Japan gaan as gevolg van die Europese Unie (EU) se versekeringsgerigte sanksies teen Iran in Julie geen Iranse olie invoer nie, berig Reuters.
Invoer sal wel in Augustus op ’n beskeie vlak hervat word nadat die Japanse regering self $7,6?miljard opsy gesit het om olieskepe te laat verseker.
Dié later versekerde olievragte sal Iran naby die einde van vandeesmaand verlaat.
Japan is die beleërde olieprodusent se derde grootste klant, maar die land het reeds vanjaar sy olie-aankope uit Iran met ’n derde verminder in reaksie op Amerikaanse sanksies wat, anders as dié van die EU, gemik is op finansiële instellings wat met Iran se sentrale bank sake doen.
Die VSA het Japan gedeeltelik vrygestel van sy sanksies in ruil daarvoor dat hy sy Iranse olie-aankope verminder.
Die EU-sanksies verhinder sedert Sondag Europese versekeraars om verskeepte olie uit Iran te verseker.
Weens die Europese oorheersing van dié mark veroorsaak dit dat uiteenlopende olie-invoerders nie anders kan nie as om verskeping te staak.
Suid-Korea gaan ook in Julie geen Iranse olie invoer nie, maar het nie soos Japan maatreëls ingestel om die uitwerking van die EU-sanksies te verlig nie.
Suid-Korea en Japan het in Mei gesamentlik 256?000 vate olie per dag, ter waarde van altesame $750 miljoen, uit Iran ingevoer.
“Ons is daarvan bewus dat daar geen invoer in Julie gaan wees nie,” het ’n Japanse staatsamptenaar aan Reuters gesê.
Verskepingsmaatskappye sal egter later vandeesmaand by die Japanse regering versekering kan kry, sê dié bron.
China en Indië maak daarop staat dat Iranse olieskepe hul invoer sal vervoer met die Iranse regering wat die risiko dra.
China is Iran se enkele grootste ruolie-kliënt, maar stry vanjaar self met dié land oor verskepingstariewe.
Iran se olie-uitvoer het tot dusver vanjaar met altesame 40% gedaal, sê die Internasionale Energie-agentskap.