Share

Radikale in Mali vernietig erfenis

Minstens 2 000 betogers in Bamako, Mali se hoofstad, kon nie die Verenigde Nasies (VN) oorreed om militêr in te gryp in die onstabiele noorde van dié Wes-Afrikaland nie.

Al-Qaeda-gesinde vegters het in Timboektoe en Gao streng sjaria-wette begin opdwing, antieke heilige plekke tot die grond afgebreek en burgers met landmyne vasgekeer.

“Die vernietiging is ’n goddelike bevel,” het ’n woordvoerder van dié groep, Ansar Dine, gesê.

“Dit is ons profeet wat gesê het wanneer iemand iets bo-op ’n graf bou, moet dit platgetrek word.

“Ons doen dit nou sodat toekomstige geslagte nie verwar word en heiliges begin eerbiedig asof hulle God is nie.”

Die betogers in Bamako het Donderdag ’n beroep op die internasionale gemeenskap gedoen om in te gryp.

Jong mense wat ook in Timboektoe – ’n wêrelderfenisgebied – wou betoog, is deur ouer inwoners daarteen afgeraai om ’n bloedbad in die historiese “Stad van 333 Heiliges” te voorkom.

Die VN-Veiligheidsraad het Donderdag ’n resolusie goedgekeur, maar militêre ingryping deur ’n voorgestelde Afrika-mag “sal nog ondersoek word”.

Die resolusie verwys na sanksies teen Ansar Dine, oftewel “Verdedigers van die geloof”, en veroordeel hul radikale optrede.

Die vernietiging van gedenkplekke en praalgrafte kan as oorlogsmisdade beskou word, lui die resolusie.

Die resolusie is eenparig deur die 15 lidlande goedgekeur, en Rapport verneem Suid-Afrika het tot die skryf daarvan bygedra.

Maar die woordvoerder van Ansar Dine het gesê hulle erken nie die VN of die Internasionale Strafhof nie.

Ecowas – die ekonomiese gemeenskap van Wes-Afrika – was verlede week reg om 3?300 troepe in die noorde van Mali te ontplooi, maar ’n VN-resolusie moet die stap bekragtig.

Die streekliggaam het gister in Ouagadougou, Burkina Faso, vergader om oplossings vir die krisis te bespreek.

Dioncounda Traore, tussentydse president van Mali wat in April in die presidensiële paleis aangeval en sedertdien in Parys is, sou ook die vergadering bywoon.

Twitter het die laaste paar dae gegons oor studente die Graf van Askia in Gao – ’n stad 320 km oos van Timboektoe – begin bewaak het uit vrees dat die vernietiging van historiese plekke hierheen sou oorspoel.

Askia die Grote het in die laat 15de eeu die Mali-ryk uitgebou tot die grootste Wes-Afrikaland tot nog toe.

Ansar Dine, wat aan die groep Al-Qaeda in die Islamitiese Magreb (Aqim) gekoppel word, het landmyne om Gao geplant om te verhinder dat meer gematigde Toearegs wat uit die Ansar Dine geskop is, ’n teenaanval begin.

Die landmyne sal ook keer dat ’n Wes-Afrika-mag Gao inval, het Abou Walid Sahraoui van die Beweging vir Eenheid en Jihad in Wes-Afrika aan AFP gesê.

Die leier van Ansar Dine, Iyad Ag Ghali, is vermoedelik nog in Gao.

Die gewelddadige afbreek van gedenkplekke in Timboektoe het gekom dae voor Unesco, die VN-agentskap vir kulturele bewaring, ’n noodfonds vir die bewaring van die Timboektoe-gedenkplekke op die been sou bring.

***

Van hier tot Timboektoe.

Van Timboektoe tot Tibet.

Metafories is dit die mees verafgeleë plek waaraan jy kan dink.

Dié geheimsinnige Wes-Afrikaanse stad is uiters moeilik om te bereik en was eeue lank ’n mitiese plek. Volgens gerugte was die hele stad van goud gemaak.

Westerse avonturiers het dit aan El Dorado gelykgestel.

Daarby is digters ook deur die stad begogel.

Die Timboektoe-museum toon dié eertydse handelstad was die kruispad op die Sahara-handelsroetes.

Dit het in die 12de eeu by ’n put ontstaan. Nie net was daar kosbare water nie, maar ook die geleentheid om skindernuus en handelsbrokkies te hoor. ’n Vrou genaamd Boektoe het dié put opgepas en vandaar die naam Timboektoe, oftewel “Boektoe se put”.

Hier is met goud, slawe en sout handel gedryf. In die 13de eeu het dit deel van die Mali-ryk geword.

Die Sidi Yahiya-moskee is in die 1400’s in die sogenaamde Goue Era gebou. Saam met die Sankoré-madrassa (waar wiskunde en sterrekunde bestudeer is) en die Djingareiber-moskee (gebou in 1330 teen 200 kg goud) het Sidi Yahiya ’n “universiteit” gevorm.

Toe was daar net twee Europese universiteite: Oxford in Engeland en Bo­logna in Italië.

Timboektoe het bekend geword as die “stad van die 333 heiliges”, want soveel Islamitiese denkers en regsgeleerdes het hier byeengekom. Tot onlangs nog het dié titel jou by die stadspoort begroet.

Die bekendste geleerde was Ahmed Baba wie se tekste oor Islamistiese regspraak vandag nog gebruik word. Hy was verantwoordelik vir die eerste biblioteek in Timboektoe, tekenend daarvan dat Afrikane lank voor kolonisasie en Christen-sendelinge kon lees en skryf.

Geskrifte is in Arabies en verskeie Afrika-tale geproduseer.

Toeareg-stamme het Timboektoe later kortstondig oorgeneem en verskeie stamme het hier geregeer totdat die Franse die land van 1893 tot 1960 gekoloniseer het.

Die eerste Westerlinge het die stad eers teen die 19de eeu bereik.

Mungo Park het in die vroeë 1800’s by die hawe in die Niger-rivier uitgekom. Gordon Laing, ’n Skot, het in 1826 tot by die stad gekom, maar is ’n maand later vermoor uit vrees vir Westerse invloed.

Die handelsroete het gekwyn, maar die literêre tradisie het Timboektoe se historiese erfenis verseker. Na raming word tot ’n miljoen geskrifte vandag in Timboektoe – in werklikheid ’n modder-en-sand dorpie – versteek, geberg en gerestoureer.

Die graf van Sidi Yahiya in die groot gelyknamige moskee is ook gevandaliseer.

Ansar Dine-volgelinge het die “heilige deur” oopgebreek.

Die deur is sedert hy gemaak is, gesluit en die inwoners van Timboektoe het geglo die dag as die deur oopgemaak word, sal die einde van die wêreld aanbreek.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
31% - 481 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
69% - 1061 votes
Vote
Rand - Dollar
19.29
-0.7%
Rand - Pound
23.87
-1.1%
Rand - Euro
20.58
-1.2%
Rand - Aus dollar
12.38
-1.1%
Rand - Yen
0.12
-1.2%
Platinum
943.50
+0.0%
Palladium
1,034.50
-0.1%
Gold
2,391.84
+0.0%
Silver
28.68
+0.0%
Brent Crude
87.29
+0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE