Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Geldsterre val op Karoodorp

Deur: Antoinette Slabbert 2012-07-22 05:00
Carnarvon. – Dié Noord-Kaapse dorp se ekonomie is soos ’n klein dammetjie. Al is die klippie wat jy ingooi klein, kring die rimpelings wyd uit.

Dít is wat nou aan die gebeur is danksy dié dorp se sterreprag.

Carnarvon het maar omtrent 6 000 inwoners, sê Ellen Riley, raadslid van die Kareeberg-munisipaliteit. Dit is tradisioneel ’n boerderygemeenskap met sowat 200 skaapboere in die omgewing en ’n groot abattoir op die dorp.

Maar, sê sy: “Ons donkerte en stilte en ons agtergeblewenheid is ons bate.”

Dit het wetenskaplikes so agt jaar gelede gelok om 80 km buite die dorp, anderkant Klerefontein, die KAT-7-radioteleskoop te ontwikkel. Dít is besig om te groei tot die MeerKAT, en uiteindelik sal die SKA van R20 miljard, die wêreld se grootste radioteleskoop en die grootste wetenskapprojek ter wêreld, op dieselfde terrein opgerig word.

Die mense van Carnarvon verduidelik dié projekte is hoogs tegnies en gaan nie duisende werkgeleenthede skep nie.

Omtrent 60% van die dorp se inwoners is werkloos, sê Zolile Dingile, munisipale bestuurder. Tog maak die klein klippies reeds ekonomiese rimpelings.

Lize-Maré Malan en haar ma, Magrieta Botha, bedryf twee gastehuise en oornagkamers. Van die ingenieurs wat met die SKA te doen het, bly vir die duur van hul kontrak – tot 17 maande – in dié gastehuise. Hulle neem boonop meer etes as gaste wat net deurry en dus is die opbrengs per bed groter.

Danksy die SKA is ’n derde van hul beddens semi-permanent bespreek, wat ’n lekker standvastige inkomste lewer.

Hulle sê die SKA het sy eie gastehuise op sy terrein waar hy baie van sy eie besoekers huisves, maar “hulle koop alles plaaslik”.

Nicolette Fourie bestuur die Carnarvon-hotel, wat jare gelede deur haar oupagrootjie begin is. Vyf van die hotel se 13 kamers word beset deur kontrakteurs wat die substasie vir die SKA bou. Verder is daar toenemende belangstelling om dié hotel, Blikkiesbar en al, te koop.

Wilhelm Biermann, plaaslike eiendomsagent van Pam Golding-eiendomme, sê die eiendomsmark is danksy die SKA beslis meer beskut teen ekonomiese teenspoed as dié in ander Karoo-dorpies. Dit het al meer as vyf gesinne na die dorp toe laat trek. Dít klink dalk min, maar in dié klein dorpie maak dit ’n groot verskil, sê Biermann.

Hy het self in 1992 ’n huis vir R75 000 gekoop. Vandag is daar nie meer ’n goeie huis vir minder as R650 000 op die dorp beskikbaar nie en onlangs het ’n eienaar ’n aanbod van R1 miljoen van die hand gewys.

Biermann meen eiendom in die dorp is nou reeds volprys en sê navrae oor sakegeleenthede neem toe. “Maar,” sê hy, “Carnarvon gaan nie nou ’n stad word nie.”

Volgens Dingile is die planne reeds goedgekeur vir ’n SKA-inligtingsentrum vir die toeriste wat wil sien waaroor al die bohaai gaan. Riley sê met dié projek gaan die SKA sowat R27 miljoen in die dorp belê.

Dít en die nuwe teerpad na Vosburg gaan die dorp baie meer toeristerande besorg, meen Liz McKinnon, eienaar van die Lemon Tree-koffiewinkel. Dit gaan reisigers tussen die noorde en die suide meer as 100 km spaar.

Sy sê met die onlangse swaar sneeu in Victoria-Wes se omgewing moes mense ompaaie ry. “Ons het ’n voorsmakie gekry van hoe dit gaan wees as die pad klaar geteer is,” sê sy. Haar omset het op die betrokke Sondag vervierdubbel.

Hoe meer koffiedrinkers Lemon Tree aandoen, hoe meer mense kan sy in diens neem, sê McKinnon.

Die SKA se bydrae is nie net in rand en sent nie. Volgens Hendrik Robyn, hoof van Hoërskool Carnarvon, het die wetenskaplikes van die SKA al dié skool se onderwysers Johannesburg toe geneem om te leer by van die skole daar. Hulle is veral gewillig om te help met die onderrig van wiskunde, wetenskap en tale en het ’n volledige rekenaarsentrum met 42 rekenaars en ’n maandelikse internetpakket aan die skool geskenk. Dit is moeilik om wiskunde-onderwysers Carnarvon toe te lok, maar die SKA het al laat blyk dat hulle bereid is om te help met ’n honorarium, sê Robyn.

Daar is ook beurse vir die kinders beskikbaar, sê hy, maar dit is ’n lang proses om presteerders op te lewer wat kwalifiseer.

Tans is die grootste uitdaging om die besef by die Karoo-kinders wat dikwels uit moeilike sosiaal-ekonomiese toestande kom, te laat insink dat naskoolse en selfs nagraadse studie werklik binne hul bereik is.

Pieter Snyman, woordvoerder van die SKA, sê die ekonomiese voordele van die SKA en sy voorgangers gaan geleidelik sigbaar raak in Carnarvon, maar daar sal veral tydens die konstruksiefase baie geleenthede wees.

Die terrein is vandeesweek aan die kontrakteur oorhandig wat ’n ondergrondse rekenaarsentrum op die SKA-terrein gaan bou en teen die einde van die jaar sal die tender toegeken word vir die bou van die skottels. Hy skat tussen 100 en 300 werkgeleenthede sal in die eerste konstruksiefase geskep word.

Die organisasie het reeds ’n databasis met 400 name van inwoners wat moontlik in diens geneem kan word. Hy sê oor twee of drie jaar sal die werklike impak van die projek baie groter wees.

Lees meer oor:    ska  |  noord-kaap
«Terug