Die selfoonnetwerk MTN is in ’n gesaghebbende peiling aangewys as Afrika se waardevolste handelsnaam.
Die groep beklee die 88ste plek op BrandZ se lys van die 100 waardevolste internasionale handelsname. Die peiling word gedoen deur ’n opname onder 150 000 mense wêreldwyd en is geskep deur die navorsingsagentskap Millward Brown Optimor.
MTN is die enigste Afrika-handelsnaam op die lys.
Dit kom kort op die hakke van ’n soortgelyke peiling – die Brand Finance Global 500 – wat die maatskappy as die 188ste waardevolste handelsnaam ter wêreld aangewys het. Dit is ’n verbetering van 12 plekke in vergelyking met dieselfde peiling verlede jaar.
Jennifer Roberti, MTN se bemarkingshoof, sê BrandZ se erkenning beteken baie vir die maatskappy, veral omdat MTN, wat in 1994 gestig is, steeds ’n redelik jong handelsnaam is.
“MTN belê al sedert 1994 in Afrika en doen wesenlike beleggings in die infrastruktuur, produkte en dienste wat uniek is aan ons kliënte,” sê sy. Dit sluit in finansiële dienste soos MTN Mobile Money en Pay As You Go.
“MTN beskou die peiling as ’n bewys van die bydrae wat ons handelsnaam lewer om die lewe van ons gemeenskappe en gebruikers aan te raak.”
MTN is bedrywig in 21 lande in Afrika en die Midde-Ooste.
Die maatskappy het in sy mees onlangse jaarverslag gesê hy het 164,6 miljoen intekenare en ’n omset van R121,9 miljard per jaar.
MTN borg veral sport en musiek in Afrika. Dit sluit in vier professionele sokkerspanne in Suid-Afrika, die MTN Super 8- kompetisie en verskeie sokkerspanne elders op die vasteland.
Aan die musiekfront borg die maatskappy onder meer die MTN Samas (die Suid-Afrikaanse musiektoekennings) en die MTN Bushfire-fees in Swaziland.