Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Beleid-vrae verlam sake

Deur: Adri van Zyl 2012-06-24 09:11
Johannesburg. – Die korporatiewe sektor in Suid-Afrika is verlam deur onsekerheid oor politieke en ekonomiese beleid en dit weerhou hulle daarvan om die broodnodige beleggings te doen wat die ekonomie na ’n vinniger rat kan laat oorskakel.

Dit blyk uit die opgepotte kontant van R522 miljard wat maatskappye einde April in bankdeposito’s gehou het. Dit is 11% meer as in April ver­lede jaar, maar darem minder as die R540 miljard van Desember.

Maatskappye in bykans alle sek­tore van die ekonomie, onder meer eiendom, finansiële dienste, vervaardiging en konstruksie, gaar kontant op eerder as om dit produktief te ­belê. Die uitsondering is die kleinhandelsektor, waar uitbreidings en beleggings voortgaan.

Suid-Afrikaanse maatskappye het al voorheen met groot bedrae kontant op hul balansstaat gesit, maar vir die eerste keer is die oorheer­sende rede die onduidelike beleidsrigtings en politieke onsekerheid. Die onsekerheid oor die wêreldekonomie dra ook by tot die traagheid van maatskappye om langtermynbeleggingsbesluite te neem.

Dr. Johan van Zyl, uitvoerende hoof van Sanlam en voorsitter van die vereniging van spaar en beleggings (Asisa), het in die afgelope week in sy openingsrede op die jaarkongres van Asisa gesê Suid-Afrikaners en buitelanders sal met hul kapitaal op die kantlyn sit totdat daar sekerheid is oor hoe dit aangewend gaan word.

Ajen Sita, uitvoerende hoof vir Afrika van Ernst & Young, sê daar is veral vraagtekens oor die koers wat die regering in die volgende ses maande gaan inslaan, met die ANC-beleidskongres vandeesweek en die ANC-verkiesingskongres in Desember voor die algemene verkiesing volgende jaar. “Maatskappye streef na ’n goeie opbrengs op hul beleggings en daarvoor is duidelike beleidsrigtings en politieke sekerheid nodig. As dit ontbreek, hou hulle liewer kontant.”

Konrad Reuss, besturende direkteur van die kredietgraderingsagentskap Standard & Poor’s vir Afrika suid van die Sahara, sê die kontantsaldo van maatskappye sal nie oor die volgende 12 maande veel ver­minder nie.

“Met alles wat op die politieke en ekonomiese agenda is, is daar min aanmoediging vir maatskappye om oor die volgende 12 maande beleggingsbesluite te neem wat op lang termyn ’n invloed op hul bedrywighede gaan hê.”

Sita sê die fondament van elke demokratiese staat is ’n algemene verkiesing elke vier jaar, maar dit is ekonomies ongesond as dit elke keer ­gepaardgaan met onsekerheid oor beleidsrigtings. “Al is daar veranderinge in die politieke leierskorps en selfs die regering, moet daar sekerheid wees oor beleidsrigtings op lang termyn, anders word die korpora­tiewe sektor elke vier jaar deur onsekerheid verlam.”

Volgens hom is die nuwe groeiplan ’n stap in die regte rigting, maar dit moet afgebreek word in kleiner projekte waarin belê kan word.

Chris Hart, ’n ekonoom van Investment Solutions, sê twee voorbeelde van waar goeie beleidsbedoelings skeefgeloop het, is die bemagtigingshandves vir die mynbousektor en grondhervorming.

Hy sê die mynbousektor het in 2001 begin stagneer toe die handves vir die sektor gepubliseer is, terwyl uitbreidings nodig is om die prysenswaardige doelwitte van die handves te behaal.

Net so het die onsekerheid en die veranderde doelwitte met grondhervorming veroorsaak dat Suid-Afrika nou ’n netto invoerder van kos is pleks daarvan om groter beleggings te lok en die sektor uit te brei.

“Die pogings om ekonomiese probleme op te los, vererger die probleme weens onsekerheid oor die doelwitte wat verder bydra tot die pro­bleme.”

Die traagheid van Suid-Afrikaanse maatskappye om binne die land te belê, belemmer ekonomiese groei en werkskepping, wat weer nodig is om die vraag in die ekonomie te skep wat beleggings sal aanmoedig.

Reuss sê hiervoor is ewewig tussen vraag en aanbod nodig. Aan die een kant sê maatskappye dat ’n toename in vraag beleggings sal aanmoedig terwyl werkloosheid hoog is en verbruikers wat wel ’n inkomste verdien, onder finansiële druk is.

Ekonomiese groei word voorts belemmer omdat Suid-Afrika nie soveel buitelandse vaste investering trek soos wat in die huidige omstandighede verwag sou kon word nie.

Groei in Europa en die VSA het so te sê tot stilstand gekom en beleggingsgeld stroom na die ontluikende lande. Suid-Afrika kry egter nie sy deel daarvan nie omdat die ekonomie nie produktief genoeg is nie.

Sita sê groter beleggings in die binnelandse ekonomie, nie net in vervaardiging en verbruikersgoedere nie, is nodig om werk te skep en ’n aanloklike beleggingsbestemming vir buitelanders te skep.

Suid-Afrikaanse maatskappye is nie onwillig om hul geld elders te belê nie. Kleinhandelaars en finansiële ­instellings brei uit na elders in Afrika, ten spyte van die risiko’s wat dit kan inhou.

Hart sê die ekonomie word gekniehalter deur ’n wanbalans tussen die spaarkoers van maatskappye en individue. “Al belê die korporatiewe sektor al hul kontant, gaan dit nie ­genoeg wees om die werkloosheidsprobleem op te los nie. Werk word nie deur die korporatiewe sektor geskep nie, maar wel deur huishoudings, en hulle het nie miljarde rande se spaargeld nie,” sê hy.

Baie kontant op balansstaat is nie altyd ’n slegte ding

Daar was in die verlede ook lang tye waarin Suid-Afrikaanse maatskappye groot bedrae kontant op hul balansstaat gehad het.

Dit was nie noodwendig altyd sleg nie.

Chris Hart, ’n ekonoom van Investment Solutions, sê gedurende die skuldstilstand van die 1980’s, die Asiatiese krisis van die 1990’s en die ineenstorting in die waarde van die rand in 2001 was die kontant op korporatiewe balansstate Suid-Afrika se behoud.

In 2008, toe die finansiële krisis ontbrand het, is Suid-Afrikaanse maatskappye weer eens beskerm deur hul “konserwatiewe” benadering tot beleggings.

Die feit dat Suid-Afrikaanse maatskappye gesond is, word ook weerspieël deur die bewegings op die JSE. Die Suid-Afrikaanse aandelebeurs het die afgelope tyd hoogtepunte aangeteken en is 40% hoër as in 2008. In Frankryk is die aandelebeurs 50% laer, in Spanje 60% en in Griekeland 90%. In Duitsland was die bewegings ten beste sywaarts.

Konrad Reuss, besturende direkteur vir Afrika van Standard & Poor’s, sê uit ’n graderingsoogpunt is die kredietwaardigheid van Suid-Afrikaanse maatskappye ’n pluspunt. Dit beteken dat hulle nie aan oormatige skuld blootgestel is nie.

Daarbenewens is die kontant­deposito’s van maatskappye ’n goeie bron van finansiering vir die banke. Banke gebruik op hul beurt dié deposito’s om lenings beskikbaar te stel.

Reuss sê as maatskappye binne ’n kort tyd op groot skaal beleggings hervat, sal die banke moet skarrel om ander bronne van ­finansiering te kry.



 
Lees meer oor:    beleid  |  onsekerheid
«Terug