Sake24

Kospryse kan tot dubbele slag lei

Deur: Heléne Cilliers en Reuters 2012-08-01 22:21
Johannesburg. – Stygende voedselpryse kan kommoditeitsprodusente in Afrika met ’n gevaarlike dubbele slag tref wanneer dit saamval met ’n ekonomiese verlangsaming in Europa en China.

Dit sal tot ’n afname in die uitvoer van Afrika se olie en grondstowwe lei, het Mthuli Ncube, hoofekonoom en vise-president van die Afrika-Ontwikkelingsbank (AOB), gister gesê.

Ncube het by die uitreiking van die AOB se 2012-verslag oor Afrika se ekonomiese vooruitsigte, wat vanjaar op werkloosheid onder die jeug fokus, gesê die dreigende styging in voedselpryse laat twyfel ontstaan oor die andersins positiewe groei-vooruitsigte vir Afrika.

Die AOB en ander internasionale instellings verwag dat Afrika se groei kan versnel tot 4,5% vanjaar van 3,4% verlede jaar ná ’n vertoning van gesonde veerkragtigheid in moeilike globale omstandighede.

Luidens die AOB-verslag is daar huishoudelike sowel as eksterne risiko’s (die voortgesette ekonomiese krisis in die eurogebied), politieke twis in sommige lande wat kan oorspoel na buurlande en erge weerstoestande, veral in die Sahel-streek.

Afrika-regerings kan die risiko’s verminder deur hervormings wat groei aanmoedig en maatskaplike spanning verlig.

Gesonde openbare finansies bly ’n prioriteit in lande wat staatmaak op olie-invoer.

Hulpbronryke lande moet konserwatiewe aannames maak oor toekomstige kommoditeitspryse en hulle voorberei op ’n verlangsaming deur kontant in regerings­welvaartsfondse te belê.

’n Belangrike aspek van die verslag fokus ook daarop dat werkloosheid onder die jeug aangepak moet word.

Met byna 200 miljoen mense tussen 15 en 24, het Afrika die jongste bevolking ter wêreld. Die getal sal teen 2045 verdubbel.

Om hierdie vinnige groei in mensehulpbronne in ’n geleentheid te om te skep, is ’n sterker fokus op werkskepping noodsaaklik, lui die verslag.

Baie werkgeleenthede is oor die laaste dekade geskep, maar die tempo moet aansienlik versnel word om in die vraag van Afrika se volgende geslagte te voorsien.

Luidens die verslag sal die openbare sektor nie in staat wees om die vloedgolf van jong werksoekers in te neem nie, en ook nie groot maatskappye nie.

Regerings moet erken dat die informele en landelike sektore die meeste nuwe werk sal skep en moet struikelblokke verwyder wat groei en voldoende werkskepping kan verhinder.

Om vaardigheidsprobleme te oorkom, moet onderwys en opleiding gekoppel word aan die behoeftes van die arbeidsmarkte.

Na aanleiding van bevindinge in die AOB-verslag het Ncube vroeër in Julie in Lusaka gesê die hoë voorkoms van ongeletterdheid onder Afrika se jeug is een van die faktore wat tot werkloosheid lei, asook die gaping tussen 20ste eeuse onderwysstelsels en 21ste eeuse arbeidsvereistes.

Terselfdertyd ervaar Afrika-lande toenemend die verskynsel van “opgeleide werkloses” as gevolg van massa- hoër onderwys.

Regerings moet maatreëls prioritiseer wat jong mense, wat die grootste risiko’s loop, teiken deur vakleerlingskappe en ander professionele programme vir laag-geskoolde jong mense aan te bied.

Regerings moet ook deur vermindering van maatskaplike bydraes of die bekendstelling van loonsubsidies klein, mikro- en middelslag-ondernemings aanmoedig om jong mense aan te stel, het hy gesê.

«Terug