Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Duitse begroting klop teen 2016

Deur: Bloomberg 2012-06-25 05:00
Die Duitse regering gaan sy begroting balanseer – drie jaar vroeër as wat regulasies vereis.

Die sogenaamde strukturele tekort in die begroting gaan volgende jaar tot 0,35% van die bruto binnelandse produk (BBP) inkrimp.

Die doelwit is ’n oorskot teen 2016, en dan gaan hy sy werklike skuld begin delg en nie net meer rente afbetaal nie.

Die regering gaan daarvoor staatmaak op ’n groter belastingopbrengs en besnoeiings.

Die Duitse begroting is in die kollig omdat dr. Angela Merkel, Duitse kanselier, ander lande probeer oortuig dat die inkorting van begrotings dividende lewer.

Werkloosheid het verlede maand tot die laagste vlak in twee dekades, 6,7%, gedaal. Dit is in teenstelling met wat in die res van Europa gebeur.

Volgens die ekonomiese beleid sal netto federale lenings van €18,8 miljard volgende jaar tot €13,1 miljard teen 2014 daal, dan tot €4,7 miljard teen 2015 en teen 2016 nul bereik.

Duitsland se finansiële agentskap wat effekteverkope bestuur, sal sy verslag oor die derde kwartaal vandeesweek bekend maak. Die volume het na raming effens gestyg om kontant te verkry vir die land se bydrae tot die euro-reddingsfonds.

Merkel is verbind tot die nuwe begrotingsreëls vir die eurogebied wat deur die Europese fiskale ooreenkoms ingestel is en wat sy hoop die parlement op 29 Junie sal aanvaar. Die ooreenkoms vereis dat lande wat dit onderteken, van 2013 of 2014 af hul strukturele begroting tot 0,5% van die BBP beperk.

 
Lees meer oor:    duitsland
«Terug