Sake24 WEBWERWE/DIENSTE >

Moody's meer optimisties ná Mangaung

2012-12-22 22:34
Die graderingsagentskap Moody’s sê die beleidsrigting waarop die ANC op sy pas afgelope nasionale beleidskonferensie besluit het, is goed vir beleggings en die sakegemeenskap.

Kristin Lindow, senior vise-president van Moody’s, sê dit is positief dat die makro-ekonomiese en fiskale beleid nie verander is nie.

Sy sê egter dat Moody’s nie Suid-Afrika se soewereine gradering sal kan aanpas nie voordat daar duidelikheid is oor wat presies bedoel word met “strategiese staatseienaarskap” en hoe die meevallerbelasting op myne gaan werk.

Die ANC het die begrip “strategiese nasionalisering” verander na “strategiese staatseienaarskap”.

Moody’s het verlede maand die vooruitsig vir Suid-Afrika se staatskuld van stabiel in negatief verander en die gradering aangepas tot een trappie bo rommelstatus.

Lindow sê daar is onsekerheid oor hoe die meevallerbelasting en strategiese staatseienaarskap die sukkelende mynboubedryf en beleggings gaan raak.

’n Belangrike verandering wat uit die konferensie spruit is dat die herverkiesing van pres. Jacob Zuma hom meer verantwoordbaar maak vir die sukses of mislukking van die ekonomiese ontwikkelingsplan, al is sy posisie versterk deur sy herverkiesing.

Moody’s sê die groot steun wat die nasionale ontwikkelingsplan kry, is positief vir die kredietgradering.

 
Lees meer oor:    moody's  |  anc  |  mangaung
«Terug