Johannesburg. – Die ruilwaarde van die rand is die belangrikste veranderlike wat die inflasiekoers in Suid-Afrika kan opdruk.
Gill Marcus, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, het gister ná die vergadering van die monetêrebeleidskomitee (MBK) gesê die ruilwaarde van die rand kan verder verswak as gevolg van die voortslepende skuldkrisis in Europa. Dit sal opwaartse druk op die inflasiekoers plaas.
Die MBK het nietemin aangekondig dat die repokoers en die prima koers onveranderd bly op onderskeidelik 5,5% en 9%. Die vorige rentekoersverandering (’n verlaging) was 18 maande gelede, in November 2010.
Dalings in rentekoerse word gewoonlik gebruik om ekonomiese groei aan te wakker en hoër koerse om inflasie te temper.
Marcus het gister gesê die ruilwaarde van die rand is onder druk weens die onstuimigheid in die finansiële markte, maar die druk op die inflasiekoers word in ’n mate getemper deur die daling van die internasionale olieprys.
Sy sê egter die mate waarin die randwaarde deurspoel na die inflasiekoers sal afhang van hoeveel die ruilwaarde verswak en hoe lank die daling duur.
Marcus sê kerninflasie is in ’n matige stygfase, maar die MBK meen nou die inflasiekoers het op 6,1% in die eerste kwartaal van vanjaar die boonste draaipunt bereik. Vroeëre aanduidings was dat die inflasiekoers in die tweede kwartaal van vanjaar die boonste draaipunt van 6,5% sou bereik.
Die MBK het sy raminge aangepas en verwag nou dat die gemiddelde inflasiekoers in die tweede kwartaal van vanjaar 6% sal wees en daarna stelselmatig sal daal tot binne die teikenband van tussen 3% en 6%.
Marcus sê die gemiddelde inflasiekoers vir vanjaar sal na verwagting 6% wees en afplat tot 5,5% aanstaande jaar en 5% in 2014. Kerninflasie sal na verwagting in die tweede kwartaal van aanstaande jaar die boonste draaipunt van 5,5% bereik.
Marcus sê die afwaartse aanpassing in die inflasiekoers spruit uit die laer as verwagte inflasiekoers vir die eerste kwartaal van vanjaar.
Die MBK het sy vooruitsigte vir ekonomiese groei vir vanjaar tot 2,9% aangepas, mits ’n verlangsaming in die Europese ekonomie nie verder uitkring en die streek se handel met Suid-Afrika knou nie.
Pravin Gordhan, minister van finansies, het vroeër vandeesmaand gesê sy departement het die ekonomiese groeikoers vir vanjaar afwaarts aangepas tot 2,7% weens die uitwerking van die Europese skuldkrisis en die uitwerking wat ’n moontlike resessie in dié gebied op die Suid-Afrikaanse ekonomie kan hê.
Ekonome se reaksie:Dennis Dykes, Nedbank: Baie beleidmakers wêreldwyd is baie, baie bekommerd oor die Europese krisis en wat in die volgende maande gaan gebeur. Dit skep die moontlikheid van ’n verslapping van monetêre beleid.
Dave Mohr, Citadel: Die MBK is beslis meer bekommerd oor die vooruitsigte vir groei, want daar is tekens dat die Suid-Afrikaanse en die wêreldekonomie stadiger groei.
Gina Schoeman, Absa Capital: Die MBK is nie uitermate besorg oor inflasie nie, maar is onseker oor die bedreigings.
Kevin Lings, Stanlib: Die boodskap van die MBK sinspeel daarop dat rentekoerse lank onveranderd sal bly.
lna Moolman, Renaissance Capital: Ons verwag dat die rentekoerse tot laat aanstaande jaar onveranderd sal bly.