Die oorhoofse boodskap uit die ANC se beleidskonferensie was positief, het Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa) Vrydag in ’n verklaring gesê.
Hoewel dié organisasie glo kern- ekonomiese besluite wat geneem is kan beleggersvertroue en ekonomiese groei ’n hupstoot gee, meen hy kritieke noodsaaklikhede moet in plek wees vir die nasionale ontwikkelingsplan (NDP) om traksie te kry.
Busa sê om dié plan en verwante beleid toe te pas, gaan ’n gesamentlike poging van die regering, die sakegemeenskap en georganiseerde arbeid vereis, spesifiek om ’n lae ekonomiese groei-strik in komende jare vry te spring.
Busa sê dis uiters noodsaaklik dat die toepassing van die plan ’n prioriteit word en dat daar dringend werk van gemaak moet word om enige verlore veld te wen.
Die organisasie meen dis noodsaaklik dat gehou word by die sterk boodskap wat by die konferensie uitgestuur is sodat dit die nodige bestendigheid verseker om private vaste investering aan te moedig.