Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Kaapstad vat Samwu hof toe

Deur: Marelize Barnard 2012-06-14 05:00
Kaapstad. – Die Kaapse stadsraad het ’n “hele klomp bewyse” van die chaos wat verlede jaar deur munisipale stakers in die middestad veroorsaak is en hy gaan die munisipale-werkersvakbond Samwu dagvaar vir dié skade.

Patricia de Lille, burgemeester, het gister verwys na die uitspraak in die konstitusionele hof oor ’n Satawu-optog in Mei 2006 in Kaapstad.

“Die reg neem sy beloop. Ek respekteer mense se reg om protes aan te teken, want ons het hard daarvoor geveg. Maar ek ondersteun nie gewelddadigheid wat uitbreek tydens optogte nie,” het De Lille gesê. Sy het die konstitusionele hof se uitspraak verwelkom en gesê die stadsraad gaan na aanleiding daarvan ook nou vir Samwu dagvaar vir die skade wat met sy optog in die middestad veroorsaak is.

“Ons het baie bewyse, nie net van skade wat aan eiendom van die stadsraad aangerig is nie, maar ook aan die stalletjies van straathandelaars.”

De Lille het gesê daar is met dié staking in Augustus skade van sowat R100 000 aangerig.

Sy het ook gesê sy glo nie die beplande skadevergoedingseise sal ’n impak hê op die huidige salarisonderhandelinge op nasionale vlak tussen die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Owerhede en Samwu nie.
 
Lees meer oor:    wes-kaap  |  staking  |  samwu
«Terug