Johannesburg. – Die arbeidswette wat voorgestel word, gaan allermins arbeidsmakelary bekamp – dit sal eerder die grootste rolspelers in dié bedryf ’n ystergreep op die land se ekonomiese lewe gee.
Dit sal ook nie kontrakwerkers se lot veel verbeter nie, maar eerder die gehalte van permanente werk wegkalwe, meen Loane Sharpe, ’n ontleder van die arbeidsmakelaar Adcorp.
Hy sê groot makelaars glimlag stilweg breed oor die voorgestelde wysigings aan die Wet op Arbeidsverhoudinge – dít terwyl Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa) én Cosatu, om verskillende redes, dit as ’n dreigende katastrofe voorhou.
Die kernwysiging aan kontrakwerk – dat sulke werkers ná ses maande as permanent “geag” word – word verkeerd verstaan, sê Sharpe.
“Dit word vertolk asof hulle dan permanente werknemers van die kliënt word. Wat dit werklik inhou, is dat die arbeidsmakelaar die werkgewer bly, met net een verandering: dat die werker in die geval van ’n dispuut óf die arbeidsmakelaar óf die kliënt as respondent kan benoem.
“Wat ons in die praktyk sal doen, is om kliënte vrywaring te gee sodat ons in ieder geval die saak hanteer en enige regskoste of boetes dek.
“Dis in ons voordeel en tot die klein makelaars se nadeel, want hulle gaan nie die finansiële vermoë hê om geloofwaardige vrywarings te bied nie.”
Die beweegrede vir die sesmaande-reël wat voorgestel word, is dat kontrakwerkers daarna “gelyke besoldiging vir gelyke werk” sal ontvang.
Amptenare van die departement van arbeid asook Busa glo dit beteken dat die kontrakwerkers se diensvoorwaardes verbeter word. Dit sal egter meer waarskynlik beteken die permanente werkers se diensvoorwaardes verswak, sê Sharpe.
Daar is ses uitsonderings op die gelykebesoldigingsreël, onder meer “enige redelike rede”.
“Jy gaan nie skielik meer vir tydelike werkers betaal nie. Byvoordele vir almal gaan eerder skaars word.”
Die wet bevat ’n meganisme waarkragtens ’n permanente werker ’n kontrakwerker word – dit vereis net konsultasie oor veranderinge aan die diensvoorwaardes, maar met die dreigement van afleggings as die alternatief, kan dit binne weke gedoen word, sê Sharpe.
“Arbeidsmakelaars is berug daarvoor; hulle weet hoe om dit binne 14 dae te doen.”
Daar is geen rede om te aanvaar die arbeidsmark sal na die hoogste gemene deler eerder as die laagste een beweeg nie, sê Sharpe. Daar is sowat ’n miljoen arbeidsmakelaar-werkers en nog 3 miljoen “atipiese” werkers, onder wie direkte kontrakwerkers, skat Adcorp. Adcorp het sowat 12% van die mark en Kelly Group nagenoeg 3%, volgens Sharpe.
Die res van die mark is heeltemal gefragmenteerd en die verwagting is dat heelwat van dié mark na groter groepe soos Adcorp en Kelly sal “migreer”.
“Nie net kleiner arbeidsmakelaars se sake nie, maar ook die werkers wat tans direk op vastetermynkontrakte werk, sal na ons toe kom,” sê Sharpe.
Die aantal arbeidsmakelaar-werkers bly vanjaar groei, minstens in verhouding tot die aantal permanente werkers, het Adcorp gister in sy maandelikse indiensnemingsindeks gesê.