Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

'WB vererger dalk ongelykhede'

Deur: Ingé Lamprecht 2010-10-22 07:43
Johannesburg. - Daar sal weinig werklike ekonomiese voordele vir Suid-Afrika uit die Wêreldbeker-sokkertoernooi spruit.

Mnr. Neren Rau, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN), sê dié geleentheid het wel ’n platform geskep waarop groei gebou kan word. Rau was gister ’n spreker op die Africa­growth Insti­tute se 2010 Konferensie vir klein, middelslag- en mikro-ondernemings (KMMO’s).

Rau sê hoewel dit nog te vroeg is om navorsing daaroor te doen en dit te bewys, is daar “sterk anekdotiese bewyse” dat die toernooi op die manier wat dit bestuur word, nie goed is vir ontwikkelende ekonomieë wat sukkel met ongelykhede nie. Dit kan dié ongelykhede selfs vererger.

Suid-Afrika is een van die lande met die hoogste Gini-koëffisiënt. Dié syfer meet die inkomste-ongelykheid van ’n land.

Rau sê omdat die wêreldbeker-aktiwiteite gekonsentreer was in sekere stede wat reeds ekonomies relatief stewig geanker was en die toernooi nog ekonomiese aktiwiteit na dié stede laat vloei het, het dit die verskil tussen dié stede en plattelandse gebiede vergroot.

Hy sê omdat slegs enkele ondernemings wêreldbeker-geleenthede betekenisvol kon benut, het dit ook die verskil tussen dié ondernemings en ander laat vergroot.

Buitelandse ondernemings, veral van China, het ook geleenthede beter benut as Suid-Afrikaanse ondernemings en op ’n internasionale vlak het dit ook ’n uitwerking op die verskil.

Opkomende ekonomieë dryf tans wêreldgroei. Ondernemings moet hulle posisioneer om dié mark te ontgin, hulle aan die regte vennote verbind en die opswaai eerder te vroeg as te laat benut.

Ramings toon dat die Bric-lande (Brasilië, Rusland, Indië, China) en Suid-Afrika in 2011 gesamentlik met 7,9% kan groei terwyl gevorderde ekonomieë (soos die VSA en Brittanje) maar met 2,2% sal groei.

“Ons sal moet kyk na nuwe, kragtige en soms selfs riskante verhoudings. Dit is die enigste manier om jou onderneming te bevorder en die enigste manier om die ekonomie te bevorder.”

Die land se ekonomie gaan nie reggeruk word deur plaaslik te fokus nie. “Die verbruikersvraag is nie plaaslik daar nie,” sê Rau.

Eienaars moet ’n onderneming nie onnodig aan risiko blootstel nie, maar hulle sal by hul Japanse en Chinese eweknieë se aggressiewe benadering moet aanpas.
Sake
Lees meer oor:    neren rau  |  ongelykheid
«Terug