Johannesburg. – Politieke onsekerheid wek toenemend kommer onder
sakeleiers in Suid-Afrika en beïnvloed hul sakebesluite al hoe meer.
In sommige gevalle is die politieke onsekerheid ’n dryfveer vir die
besluit om te emigreer.
Die International Business Review van Grant Thornton oor
saketoestande in die derde kwartaal toon dat kommer oor politieke onsekerheid
sedert verlede jaar met 23 persentasiepunte toegeneem het – altesame 70% van die
sakeleiers is nou bekommerd oor die uitwerking wat dit op hul ondernemings kan
hê.
Vir sakeleiers in vier provinsies in Suid-Afrika wat aan die
peiling deelgeneem het, is misdaad steeds die grootste bedreiging omdat dit
ondernemings onder finansiële druk plaas en ook ’n dryfveer is vir
emigrasie.
Die swak gehalte van gesondheidsorg is die ander kwessie waaroor ál
meer sakeleiers bekommerd is. In die jongste peiling het 48% aangedui dat hulle
besorgd is daaroor vergeleke met 22% verlede jaar.
Deepak Nagar, nasionale voorsitter van Grant Thornton in
Suid-Afrika, sê misdaad plaas erge druk op maatskappye. “Die grootste
finansiële impak van misdaad op ondernemings is die styging in die koste van
veiligheidsmaatreëls.”
Afgesien daarvan ly ondernemings ook weens demotivering en ’n
verlies aan produktiwiteit en vindingrykheid. Dit speel ook ’n groot rol in die
besluite van mense om te emigreer, sê hy.
Ander faktore wat onder sakeleiers belangrike oorwegings is in
besluite om te emigreer, is die agteruitgang in gesondheidsorg en
opleiding.
Altesame 22% van die uitvoerende hoofde van maatskappye in Gauteng
het aangedui dat hulle emigrasie oorweeg.
Nagar sê afgesien van die negatiewe uitwerking wat politieke
onsekerheid op ondernemings het, dien dit as aansporing om hul bemagtigingstatus
(SEB) te verbeter.
“’n Toenemende aantal respondente het aangedui dat hulle
hulself so goed moontlik posisioneer deur hul SEB-status te verhoog.”
Die politieke onsekerheid is deur sommige sakeleiers ook aangedui
as rede waarom hulle dit oorweeg om hul onderneming te verkoop.
Uit die navorsing blyk dit dat swak dienslewering nou op meer
ondernemings ’n negatiewe uitwerking het as in 2011. Die grootste toename was in
Gauteng, waar 49% van die respondente aangedui het dat die agteruitgang in die
verskaffing van nutsdienste hul onderneming geraak het.
Die grootste probleme
word ervaar met die verskaffing van nutsdienste, veral gas en elektrisiteit.
Ander probleme gaan oor rekeninge vir munisipale tariewe, die swak toestand van
paaie, omkopery, korrupsie, wanbestuur en stakings wat dit vir werkers moeilik
maak om by die werk te kom.
Sakeleiers het aangedui rompslomp weens ál meer regulasies (40%) en
’n gebrek aan vaardigheidsontwikkeling (37%) is die grootste
struikelblokke.
Nagar sê dié probleme moet dringend aandag kry om ondernemings toe
te laat om te groei.
Al is sakeleiers in Suid-Afrika bekommerd oor verskeie kwessies en
groot uitdagings, is hulle in sommige opsigte beter daaraan toe as hul eweknieë
in die res van die wêreld en in Brasilië, Rusland, Indië en China (Bric).
Die grootste verskille tussen Suid-Afrika en die Bric-lande is
makliker toegang tot bedryfskapitaal hier, die vraag na produkte het nie so
skerp gedaal nie en die infrastruktuur vir tegnologie is nie so beperkend
nie.
Vernaamste bevindinge
- 49% van Suid-Afrikaanse ondernemings is in die derde kwartaal deur
misdaad geraak, die meeste in KwaZulu-Natal en die minste in die Wes-Kaap;
- Misdaad is die belangrikste faktor in die besluit om te emigreer
(74%), maar politieke onsekerheid speel ’n al hoe groter rol (70%);
- Politieke onsekerheid speel ’n rol in die verbetering van swart
bemagtiging, wat sedert 2011 met 8 punte toegeneem het, maar dit vertraag ook
sakebesluite;
- Swak dienslewering raak 57% van Suid-Afrikaanse ondernemings – gas
en elektrisiteit wek die meeste kommer;
- Rompslomp en ’n gebrek aan vaardighede is die grootste remskoene
vir ondernemings; en
- Suid-Afrikaanse ondernemings (51%) is meer optimisties as hul
eweknieë in die Bric-lande.