Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Groei in SA lyk troebel

Deur: Anél Viktor 2012-06-27 23:13
Johannesburg. – Swak sakevertroue, kwynende vervaardigingsektore en druk op elektrisiteitsverskaffing vertroebel Suid-Afrika se groeivooruitsigte.

Inflasievooruitsigte lyk wel beter, sê Gina Schoeman, ekonoom vir Suid-Afrika van Absa Capital.

Absa Capital het gister sy kwartaallikse ekonomiese voorlegging gelewer.

Dié bankgroep het sy skatting van vanjaar se ekonomiese groeikoers verlaag tot 2,6%, vanaf verlede kwartaal se 2,7% en einde 2011 se 3,1%.

Schoeman sê stakings en probleme met elektrisiteitsverskaffing gaan aanhou om ekonomiese groei af te druk, maar daar is nog faktore wat bykom.

“Ons verwag nou ook matige groeikoerse vir beleggings en uitvoer weens die wêreldwye ekonomiese afswaai.”

Sy sê die land se vervaardigingsektore het verlede kwartaal gemengde resultate opgelewer, met mynbouproduksie wat drasties ingekrimp het en vervaardigingsproduksie wat na positiewe terrein begin terugkeer.

Absa Capital is versigtig oor sy vooruitsigte vir die vervaardigingsektor, veral dié wat uitvoergedrewe is.

Schoeman sê dit is weens die krisis in Europa (saam met Afrika een van Suid-Afrika grootste handelsvennote) en die reeds lae aankopebestuurdersindeks (PMI), ’n belangrike aanwyser van vervaardigingsaktiwiteit.

Boonop gaan die swakker sakevertroue vanjaar beleggingsgroei en indiensneming inperk.

Schoeman sê hoewel die rand sedert Maart met 7% teenoor die dollar verswak het, het kommoditeitspryse (veral olie) ook met soveel, of selfs meer, gedaal.

Die Brent-ruolieprys het sedert Maart met 17% gegly.

Sy sê dit lyk nou of inflasie binne die Reserwebank se teikenband sal bly. Die amptelike inflasiekoers (VPI) sal na raming teen jaareinde op 5,7% staan.

“Ons verwag ook dat die Reserwebank die rentekoers tot einde 2013 onveranderd sal hou,” sê Schoeman.

Weens matiger loonverhogings en met inflasie in bedwang, sal verbruikers se reële inkomste vanjaar met net 3,3% groei.

Groei in verbruikersbesteding sal tot 3,3% verlangsaam.

Mike Keenan, ’n geldeenheidstrateeg van Absa Capital, sê die rand sal na verwagting op mediumtermyn goed herstel.

Hy verwag die rand sal teen jaareinde tot R7,90 teenoor die dollar versterk.

Jeff Gable, ’n ekonoom by Absa Capital, sê in markte wêreldwyd is daar minder fokus op markdruk op kort termyn.

“Die fokus is eerder op dieper strukturele kwessies – ’n veel groter probleem,” sê hy.


«Terug