Johannesburg. – Afrika hou groot
moontlikhede in as uitvoerbestemming vir Suid-Afrikaans-vervaardigde
voertuie.
Mnr. Gavin Maile, Afrika-voertuigbedryfsleier van KPMG, sê hoewel uitvoervolumes na lande soos
Algerië, Nigerië en Zimbabwe tans nog relatief laag is, is die groei in dié markte groot en sal daar na verwagting in
die toekoms al hoe meer op Afrika-markte gesteun
word.
Tans is die VSA Suid-Afrika se
grootste uitvoermark, gevolg deur Europa en Japan.
Maile het gister op die bekendstelling van die KPMG Global Automotive Executive Survey 2012, ’n
opname onder meer as 200 internasionale senior uitvoerende amptenare in die
motorbedryf (sien kassie), gesê algehele voertuiguitvoer uit Suid-Afrika het verlede jaar met 14% tot 272 457 eenhede
gestyg.
Dit verteenwoordig sowat 96% van die
uitvoer wat in 2008 (die grootste uitvoerjaar tot dusver) bereik is.
Die totale verkope van nuwe voertuie
het verlede jaar die verwagtinge oortref en met sowat 16% tot 572 241 eenhede
gestyg, hoewel dit steeds net sowat 80% van die
totale verkope van 2006 verteenwoordig.
Hoewel bedryfsrolspelers matige voertuigverkoopsgroei vir vanjaar
verwag, sê Maile die plaaslike voertuigmark sal nie weer ’n bloeitydperk beleef
voor die bruto binnelandse produk (BBP) teen
vlakke van 5% of 6% per jaar groei nie. Die plaaslike ekonomie het verlede jaar met
sowat 3% gegroei.
Die rol wat bekostigbaarheid in voertuigverkope speel, word
onderstreep deur die skerp groei in die verkope
van intreevlakvoertuie (byvoorbeeld die Yaris,
Fiesta en Indigo) wat in 2010 verkoopsgroei van
sowat 83% beleef het. Lae voertuigprysinflasie in dié segment het verder tot dié
tendens bygedra.
Ingevoerde voertuie het ook markaandeel gewen.
Altesame 69% van die nuwe
passasiersvoertuie wat verlede jaar verkoop is, was ingevoerde voertuie
vergeleke met 66% die vorige jaar.
Dié tendens het oor die afgelope jare geleidelik opwaarts geneig
namate die invoerheffing gedaal het. In 2005 is een plaaslik vervaardigde
voertuig vir elke ingevoerde voertuig verkoop.
Wat komponente betref, sê Maile die uitvoer van katalitiese omsetters het verlede jaar steeds
geweldige sukses getoon en hopelik sal die bystand vir kwesbare bedrywe – wat as
deel van die produksie- en ontwikkelingsplan
(APDP) in werking gestel sal word, die groei
verder ondersteun.
Die groot negatiewe handelsbalans is egter ’n bron van kommer; veral in
die lig van Suid-Afrika se werkskeppingsteikens.
Maile sê die negatiewe handelsbalans is hoofsaaklik die gevolg
daarvan dat komponente van sowat R70 miljard
ingevoer word terwyl daar net komponente van
R35 miljard uitgevoer word.
Hy sê dis belangrik dat dié wanbalans aandag geniet omdat daar oor
die algemeen meer werk geskep kan word indien die persentasie plaaslike
komponente in vervaardigde voertuie verhoog word.
Meningspeiling