Johannesburg. – Christine Lagarde, besturende direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), het Facebook aan die gons nadat sy gesê het die kinders van Afrika verdien meer hulp as Griekeland.
Lagarde het Grieke verlede week in ’n onderhoud met ’n Britse koerant daarvan beskuldig dat hulle gedurig probeer om belasting te ontduik.
Sy het gesê Griekse ouers moet verantwoordelikheid daarvoor aanvaar dat hul kinders deur besuinigingsmaatreëls geraak word deur belasting te betaal.
“Ek dink eerder aan die kindertjies op skool in ’n klein dorpie in Niger wat net twee uur per dag ’n onderwyser het en ’n stoel tussen drie van hulle moet deel,” het sy gesê.
Lagarde het Niger in Desember verlede jaar besoek en was in Januarie vanjaar in Suid-Afrika.
Grieke het Lagarde se Facebook-blad ná die onderhoud oorval met beledigende kommentaar oor die besuinigingsmaatreëls wat die IMF en Europese Unie (EU) van Griekeland vereis.
Griekse politieke partye – sowel dié wat vir as teen besuiniging is – het Lagarde ook aangeval.
Lagarde het Saterdagaand op dié kritiek reageer en gesê dat sy steeds baie simpatiek is teenoor die Griekse bevolking.
“Dit is waarom die IMF Griekeland ondersteun in sy huidige pogings om die krisis te oorkom . . .
“ ’n Belangrike deel hiervan is dat almal, veral dié wat meer bevoorreg is, hul regmatige deel van die las moet dra deur belasting te betaal. Dít is die punt wat ek probeer maak het.”
Dié uitlating het teen gistermiddag reeds meer as 20 000 reaksies op Lagarde se Facebook-blad ontlok en nuwe kommentaar was steeds besig om in te stroom.
Grieke het die blad as ’n forum gebruik om verder mond uit te spoel oor besuiniging en Lagarde uitgedaag om te probeer oorleef op die kleiner staatsalarisse en pensioene wat hulle nou ontvang.
Facebook-gebruikers uit die res van die wêreld, en veral Duitsland, het egter nie geskroom om Lagarde te verdedig nie. Hulle meen Grieke kan kwalik kla terwyl die res van Europa steeds hul regering se rekeninge betaal.