Johannesburg. — Afrika suid van die Sahara is nie op die punt van ’n ekonomiese ontploffing nie, maar op mediumtermyn lyk groei in die streek belowend.
In sy jongste verslag oor die vooruitsigte vir die wêreldekonomie sê die Wêreldbank hy verwag vanjaar groei van 5% in die streek, ietwat meer as die 4,7% van verlede jaar.
Vir aanstaande jaar word groei van 5,3% voorspel.
Suid-Afrika se groeikoers vir vanjaar word op 2,7% en vir volgende jaar op 3,4% geraam. Verlede jaar was dit 3,1%. Sonder
Suid-Afrika, wat vir meer as ’n derde van die streek se bruto binnelandse produk verantwoordelik is, het die res van Afrika suid van die Sahara verlede jaar selfs sterker groei aangeteken (5,6%). Dit is meer as die wêreldgemiddelde vir ontluikende lande, China uitgesluit, van 4,9%.
Die bank sê hoër kommoditeitspryse en groter makro-ekonomiese en politieke stabiliteit het tot dusver private beleggings na die streek laat stroom.
Die skerp daling in groei in Europa het ’n invloed op die uitvoer van Afrika suid van die Sahara, en groter diversifisering van handelsvennote kan die streek help om dié gevolge te vergoed, sê hy.
Die streek raak ál minder afhanklik van handel met Europa, en die groei in uitvoer na Asië neem weer toe. Sowat 25% van sy uitvoer gaan nou na Europa teenoor 40% in 2010.
Die Wêreldbank waarsku wel dat as die Europese situasie vererger, sal nie ’n enkele ontluikende land gespaar bly van die gevolge nie.
Die bank voorspel dat die ekonomieë van hoë-inkomstelande vanjaar met net 1,4% sal groei, volgende jaar met 1,9% en in 2014 met 2,3%.
Ontluikende lande sal teen gemiddeld 5,3% groei en sal na verwagting volgende jaar groei van 5,9% behaal en in 2014 groei van 6%.