskekleur. Babs was gaande oor die fyn borrels en die dekadente suurlemoenskil-nasmaak wat sy eers ná ’n glas of twee raakgeproe het.
Later, en in ’n baie beter bui, het ons in die inheemse kruietuin gaan stap.
Die wildeals, een van die bekendste medisinale plante in Suid-Afrika, het haar oog gevang en Babs het dadelik ’n bossie gepluk en voor by haar bors ingedruk.
“Vir my hoes, my kind,” het Babs verduidelik toe sy die vraagtekens op my gesig lees. “Reg so, Ma...” het die stil stemmetjie in my weer geantwoord.
Die oulikste trembus het ons daarna kom haal en na die motormuseum geneem waar Babs se verrassing gewag het.
Ek moet verduidelik: Babs het my nog altyd met nostalgie vertel hoe sy en Tannie Emmie (haar oorlede suster) met hul Shirley Temple-hoedjies agter op die dickey-sitplek van die motor saam met Oupa en Ouma dorp toe gery het.
So, Babs se opgewondenheid was te verstane toe sy die Chrysler Roadster van 1928 met sy dickey-sitplek sien. Ma het tranerig voor die karretjie gaan staan en saggies oor die sitplek gestreel, en toe in haar handsak gekrap vir een van haar blou pilletjies.
My dag was gemaak: Babs was weer haar ou self en sy het toe sommer op die koop toe ook verlief geraak op die
Rothmans-Formule Een-kar!
Vir ’n 83-jarige tannie, moet ek sê: Sy het nog baie woema.
Ons het die dag afgesluit met ’n tapas-ete by die Terra Del Capo-restaurant. Die sjef HW Pieterse het ons bederf met delikate tempura-artisjokke, die beste charcuterie, varklies en nog baie meer.
Ek hou van so bietjie-bietjies eet-en-deel, en saam met die Terra Del Capo Sangiovese was dit ’n gastronomiese vertroeteling van ons twee se kulinêre sintuie.
Ons laaste draai was by die wynproe-lokaal en ek en Babs is toe al te vrolik en gelukkig daar weg met ’n paar bottels van Babs se gunstelingwyne van die dag, die Terra Del Capo Sangiovese en die Anthonij Rupert Optima.
Vir meer inligting oor Rupert Wyne, besoek rupertwines.com en skryf gerus vir Babs by babsemmerskoplys@gmail.com.
Groete uit my kombuis,
Anél
Babs voor die Chrysler Roadster van 1928 met sy dickey-sitplek. | Foto: Anél Potgieter
* Anél se kosblog is te lees by lifeisazoobiscuit.com
My heerlike warm slaai wat perfek saam met die Terra Del Capo Sangiovese gaan
. 250 g spek
. 1 eetlepel olyfolie
. 400 g rosa-tamaties, party in die helfte gesny
. 3 baba-langblaarslaai (baby gem lettuce), oor die lengte in helftes gesny
. 1 eetlepel olyfolie
. 2 eetlepels goeie rooiwynasyn
. 150 g bocconcini (vars mozzarellaballe), geskeur
. hand vol vars basiliekruid
. Maldonsout
. Varsgemaalde swartpeper
Verhit ’n eetlepel olyfolie in ’n pan en braai die spek oor matige hitte tot bros. Sit eenkant. Sit die tamatie en blaarslaai in ’n bak, voeg die ander eetlepel olyfolie by, geur met sout en peper en meng. Braai die blaarslaai en tamaties in die spekpan vir sowat 5 min. tot die blaarslaai verwelk en bruin en die tamaties warm is. Voeg die spek en die asyn vir die laaste twee minute by. Sit alles op ’n plat slaaibak en sit die bocconcini bo-op. Besprinkel met ’n bietjie meer asyn en geur met sout en peper. Rond af met vars basiliekruid.