Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Hogan aangestel as voorsitter van EDP

Deur: Carin Smith 2012-08-07 21:53
Kaapstad. – Barbara Hogan, voormalige minister van gesondheid en van openbare ondernemings, is aangestel as voorsitter van die nuwe Wes-Kaapse Ekonomiese Ontwikkelingsvennootskap (EDP) se direksie.

Die nuwe liggaam is ’n onafhanklike, onpartydige organisasie om ekonomiese ontwikkeling in die provinsie te bevorder.

Prof. Brian Figaji, ’n lid van die loodskomitee van die EDP, het gister beklemtoon die EDP word nie op ’n party-politieke grondslag gevestig nie.

Direksielede is vir hul ervaring in goeie samewerking en hoë emosionele kwosiënt (EQ) gekies eerder as om ’n party of organisasie te verteenwoordig.

Lidmaatskap is gratis en sowat 115 organisasies het al by die EDP aangesluit.

“Die samestelling van die direksie toon hoe belangrik diversiteit en die bou van samewerkende verhoudings vir die sukses van die EDP is,” sê Hogan.

“Die meeste regerings wil gewoonlik beheer oor prosedures behou, maar in hierdie geval wil die Wes-Kaapse regering ekonomiese groei bewerkstellig wat armes insluit.”

Op ’n vraag oor hoe Hogan die vakbond Cosatu, wat nog nie sy steun aan die EDP gegee het nie, betrokke sou kon kry, het sy gesê alle vakbonde is welkom om deel te neem.

“Aangesien deelname aan die EDP vrywillig is, staan dit Cosatu vry om te wag en kyk of hulle wil aansluit.

Die EDP is nie ’n plek waar­ ­organisasies verteenwoordig word nie, maar waar mense wat passievol is om ’n verskil te maak, saamwerk,” sê sy.
 
«Terug