Kaapstad. – ’n Maatskappy wat beleggings tussen Suid-Afrika en Saoedi-Arabië bevorder en vergemaklik, is gister bekend gestel.
Een van die hoofdrywers van die onderneming, Saudi Arabian South African Holding (Sasah), is dr. Iqbal Surve, mede-voorsitter van die Saoedi-Arabië-Suid- Afrikaanse Sakekamer en voorsitter van die bemagtigingsmaatskappy Sekunjalo.
Die onderneming sal onder meer fokus op die energiesektor en “beleggingsmoontlikhede” van R20 miljard is uitgewys.
Een van die moontlikhede wat ondersoek word, is om Saoedi-Arabië se belang in gas as energiebron uit te brei deur vennootskappe met rolspelers soos Sasol in die gas-tot-vloeistof-tegnologie te sluit.
Sasah sal geleenthede in albei lande identifiseer, gesamentlike ondernemings tussen maatskappye in die twee lande fasiliteer en haalbaarheidstudies doen oor strategiese sakegeleenthede in albei lande, is gister op die mediabekendstelling gesê.
’n Konsortium sal in Suid-Afrika en ook in Saoedi-Arabië saamgestel word.
Gesamentlike ondernemings sal in albei lande in verskeie sektore, soos minerale bronne, petrochemiese bedrywighede, konstruksie, ingenieurswese, kragopwekking en landbou, gesluit word. Potensiële beleggings ter waarde van R20 miljard deur Saoedi-Arabië is uitgeken, maar Sasah moet nog gekapitaliseer word.
Sasah “is geregtig” op 5% se “gratis aandeelhouding” in enige gesamentlike onderneming wat van stapel gestuur word, volgens ’n voorlegging gister.
Sasah sal verder die eerste opsie hê op tot 20% se aandeelhouding in enige gesamentlike onderneming, met die verstandhouding dat die eerste 5% “gratis” sal wees.
’n Aanvanklike R20 miljoen sal gebruik word vir haalbaarheidstudies in sektore wat landbou, mynbou en die petrochemiese bedryf insluit.
Daar word gekyk na ’n gesamentlike onderneming in die landbou in Suid-Afrika om voedselsekerheid vir albei lande te bewerkstellig.
’n Gesamentlike onderneming in Saoedi-Arabië om die “behoeftes van die land se mynbousektor te bepaal”, sal ook ondersoek word.
Surve het as ’n voorbeeld genoem die ontginning van goudreserwes in Saoedi-Arabië benodig Suid-Afrikaanse kundigheid.
Hy wou nie sê watter Suid-Afrikaanse maatskappye reeds hul steun aan dié beleggingsmaatskappy gegee het nie.
Die strukture van Sasah moet in die volgende ses maande afgehandel wees.
Dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, het gesê die regering is reeds geruime tyd besig om nuwe vennote te soek vir belegging in Suid-Afrika.
Michael Bagraim, president van die Kaapse Kamer van Koophandel, het by navraag gesê hoewel sodanige ooreenkomste verwelkom moet word, is daar nog min vleis aan die been van dié ooreenkoms.
“Dit is eintlik maar ’n memorandum van verstandhouding wat as ’n spesiale eendoel-instelling (vir belegging) geklee is.”