Johannesburg. – Die Suid-Afrikaanse finansiële markte verdiskonteer reeds ’n moontlikheid van 70% dat die Reserwebank rentekoerse teen September gaan verlaag.
Só het Annabel Bishop, ’n ekonoom van Investec en voormalige Sake24- Ekonoom van die Jaar, gister gesê nadat die land nóg goeie inflasienuus gekry het.
Statistieke Suid-Afrika het aangekondig dat produsenteprys-inflasie verlede maand op 6,6% gebly het.
Hoewel ekonome verwag het dat dit tot 6,3% sou verlangsaam, is die nuus vertolk as ’n aanduiding dat die Reserwebank hom minder oor inflasie hoef te bekommer.
Die verbruikersprysindeks het verlede maand weer tot binne die Reserwebank se inflasieteikenband van tussen 3% en 6% gedaal.
Volgens die jongste peiling van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) oor inflasieverwagtinge verwag rolspelers dat die inflasiekoers vir die derde opeenvolgende kwartaal grootliks sywaarts gaan beweeg.
Inflasieverwagtinge is ’n belangrike aanwyser vir die Reserwebank se besluit oor rentekoerse.
Luidens die peiling, wat onder huishoudings, sakelui en vakbonde gedoen word, is die verwagting dat die gemiddelde inflasiekoers vanjaar 6,1% sal beloop en dat dit aanstaande jaar nog laer sal wees.
Die rentekoers vir vooruitkontrakte in Desember het die week tot 5,23% gedaal, die laagste vlak in sewe maande.
Dit is 27 basispunte laer as die Reserwebank se repokoers en 37 basispunte laer as die Johannesburgse interbankkoers oor drie maande.
Dit impliseer dat markte meen daar is ’n moontlikheid van meer as 70% van ’n rentekoersdaling.
Die 33 ekonome wat aan Sake24 se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem, pas ook hul rentekoersverwagtinge afwaarts aan. (Lees die volledige berig op die volgende bladsy.)
Nadat tien van die ekonome twee maande gelede nog ’n moontlike rentekoersstyging voorspel het, is daar nou net twee wat so dink.
Volgens die jongste konsensusraming verwag 29 ekonome dat rentekoerse die res van die jaar nie gaan verander nie en twee voorspel selfs ’n daling.
Bishop sê die Reserwebank is steeds baie besorg oor hoe kwesbaar Suid-Afrika se ekonomiese groei is vir die finansiële krisis in Europa wat steeds voortsloer.
“Ons verwag steeds dat die rentekoers nie vanjaar verlaag sal word nie, maar baie gaan afhang van wat op die beraad van die Europese Unie gaan gebeur asook lande in die eurogebied se finansieringskostes”
Bishop sê produsenteprys-inflasie sal waarskynlik aanhou verlangsaam as gevolg van ’n swakker wêreldvraag.
“Die rand sal na verwagting ook nie verder verswak nie, tensy die EU-beraad of ander eurokwessies skeefloop.”
Ekonome se meningSkerper prysstygings in die mynbou- en steengroefsektor, onder meer as gevolg van hoër elektrisiteitskoste, was die rede waarom produsenteprysinflasie (PPI) nie al verlede maand gedaal het nie.
Die PPI het op 6,6% gebly, terwyl ekonome ’n koers van 6,3% verwag het.
Die PPI in die mynbou- en steengroefsektor het van 7,6% in April tot 8,4% in Mei toegeneem.
Dennis Dykes en Nicky Weimar, ekonome van Nedbank, sê egter die swakker wêreldwye vraag sal kommoditeitspryse afdruk en só help om produsenteprys-inflasie te verlig.
Dykes, Sake24 se Ekonoom van die Jaar vir 2011, en Weimar meen die PPI sal vanjaar verder verlangsaam, maar waarsku dat ’n swakker rand dit weer kan laat klim.
“(Die rand) kan geknou word deur tye van wêreldwye weersin teen risiko en onsekerheid oor die ANC se Mangaung-konferensie.”
Ilke van Zyl, ’n ekonoom van Absa Capital, sê voedselpryse op landbou- en vervaardigingsvlak word uiteindelik oorgedra na die pryse wat verbruikers vir voedsel betaal.
“Dit is daarom bemoedigend dat voedselinflasie op landbouvlak afgeneem het van 7,3% in April tot 2,3% in Mei.”
Voedselinflasie op vervaardigingsvlak het van 9,7% tot 8,4% verlangsaam.
Van Zyl sê die PPI het Absa Capital se siening versterk dat die Reserwebank die rentekoers langer laag sal hou.