Amerika se ekonomiese aanwysers toon nie hoe swaar dié land se mense steeds kry nie.
“Al het sommige algemene aanwysers – onder meer verbruikersbesteding, besteebare inkomste en betalings om skuld te diens – begin herstel, is dit duidelik dat baie individue en huishoudings nog swaarkry,” het dr. Ben Bernanke, voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed), gister in Massachusetts gesê.
Die Fed het verlede week gesê indien nodig sal hy opnuut die verswakkende Amerikaanse ekonomie stimuleer om groei te bewerkstellig en werk te skep.
Die werkloosheidskoers steek al die afgelope drie jaar op 8% vas.
Bernanke het gister nie verder oor dié beloftes of vooruitsigte vir monetêre beleid uitgewei nie maar eerder op ekonomiese maatstawwe gekonsentreer.
Die ekonomie moet “groter aandag gee aan mikro-ekonomiese data, wat maatskappye en huishoudings se uiteenlopende ervarings beter aandui”.
Navorsers moet beter en meer regstreekse maatstawwe van ekonomiese welstand ontwikkel omdat dit die “uiteindelike mikpunt van beleid is”.
Hy het gesê die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso) se inisiatief wat lewensgehalte in verskillende lande meet is ’n interessante projek in dié veld.
Sulke aanwysers neem ook elemente soos sielkundige welstand, opvoedingsvlakke, fisieke gesondheid en veiligheid, die lewenskragtigheid van gemeenskappe en tyd vir ontspanning in ag, het hy gesê.