Sake24

Eise teen Cosatu kan instroom

Deur: Dewald van Rensburg 2012-06-17 05:00
Johannesburg. – Die konstitusionele hof het in die afgelope week Cosatu se toenemend uitgesproke kritici kragtige skietgoed gegee.

Die hof het Woensdag sy lank verwagte uitspraak in die saak Satawu vs. Garvis gelewer. Dit spruit uit ­Cosatu se rampspoedige optog in Kaapstad tydens die 2006-staking in die privatesekuriteitsektor, wat op grootskaalse geweld en plundering uitgeloop het.

Dié uitspraak baan die weg vir groot geldelike eise teen Cosatu en sy filiale vir enige skade wat weens hul optogte aangerig word.

Cosatu het self gesê só ’n uitspraak kan vakbonde finansieel vernietig en het dit die afgelope week as ’n ramp bestempel.

Die DA, wat hom toenemend as ’n kampvegter teen Cosatu voorhou, het klaarblyklik reeds ’n saak voorberei in afwagting van die uitspraak van die konstitusionele hof.

Kaapstad is gereed om Cosatu se munisipalewerkersvakbond Samwu vir R100 000 te dagvaar in verband met sy chaotiese optog in Augustus verlede jaar, het Patricia de Lille, burgemeester, kort ná die uitspraak aangekondig. Sy het bygevoeg dat die stad “nie sal aarsel om eise in te stel nie” as vanjaar se loononderhandelinge op iets soortgelyks uitdraai.

Satawu en Cosatu het in die konstitusionele hof probeer aanvoer dat die Wet op die Beheer van Byeenkomste se bepalings oor skadevergoeding ongrondwetlik is. Satawu is ingevolge dié wet vir R1,5 miljoen gedagvaar in verband met skade tydens sy 2006-optog.

Dié stuk wetgewing is in die onstuimige vroeë 1990’s bekragtig, maar tot 2006 oënskynlik nooit as ’n wapen teen vakbonde gebruik nie. Kragtens die bepalings van die wet is die organiseerder van enige optog of byeenkoms in ’n openbare ruimte aanspreeklik vir geweld of skade aan eiendom wat weens sy optog plaasvind of aangerig word.

Hoewel die uitspraak van die konstitusionele hof deur onder meer die DA en die Fedusa-vakbond Uasa as ’n oorwinning teen “stakingsgeweld” verwelkom is, laat die wet net eise teen organiseerders van optogte toe en is daar nêrens verwysing na stakings as sodanig nie.

Vandeesweek se uitspraak hou ironies geen gevolge in nie vir die leeueaandeel van die staking van 2006 se mees grusame geweld: die moord op meer as 50 nie-stakers wat onder meer van Metrorail-treine afgegooi is.

Die eis teen Satawu hou eerder verband met die beskadiging van twee stalletjies, ’n winkel en ’n handvol motors in sy optog.

Die wet sluit ook stakingslinies op werkgewers se persele uit wat eerder deur die Wet op Arbeidsverhoudinge gereguleer word.

“Dit maak nie saak waaroor die byeenkoms gaan nie – dit maak saak waar jy bymekaarkom,” sê Sandile July van die regsfirma Werksmans.

“Hoewel dit op alle optogte van toepassing is, is dit prakties vak­bonde wat die meeste geraak word,” sê Mbalenhle Cele, hoof van die Freedom of Expression Institute (FXI) se regskliniek, wat aan Satawu se kant ’n vriend van die hof was.

Dit is omdat vakbonde, spesifiek Cosatu en sy filiale, as ’n reël die grootste en mees gereelde optogte hou in verband met stakings, maar toenemend ook maatskaplik-ekonomiese kwessies soos e-tolpaaie of ­arbeidsmakelaars.

Hoewel die wet tegnies al twee dekades sulke eise moontlik maak, is dit tot nou feitlik nooit gebruik nie.

“Ek huiwer om te sê dit het nog nooit gebeur nie, maar dit is die eerste geval wat ek teenkom,” sê Johan Botes van die regsfirma Cliffe Dekker Hofmeyr.

“Waarvoor ons bang is, is dat dit nou wyd bekend geword het, waar betreklik min mense oënskynlik vroeër daarvan geweet het,” sê Cele.

Toenemende ongelukkigheid oor gewelddadige en onbeheerste stakings maak dié ou wet nou een van die grootste bedreigings vir Cosatu, maar daar is ook in regeringskringe pogings om stakingsgeweld daadwerklik met sterk optrede te bekamp.

’n Stel voorstelle vir die nuwe wet op arbeidsverhoudinge wat voor die parlement dien, is deur Zwelinzima Vavi, Cosatu se hoofsekretaris, die “enkele grootste bedreiging vir vakbondregte sedert 1994” genoem.

Onder dié voorstelle is voorstelle dat stakings in die geheel, eerder as net optogte, opgeskort kan word sodra geweld ontstaan.

Dit sou nie geldelike eise tot gevolg hê nie, maar wel misdrywe tydens stakings buite die amptelike optogte polisieer.

Die toenemende gevalle van on­beskermde stakings, wat dikwels nie deur ’n vakbond uitgeroep word nie, kan egter onder só ’n bestel verder opvlam.
 
Lees meer oor:    cosatu  |  vakbonde  |  stakings
«Terug